

SJOKOLADE MALVAPOEDING MET SJOKOLADE VLA
Resep en Foto: Elaine Steyn Steyn
FOOD LOVERS RECIPES
170 ml koekmeelblom
80 ml kakao
250 ml witsuiker
250 ml melk
5 ml koeksoda
15 ml asyn
30 ml appelkooskonfyt
15 ml margarien, gesmelt
1 eier
5 ml vanielje geursel
knippie sout
Sous:
500 ml ideal melk
250 ml suiker
30 ml margarien
5 ml vanielje geursel
20 ml kakao
klein bietjie warm water
Klits suiker en eier tot goed gemeng. Klits asyn, vanielje en konfyt by. Meng kakao en sout met meel. Los koeksoda op in melk.
Meng meelmengsel om die beurt met melk in by suiker mengsel.
Gooi uit in gesmeerde bak en bak vir sowat 30 minute of tot gaar by 180°C.
Maak intussen die sous. Meng kakao tot loperige pasta met klein bietjie warm water. Voeg al die bestanddele saam in pot en roer oor matige hitte totdat suiker gesmelt is. Kook vir 3 minute en gooi kokend oor warm poeding sodra dit uit oond kom. Ek druk poeding met mes vol gaatjies eers. Laat sous heeltemal intrek. Sit voor met koue dun sjokolade vla.
Sjokolade vla:
500 ml melk
30 ml vlapoeier
80 ml witsuiker
15 ml kakao
Meng vlapoeier en kakao. Maak aan tot loperig met van die melk.
Smelt suiker in res van melk oor medium hitte. Bring tot net voor kookpunt en roer bietjie van warm melk by vlamengsel in. Gooi terug in kastrol en roer tot verdik. Haal van stoof af en laat koud word. Onthou om waspapier direk op warm vla se bokant vas te druk sodat dit nie velletjie vorm nie. Los dit so tot dit koud is en haal af.