MAKLIKE PANNEKOEK

pannekoek Retha

MAKLIKE PANNEKOEK
Lekker pannekoek vir ‘n koue dag! My ouma se maklike resep!
Jy moet dit maar verdubbel, anders kry jy net 12 pannekoeke uit die resep:
1 koppie meel
½ koppie kookolie
2 koppies water
2 eiers
½ teelepel sout
½ glasie soetwyn

Meng baie goed in ‘n lekker slap deeg.  Bak in ‘n warm pan met ‘n paar druppels olie in die pan. Gooi dun lagie deeg, wag tot kante los kom, draai om en wanneer gereed, gooi uit.
Bedien met kaneel suiker of soos verkies.
Retha-Jane Duvenhage Buys




CERES PANNEKOEK

pancakes

CERES PANNEKOEK
1 koppie meel
1 teelepel bakpoeier
½ teelepel sout
2 eiers
2 koppies melk
1 eetlepel olie

Meng deeglik.
Laat halfuur of langer staan.
Ek bak dit in ‘n klein pannetjie, omtrent die grootte van ‘n klein bordjie. Ek maak altyd die resep dubbel aan en dan lewer dit 16 pannekoeke.
Louise Groenewald
Honene Bain Roux




LEKKER PANNEKOEK

LEKKER PANNEKOEK
Hierdie is die enigste ene wat ek ken. Vermeerder soos wat dit vir jou mense nodig is – die ene lewer so 20 lekker groot pannekoeke.
3 koppies koekmeel
2 knippies sout
2 teelepels bakpoeier
4 koppies water
2 eiers
3 teelepels asyn
6 teelepels olie

Sif die droë bestanddele drie maal saam (dit help glo dat die pannekoeke nie te swaar is nie, en ek sif dit nou al vir 20 jaar 3x!) en maak ‘n holte in die die meelmengsel.
Meng die water, eier, asyn en olie en voeg geleidelik by die meelmengsel terwyl jy dit meng met ‘n houtlepel of elektriese klitser. Laasgenoemde is baie minder moeite. Laat minstens ‘n halfuur staan (ek laat dit sommer ‘n uur staan) en klits dan weer voordat die pannekoeke gebak word.
Ek gebruik ‘n koperboom pan vir my pannekoeke. Maak seker dit is lekker warm. Vir die eerste ene, gooi ek bietjie olie in die pan, maar rerig BAIE min. Daarna het ek ‘n stukkie servet of tissue wat ek in die olie (in ‘n koppie) druk en dan vee ek net die pan daarmee voordat ek ‘n soplepel vol beslag daarin gooi. Die eerste twee flop gewoonlik omdat ek nie die pan kans gee om behoorlik warm te word nie. Geduld werk nie hier nie. Maar die worsies geniet die floppies!

Jy kan natuurlik jou pannekoeke vul met enige ding wat lekker is. Kaneelsuiker en stroop is vir my bo aan die lys vir pure lekkerte.
‘n Maalvleis-mengsel (selfs kerrie as jy wil) werk wonderlik om dit in ‘n ete te omskep. Vul die pannekoeke met jou vleismengsel, pak dit in ‘n oondbak en strooi gerasperde kaas oor, bak vir so 10 minute, en jy het ‘n lekker ete. Met roomys en piesangskywe vir ‘n nagereg is uit die boeke.
Nettie Theron Louw




LEKKER BERE PANNEKOEK


LEKKER BERE PANNEKOEK
Ek deel graag my resep – dis heerlik en die volgende dag is die pannekoeke nie taai nie.
Ek hou die mengsel soms vir ‘n dag of 3 in die yskas en bak pannekoeke soos die kids lus kry:
Klits die volgende:
6 eiers
3 koppies melk
1 koppie water
50 ml asyn/suurlemoensap
5 ml sout
5 ml suiker
100 ml gesmelte botter

Voeg by 3 koppies meel, en meng baie goed. Ek gebruik my braun.
Geplaas deur Maria Liebenberg




ROOI FLUWEEL PANNEKOEK


ROOI FLUWEEL PANNEKOEK
250 ml karringmelk
3 eiers
5 ml witasyn
250 ml melk
45 ml kakaopoeier
1 x 30 ml-botteltjie rooi koskleursel
5 ml neutmuskaat (nutmeg)
170 g (300 ml) koekmeel
Roomkaas-sous:
250 ml roomkaas
100 g witsjokolade
80 ml melk
125 g frambose

Plaas karringmelk, eiers, asyn en melk in mengbak. Klits tot goed gemeng. Voeg kakao en kleursel by en meng goed. Sif neutmuskaat en koekmeel by en meng tot gladde beslag. Laat rus in yskas vir 35 minute. Verhit ‘n kleefvrye pan die grootte van jou keuse oor matige hitte. As jy nie ‘n kleefvrye pan gebruik nie, drup ‘n paar druppels sonneblomolie in pan en vee oor die bodem met kombuispapier. Skep ‘n klein bietjie beslag in pan tot bodem bedek is. Draai om met slaplemmes wanneer borrels begin verskyn. Braai verder vir sowat 30 sekondes of tot gaar. Hou warm. Herhaal tot al die deeg opgebruik is.
Roomkaas-sous:
Plaas roomkaas, sjokolade en melk in middelslag pot. Roer oor lae hitte tot gladde mengsel. Sit warm pannekoeke voor met sous en vars frambose. Jy kan dit ook versier met eetbare bladgoud.
Foto en resep:  Chanel Pringle




