DEON SE ONTBEENDE SPRINGBOKBOUD


DEON SE ONTBEENDE SPRINGBOKBOUD
Ek het ‘n springbokboudjie gebak waaroor die gaste gaande was.
1 springbokboud
karringmelk
vars roosmaryn
vars koljander
vars “chives”
slaphakskeentjies (Klein ingelegte uitjies)
sout en swartpeper
groot velle varkspek
8 naeltjies
1 pakkie bruin uie sop
fyn ingelegde knoffel
1 koppie rooiwyn
tou vir vasbind
Ontbeen die boud en sny in die lengte oop. Laat lê in karringmelk vir 2 dae in die yskas.
Verwyder die karringmelk en “stop” met die roosmaryn, koljander, “chives” en slaphakskeentjies, sommer mildelik, moenie skaam wees nie, veral nie met die slaphakskeentjies nie.
Sprinkel met sout en swartpeper.
Vou toe en draai groot velle varkspek om, bind vas met toutjies. Sit so 8 naeltjies tussen die vleis en die varkspek ingedruk.
Smeer dan die buitekant met die pakkie bruin uie sop en fyn ingelegde knoffel. Plaas nog vars kruie buite op net vir die lekker en die mooi.
Bak ‘n paar ure in ‘n toe vleisbak in die oond by 180 ºC.
Sodra dit gaar toets, gooi die sous af dat dit koud word en die vet bo-op stol.
Haal die koue vet op die sous af en gooi 1 koppie rooiwyn by en meng met die sous. Kook sous lekker deur en gooi oor die boudjie. Sit terug in die oond vir ‘n rukkie dat die sous goed warm word, skep uit in opdien skottel en gooi sous oor die boudjie. Bedien.
Resep en foto: Deon Huysamen










