


RITA SE SONNEBLOMSAAD SPRUITE
(MICRO GREENS)
Neem ‘n plat houer soos die water opvang bakkie wat onder potplante kom. Daar hoef nie gaatjies in te wees nie want jy gaan die plantjies net klam hou. Gooi ‘n lagie grond onder in die houer. Ek gebruik “potting soil” anders kom daar klomp onkruid saam die saad op.Dit hoef nie meer as so 2 tot 3cm diep te wees nie want jou plantjies gaan nie lank daarin groei nie; hulle word gou genoeg opgeeet! Sonneblomsaad werk baie goed en is heerlik saam met slaaie.Gooi lagie saad oor die grond en kyk dat jy dit min of meer eweredig versprei. Hierna gooi jy dun lagie grond bo-oor om saad te bedek. Spuit goed nat met spuitbottel en hou dit sommer by jou bakkie want jy gaan dit elke dag moet natspuit. Die grond droog gou uit omdat dit so vlak is.Ek vind dat ‘n lagie sand beter werk as die grond. Veral vir klein saadjies wat sukkel om die grondlaag te breek. My lynsaad kom oneweredig op omdat dit sukkel om ‘n swaar laag grond te breek. Nou terug na wat jy moet doen: Nadat jy dit benat het plaas jy ‘n plastiese deursigtige sakkie bo-oor jou bak. Ek gebruik daardie dun plastiese snyplaatjies wat mens by “mal stoor” koop. (Weet nie of ek die naam hier mag sê nie maar vertaal dit direk in engels dan weet jy.)Die plastiek keer dat die grond te gou uitdroog maar jy moet dit afhaal wanneer jou plantjies begin kop wys, anders belemmer dit hul groei. Dit neem so 3 dae(of bietjie langer), afhangende van die soort saad, vir die saad op op te kom, afhangende van die klimaat. In die winter het ek dit in my eetkamer voor die venster wat lekker son kry deur die kantgordyne. Daglange direkte son veral in die somer kan jou tere plantjies brand. Dan wag mens maar tot hulle mooi plantjies is voor jy dit gebruik. Hulle sê tot die plantjies ‘n tweede stel blaartjies kry maar by sonneblom knip ek gouer. Sien my foto.
Ek gebruik onuitgedopte sonneblom saad wat mens by die ko-operasie kry. Die wat vir pluimvee kos verkoop word.Dit betaal nie om saad in kleinmaat te koop nie; dan is jou microgreens te duur. Al wat ek in grootmaat kan bekom is die lynsaad en sonneblomsaad. Ek weet nie of saad wat die boere saai gebruik kan word nie want dis met gif behandel. Ek is nie seker of dit nadelig is en hoe lank die gif in die plantjie bly en of dit verdwyn soos die plantjie opkom nie. Miskien kan kundiges op die gebied mens sê? Jy kan ook die saailinge oes en in ‘n plastiese bak in die yskas hou tot benodig. Dit hou tussen 3 en 5 dae goed. Maar die ouens moet maar eksperimenteer en kyk. Ek is ook nog nuut op die gebied en besig om te leer maar die sonneblom is elke keer ‘n sukses. Jy kan dit ook op toebroodjies sit soos mens slaaiblare sou gebruik. Kyk ook in tydskrifte by die kosrubrieke: ek het al van hulle versierings herken as mikro-groeisels. Verskillende sade kan gebruik word: radys, kool, broccoli, lusern ens. Dis jou eie keuse maar soos ek sê; die prys van die saad bepaal of ek dit gebruik of nie. Klein pakkies saad by ons is al R18 en daar is nie veel saad in nie.Die vriende wat belangstel om meer te weet kan gerus op youtube gaan kyk onder “growing microgreens” Daar is oulike videos en idees hoewel hulle eers hul sade laat “sprout” in n bottel, doen ek dit nie. Ek is te haastig! Geniet dit, ek doen en ek is glad nie ‘n groot tuinier nie. En die feit dat jy ‘n klein plekkie daarvoor nodig het is nog ‘n pluspunt.
SLAAI
ek sny n paar selderystingels in skyfies, appels in bokkies, pampoenpitte of neute, en meng met bietjie mayonaise, mosterd. Die saailinge maak ek self in n plat vlak bak.
Bron en foto: Rita Van der Baan