OLIE PANNEKOEK

pannekoek van dine
OLIE PANNEKOEK
My pannekoek resep is ‘n “hou in die yskas en maak wanneer jy nodig het” sowaar ‘n wenner!
4 koppies koekmeel
4 eiers
1 koppie olie
1 teelepel sout
¼ koppie asyn
1 liter water
4 teelepels bakpoeier

Klits eiers. Voeg ‘n bietjie van die water by. Voeg al die olie en asyn by. Dan die meel en sout – en om die beurt met die res van die water. Bakpoeier word ingeklits. Nou is jy reg om pannekoek te maak. Smeer die pan met olie net vir die eerste pannekoek. (Ek gebruik altyd my bauer pan.)
Die mengsel kan in die yskas gehou word en jy maak soos jy benodig of jy maak en kan hulle vries. (Ek vries sommer 4 in ‘n glad sakkie). Ek maak savoury en sweet pannekoeke.
Bron:  SHARON JOUBERT




PANNEKOEK IN GROOTMAAT

pannekoek van dinetested

PANNEKOEK IN GROOTMAAT
Resep: Rene Truter Wessels – Uit my Ma se resepte boek, weet nie na watter Ouma sy verwys.
FOOD LOVERS RECIPES
200-220 pannekoeke
2 kg koekmeel
60 g bakpoeier (75 ml – 16 eetlepels)
20 g sout (20 ml – 4 teelepels)
16 eiers
4 liter water
250 ml asyn (1 koppie)
1 liter olie
50 ml suurlemoensap (4 eetlepels – hou pannekoek sag)

Meng die droë bestanddele in ‘n groot mengbak.
Klits die water, eiers en asyn saam, voeg olie geleidelik by in klits proses.
Roer die droë bestanddele by en meng tot glad.
Smeer die pan met olie vir net die eerste paar pannekoeke.
Die res van die beslag word sonder olie in die pan gebraai.
Ouma skryf by: Vryf jou pan goed vooraf met sout om te keer dat die beslag vas sit; gebruik 2 panne, moenie in ‘n pan bak wat nie stewige boom het nie. Moenie kaneelsuiker gooi as stapel nie, word taai.

Resep vir 100 pannekoeke – Stephan Tinderholm
2,5 kg koekmeel
knippie sout
12 teelepels bakpoeier
12 eiers
750 ml olie
60 ml asyn
5 liter water
Neem water, eiers, olie, asyn klits goed, meng meel, sout en bakpoeier in bak.
Na al die nat bestanddele goed geklits  is voeg die meelmengsel by tot goed gemeng. Klits tot ‘n gladde deeg met geen klonte.  Bak soos gewoontlik.




BêREMENGSEL VIR WAFELS, PLAATKOEKIES EN PANNEKOEK

beremengsel vir pannekoektested

BêREMENGSEL VIR WAFELS, PLAATKOEKIES EN PANNEKOEK
6 koppies meelblom, gesif
3 eetlepels bakpoeier
125 ml melkpoeier, gesif
2 teelepels sout
125 ml suiker
190 ml botter, gerasper

Sif droë bestanddele 2 keer saam en vryf botter met jou vingerpunte in tot lekker gemeng.
Skep mengsel in lugdigte houer, verseël en bêre in yskas, nie langer as 6 weke nie.

WAFELS VIR BEREMENGSEL
1 eier, geskei
200 ml water
250 ml bêremengsel
Meng geel van eier met water.
Maak jou bêremengsel daarmee aan.
Klits eierwit styf en vou liggies in.
Bak 2 wafels

PANNEKOEK VIR BEREMENGSEL
Gebruik 2 koppies meelmengsel, 2 eiers en ½ k olie en bietjie asyn. Gooi water by tot deeg reg is om te bak.

Foto:  Rheda Vreken




DINE SE PANNEKOEK

pannekoek van dinetested
DINE SE PANNEKOEK
2 eiers
600 ml melk
500 ml (2 koppies) meelblom
2,5 ml (½ teelepels) bakpoeier
2,5 ml (½ teelepel) sout
30 ml (2 eetlepels) sonneblomolie
15 ml (1 eetlepel) brandewyn
olie vir bak

Klits die eiers en melk en voeg die meelblom, bakpoeier en sout geleidelik by.
Klop die olie en brandewyn by.
Laat die beslag vir ‘n halfuur staan voor jy begin bak.
Keer die pannekoek op ‘n bord uit, strooi kaneelsuiker oor en druk suurlemoensap oor.
Rol op met ‘n vurk
Resep geplaas deur : Rene Truter Wessels
Dine van Zyl se pannekoek