

SPEKVLEIS EN BROCCOLI QUICHE
Kors:-
250 ml (1 koppie) koekmeel, gesif voordat dit afgemeet is
125 ml (½ koppie) hawersemels
45 ml (3 eetlepels) lite margarien
1 ml (¼ teelepel) sout
1 eier
45 ml (3 eetlepels) yswater
Vulsel:-
1 x 410 g-blik klein wit boontjies, gedreineer
250 ml (1 koppie) broccoli-blommetjies, in klein stukkies gesny
8 repe maer spekvleis, gekap
1 groot ui, fyn gekap
3 eiers
100 ml afgeroomde melk
150 ml ongegeurde laevet-jogurt
Sout en peper na smaak
2 ml (½ teelepel) mosterdpoeier
100 ml gerasperde mozzarellakaas (2 vuurhoutjiedosies)
5 ml (1 teelepel) gerasperde parmesaankaas
Vir die kors:-
Vryf die meel, hawersemels, margarien en sout saam tot die mengsel soos broodkrummels lyk.
Meng die eier en water. Voeg n eetlepel eiermengsel op n slag by die meelmengsel en meng tot n sagte deeg. Voeg nog meel by indien dit klewerig raak. Bedek en verkil sowat 20 minute.
Rol uit en vier n gesmeerde pasteibak daarmee uit, of druk die deeg met jou vingers in die bak.
Vir die vulsel:-
Dreineer die boontjies en versprei dit egalig oor die kors. Strooi die broccoli egalig oor die boontjies.
Braai die spekvleis en ui sonder enige olie of ander vet in die pan. As dit vassit, voeg n bietjie water by en roer.
Klits eiers, melk en jogurt saam. Voeg sout en mosterd by. Voeg ui en spekvleis by, roer en giet oor quiche. Strooi kaas oor.
Bak 25 tot 30 minute teen 180ºC tot die vulsel gestol is
Let daarop dat die quiche steeds 12 g vet per porsie bevat, selfs al word daar min vet in die voorbereiding gebruik.
Voedingstowwe per porsie:- …. Glukemiese indeks 48 … Vet 10 g … Koolhidrate 30 g … Vesel 5 g … Proteien 14 g … kJ 1196 ….
Een porsie is gelyk aan 2 proteien, 1 ½ stysel, en 1 beperkte groente
Foto: Petré Van Jaarsveld
All people with any type of diabetes who wish to use our recipes, should do so in consultation with their diabetes healthcare team. If you have diabetes it is important to know your risk factors.
Persone met enige tipe diabetes wat ons resepte wil gebruik, moet dit in oorleg met hul diabetes-gesondheidsorgspan doen. As jy diabetes het, is dit belangrik om jou risikofaktore te ken.