OM TE VOORKOM DAT WARM VET SPAT

chips

OM TE VOORKOM DAT WARM VET SPAT
Ek het vandag iets by my ou wyse moeder Hettie Claassen geleer.
As jy chips of vis of enige iets maak in diep olie, voeg 2 tot 3 eetlepels witasyn in jou olie.
Jou vis of chips trek glad nie olie nie en daar is niks vetspatsels oral nie asgevolg van die asyn wat in die olie is. Probeer gerus glo my dit werk.
Uit die warm karoo
Jorina Smiley Claassen Barlow




VIR BETER BESKUIT TEKSTUUR

VIR BETER BESKUIT TEKSTUUR
Vir beter tekstuur kan die botter gesmelt word tot kookpunt.
Voeg die suiker daarby en klits met elektriese klitser totdat die suiker opgelos is.
Voeg dan die karringmelk by en klits weer goed en dan die eiers.
Klits tot lekker romerig en meng dit dan met die meel.
Wenk: Olga Jacqueline Seaward




BESTE METODE OM ENIGE KOEK TE MENG

tested

BESTE METODE OM ENIGE KOEK TE MENG
Nota:
Bakpoeier is laaste bestanddeel voor jy in oond sit – nie minuut voor dit.

Hierdie is die metode, maak nie saak wat jy maak nie, daar is net 1 metode:
Jy maak so, ongeag wat metode sê:
Skei ALTYD eiers – klits dan eiergeel, suiker en sout tot dit vreeslik romerig, donsig en baie liggeel is.
As resep botter verlang, is dit die volgende om by te voeg.
Meng dan al die droë bestanddele saam – NIE BAKPOEIER, KOEKSODA, ENS NIE.
As daar kakao moet inkom – meng met vloeistof.
Vou nou die vloeistof bietjie, bietjie by eiermengsel saam met die droë bestanddele – nie klits nie – INVOU!
Klits eierwitte styf, maar nie droog – vou dit NOU in tot omtrent alles gemeng is.
Vou nou die bakpoeier in.
Die geheim is die geklitste eier en baie min beweging aan deeg.
Moet ook nie pan skud om borrels uit te haal soos jou OU juffrou ons geleer het.

Voor mens jare terug die ‘wanabe koekmeel’ so gekoop het, het ‘n tannie wat vir tuisnywerheid gewerk het my die metode gegee. Ek lees nie eens meer die koeke se metodes en girl, al kom daar net ‘n halwe koppie meel in, DIE KOEK RYS DIE BAK VOL.
Bron:  Joyce Koen
Foto:  Ilona Turner




OM DIE KOEKSISTERS TE LAAT BLINK

KOEKSISTERS CECILIA
OM DIE KOEKSISTERS TE LAAT BLINK
Kan jy 2 groot lepels gekoopte stroop by jou stroop voeg sodra klaar gekook, dit gee die koeksisters ‘n mooi blink glans en ‘n mooi dieper bruin kleur!




EIERWIT VIR TERTJIES

eierwit

Ek maak my eierwit met gesmelte suiker (warm suiker stroop) wat ek byklits as ek styf klits, dan is jou eierwit ook dadelik gaar en kan jy net mooi bruin maak en nie bekommer oor gaar kry, het dit eendag op ‘n kook program op tv gesien en werk soos ‘n bom.

Carli Bensch



BEHANDELING VAN NUWE GIETYSTERPOT

BEHANDELING VAN NUWE GIETYSTERPOT
GESKRYF DEUR IAN LAING:
Die inbrand van ‘n nuwe pot:
Wanneer ‘n nuwe pot aangeskaf is, kan dit soos volg behandel word. Maak ‘n redelike groot vuur en gooi binne-in die pot ‘n klomp kole. Laat brand vir ongeveer 30 minute. Die rede hiervoor is om die tipe vernis wat die vervaardigers gebruik om te verhoed dat die pot roes, af te brand.

Haal dit dan van die vuur en laat dit stadig afkoel. (Wanneer daar koue water by ‘n baie warm leë pot gevoeg word, kan die pot kraak) Skuur die pot daarna met skuurpapier, sand of as totdat dit begin blink. Kook vervolgens een koppie sout en 2 koppies asyn met die pot driekwart gevul met water vir sowat 30 minute.

Herhaal nog ‘n keer. Spoel die pot deeglik uit en skuur alle growwigheid met skuurpapier tot ‘n redelike gladde oppervlak verkry is.
Kook nou groenteskille en blare in ‘n pot driekwart vol water, waarin daar weer ‘n koppie sout en asyn bygevoeg is, vir ‘n verdere halfuur. Baie mense beweer dat ‘n pot hierna met olie gesmeer moet word, maar dan is die kanse goed dat die pot galsterig kan raak. Spuit eerder die pot met Spray&Cook.  Die pot is nou gereed vir gebruik. Dit is egter belangrik om die pot elke keer voor gebruik goed skoon te kook.

