

APPELTERT MET VARIASIES
Hier is my gunsteling resep vir appeltert – dit is regtig blitsvinnig om te meng en jy moet baie hard probeer om dit te laat flop. Probeer gerus een van die vier heerlike sous-kombinasies. Appeltert behoort louwarm met room of roomys geëet te word, maar hoe jy hom eet hang net van jou af!
BASIESE APPELTERT
250 ml koekmeel
125 ml witsuiker
20 ml bakpoeier (dit klink baie, maar dit is reg)
2 ml sout
125 ml melk
35 g botter of margarien
1 eier
410 g-blik onversoete tertappels
Voorverhit die oond tot 180ºC. Spuit ’n oondvaste tertbord met kleefwerende middel of smeer met margarien. Sif die meel, suiker, bakpoeier en sout saam in ’n mengbak.
Smelt die margarien in die melk (ek doen dit sommer in die mikrogolf). Gooi die melkmengsel oor die meel en roer vinnig deur. Klits die eier effens en gooi dit by. Klits vinnig met ’n handklitser tot die deeg goed gemeng en glad is.
Dreineer die tertappels (indien nodig) en sny dit bietjie kleiner. (Ek druk sommer ’n skerp mes in die blikkie en druk dit ’n paar keer deur die appels.) Skep twee groot lepels van die deeg in die tertbord en maak gelyk. Rangskik die tertappels in ’n enkellaag bo-op die deeg. Skep nou die res van die deeg bo-oor die appels en maak gelyk. Bak in die voorverhitte oond vir ongeveer 30 minute of tot ’n toetspen skoon uit die middel van die tert kom.
VARIASIES:
Sprinkel 5 ml fyn kaneel bo-oor die appels voordat jy die deeg oorskep.
Sprinkel 125 ml pitlose rosyne of sultanas oor die appels.
Ek het die tert al met sukses gemaak met ingemaakte pere, koejawels (skep net eers die pitte uit) en perskes. Laasgenoemde is heerlik met vla.
Terwyl die tert bak, berei een van die volgende souse. Druk ’n paar gaatjies met ’n vurk in die tert en giet die sous warm oor die tert sodra dit uit die oond kom.
SOUSE
HEUNINGSOUS
50 g botter of margarien
50 ml heuning
Smelt alles saam en roer deeglik tot gemeng.
KARAMELSOUS
1 blik ingedampte melk (Ideal)
125 ml suiker
5 ml karamelgeursel
Kook alles saam en roer gedurig terwyl dit gekook word.
KARAMEL KONDENSMELKSOUS
100 ml karamel kondensmelk (Caramel Treat)
250 ml melk
Plaas die kondensmelk en melk in ’n kastrolletjie en verhit totdat die kondensmelk gesmelt is. Roer die mengsel aanhoudend en pasop vir aanbrand! Of: Plaas die kondensmelk en melk in ‘n mikrogolfvaste beker en mikrogolf op hoog tot die mengsel warm is en die kondensmelk gesmelt is. Ek het gevind die enigste manier om dit glad te kry, is om dit met ‘n blender stick te whizz; om een of ander rede los karamel kondensmelk nie sommer net op nie.
EKONOMIESE MELK-EN-BOTTERSOUS
125 g margarien
250 ml suiker
125 ml melk (jy kan dit vervang met room)
5 ml vanillageursel
Smelt alles saam.
WENKE:
Jy hoef nie noodwendig tertappels in ’n blikkie te gebruik vir hierdie resep nie. Jy kan self appels kook, wat ideaal is as jy goedkoop appels in die hande kan kry of ’n paar appels het wat melerig geraak het.
Maak so om jou eie appels te kook:
Skil die appels en sny in kwarte. Plaas die appels in ’n kastrolletjie met 125 ml water (geen suiker) en laat stadig prut vir 15-30 minute of tot dit sag is. Dreineer en laat afkoel. Jy het so 400 g gekookte appels nodig vir die resep.
Jy kan ook jou gekookte appels vries. Plaas 400 g appels in ’n toerits-sakkie, druk ’n strooitjie in die sakkie sodat die een punt binne die sakkie is en die ander na buite, en trek die sakkie toe.
Suig die lug met die strooitjie uit die sakkie en plaas in die vrieskas. Jy kan pere op dieselfde manier voorberei en gebruik in plaas van appels.
Jy kan enige van die souse in die mikrogolf maak: Plaas die bestanddele in ’n mikrogolfbestande beker of bak van glas (omdat enige sous met suiker en/of margarien baie warm word in die mikrogolf, sal dit plastiekware smelt). Mikrogolf op hoog vir so twee minute of tot alles gesmelt is en net-net begin kook. Roer elke 30 sekondes. As daar margarien in die sous is, moet jy dit kook tot die margarien helder is, anders maak dit ’n baie onaptytlike vetlaag bo-op die appeltert.
Resep geplaas deur Ronell Muller Boshoff
Resep: Leanda Retief se resepte
Foto: Rina Kleinhans
Ek het gekapte neute binne en bo-oor gestrooi en op die appellaag kaneel, en ek het die botter en heuning gemeng met 125 ml room, die sous was vir my bietjie te min sonder die room. Met die room by is hy heerlik klam en kan ook as ‘n warm poeding bedien word met vla. Bedien die tert met styfgeklitste room net omdat jy mag 🙂