DOMPEL KOEKTERT
Resep: Lynette Puren
Ek vertaal die resep, want die Amerikaners noem dit “Dump Cake”. Dit is nie regtig ‘n koek in die tradisionele sin nie, want dit word met ‘n blik “pie filling” of ingelegde vrugte gemaak met die koekmengsel bo-oor die vrugte gestrooi en dan in die oond gebak. Ek het die resep vandag weer op Foodnetwork gesien en het dit ook al gebak. Dit is baie maklik!
1 blik ingelegde vrugte soos perskes of vrugtekelkie (ongeveer 470 – 550 g) of enige vrugte van jou keuse
1 pak wit of geel koekmengsel
± 150 g margarien / botter, dis ongeveer 12 eetlepels
Voorverhit die oond tot 350ºF / 180ºC.
Gebruik ‘n groot plat glasbak, foeliepan of ‘n groot ronde plat bak, ongeveer 24 x 34 cm (dit is ‘n groot bak) of 9 x 13 duim, smeer of spuit die bak met kleefwerende kossproei.
Giet die vrugte met die stroop in die gesmeerde bak. Sprei die vrugtemengsel redelik egalig oor die bodem van die bak.
Strooi die inhoud van die koekmengsel egalig oor die vrugte. Sny die margarien in stukke en plaas dit soortvan eweredig op die droë koekmengsellaag. Plaas die bak in die oond en bak vir 45 minute to 1 uur tot bruin bo-op en borrellend. Bedien met geklopte room, vla, vanilla-roomys of net so!
Eksperimenteer en gebruik ‘n blik fyn pynappel en kersie tertmengsel gemeng en gebruik ‘n sjokolade koekmengsel of blik gesnipperde perskes met sjokolade koekmengsel ens.
Die resep is baie maklik en letterlik flopvry, die vrugte moet net ‘n laag vorm op die bodem en die koekmengsel word net so droog bo-oor gestroei en margarien bo-op en dis heerlik.
Nota: Lynette Puren – As ek van vrugte praat in die resepte is dit altyd geblikte vrugte in stroop of natuurlike vrugtesap en nie vars vrugte nie. Die resep het die stroop nodig om te werk!