Charl Nienaber”
Vir die potjie pot:
Toe ek my eerste een gekoop het, het my Oupa gesê ek moet dit met ‘n hoekslyper (angle grinder) bykom binne. Ja, ek het my gesig ook so getrek.
Ek het lekker warm vuur gemaak en die pot opgesit, toe dit nou mooi warm was, toe gooi ek so 4 grof opgekapte uie met ‘n klomp olie in. Die besigheid gaan vreeslik rook en moontlik aanbrand maar maak maar klein ogies en roer dat dit bars!
Wanneer jy dit nou nie meer kan hanteer nie (so 15 minute), haal die pot van die vuur af en laat dit staan en koud word. Was dit dan met goldy locks (daai growwe pot skuurder) en gewone sunlight seep. Was dit so 3 keer. As jy ‘n skoon papier handdoek binne vryf moet dit skoon uitkom. Smeer die pot bietjie olie dat dit nie roes nie en daar’s hy! Reg vir potjiekos!

Jan Wiehman:
Alle nuwe gietyster panne of potte skuur ek eers deeglik, was en smeer ‘n ligte lagie kookolie binne en buite, dan in baie warm oond vir 2 tot 3 uur. Nonstick vir lank! Bêre met koerantpapier binne tot volgende gebruik.




10 BAK EN BROU WENKE

sjokolade koek

10 BAK EN BROU WENKE
Bestanddele is peperduur, en mens wil tog nie he jou klam sjokolade koek moet soos droog wurg beskuit afgaan nie.
OF hoekom proe my suurlemoentert dan nie soos tant Sannie s’n nie, ek het die resep dan by haar gekry?
1. Bestanddele MOET altyd vars wees. En as jy wil uithang, sorg dat jy die beste bestanddele gebruik al is dit ook bietjie duurder.
As jy jou vars koekmeel in houers gooi, skryf die datum met ‘n afvee-bare koukie pen op die houer.
2. Wanneer jy enige iets koop, sit jou leesbril op en kyk na die vervaldatum. Hoeveel brode het nie al NIE gerys nie en die suurdeeg was “vandag” gekoop nie?
Maak nie saak wanneer jy dit gekoop het nie, check die vervaldatum in die winkel ! Doen so met die meel en eiers en alles wat jy koop.
3. Wanneer die resep lees .. 250ml melk, MOENIE ‘n beker of een van jou koppies gebruik om af te meet nie OF erger nog, skat nie. Gebruik ‘n maatbeker en
en meet presies 250ml af. Twee teelepels bakpoeier, beteken 10ml. Ek het al dames gesien wat sommer 2 opgehoopte teelepels gebruik, dan rys die skons op die pannetjie.
4. Maak 100% seker jy het al die bestanddele in jou spens VOORDAT jy begin bak. Die resep lees 500ml suiker, skielik het jy net 300ml suiker, MOENIE
versiersuiker of bruinsuiker vir die ander 200ml gebruik nie. OF die resep se 4 eiers, manlief of die kinders het dalk al 2 geeet, en nou dink jy “ag ek gaan
maar net die 2 gebruik, dit sal nie skade doen nie” DIT DOEN. ‘n Resep is ‘n formule en jy moet by daai formule hou anders gaan dit inval of kluitjie raak ens.
5. Lou water is water waar jy jou vinger kan indruk en dit voel nie koud of warm nie. STERK louwater is warm water wat jy kan voel DIS nou warm. Dit is NIE kookwater nie.
6. As jou resep vra BOTTER gebruik botter en nie margarien nie. Baie resepte lees darem botter of margarien.
7. Maak seker jou oond werk reg.
8. Hou jou nuwe vars bestanddele vars deur hulle in ‘n lugdigte tupper houer te stoor met die datums opgeskryf.
9. LEES jou resep eers ten minste 2 maal deur voor jy enige iets begin doen en maak seker jy verstaan wat om te doen.
Nie hier en daar ‘n woord skiep nie. Lees hom, ek het op die harde manier geleer.
10. As jy al hierdie dinge doen, kan jou gebak nie flop nie. Lekker bak.

Petra Pretorius




GOEIE EIER WENK

Eiers

GOEIE EIER WENK

Tip wat werklik werk:- sit bietjie sout in die olie wat jy eiers in bak, dit laat die eier nie in die pan vas sit nie!

Geplaas deur Andrieshia Gray




LEKKER SAGTE MARGARIEN

tested

LEKKER SAGTE MARGARIEN
Neem 500 gm margarien
1 koppie koue water
1 koppie olie
1 teelepel sout

Laat die margarien sag word (nie in die son of mikrogolf nie) As dit sag genoeg is voeg die bestandele by en klits goed met elektriese klitser.
Jy sal 1kg. margarien kry. Dit kan net nie vir koekbak gebruik word nie. Dit is altyd sag om te smeer.
Geplaas deur Delene Lange Mostert
Foto:  Jane Lerm




WASMENGSEL VIR KOMBERSE

FLR BB Anything goes
WASMENGSEL VIR KOMBERSE

Vermeng
675g waspoeier
250 ml brandspiritus
20 ml bloekomolie
Bewaar dit in ‘n digte houer. Los ‘n koppievol van die seepmengsel in ‘n bad water op en week vuil komberse ‘n rukkie daarin.
Druk-druk die komberse dat dit goed deurweek kan word. Spoel komberse in skoon water uit en hang dit op om droog te word.
Nota: Die bloekomolie in die mengsel laat nie net die komberse skoon en vars ruik nie, maar verdryf ook silwermotte.

Kosmater