
VARIASIE SOUTTERTE – OOND EN MIKROGOLF
Korslose Souttert
6 snye Slim Slice-witbroodkrummels
600 ml volroommelk
12 Like-it-Leab repies spekvleis, gebraai en gekap
8 Like-it-Lean- Weense worsies, gekap
4 eiers
5 ml droë mosterd
3 ml sout vars gemaalde swartpeper
60 ml grasuie, gekap
120 g Cheddar-kaas, gerasper
paprika
Week broodkrummels in melk, verhit en prut 3 minute lank. Druk fyn en voeg spekvleis en Weense worsies by. Verkoel. Meng eiers, mosterd, sout, peper, grasuie en twee derdes van die kaas saam. Voeg dit by broodmengsel en meng deeglik. Spuit ‘n 20-cm-tertbak met kleefvrye spuitmiddel en voeg mengsel in. Besprinkel met oorblywende kaas en bak sowat 40 minute in die middel van die oond by 180ºC of tot gestol. Besprinkel met paprika en bedien warm met ‘n groenslaai.
Die resep lewer 4 porsies.
Mikrogolf-metode:
Mikrogolf broodkrummels en melk 6 minute lank op medium – gebruik ‘n groot glasbak. Mikrogolf spekvleis 8-10 minute op ‘n papierbord tot bros. Kap in stukkies. Meng al die bestanddele saam soos bo beskryf, en gooi in ‘n 20-cm-mikrogolf-/glastertbak. Voor dit gebak word, besprinkel met kaas en paprika. Mikrogolf 7-10 minute op medium of tot gestol.
Souttert
60 g brood (verwyder korsies voor dit geweeg word)
2 Weigh-Less koffieverromers sowat
250 ml water
VOEG BY:
1 eier
40 g Cheddar-kaas, gerasper
2 Like-it-Lean Weense worsies of 65 g Like-it-Lean polonie, gerasper of 45 g Like-it-Lean spekvleis, gekap en gebraai
60 ml sampioene, gekap
25 ml groenrissie, gekap
2 ml uievlokkies, in 10 ml warm water geweek vir 20 minute
2 ml knoffelsout
2 ml sout vars gemaalde swartpeper
25 ml pietersielie, gekap
Meng alle bestanddele, behalwe pietersielie, deeglik saam. Spuit ‘n 15-cm-tertbak met kleefvrye spuitmiddel en skep mengsel in die bak. Bak sowat 25 minute lank by 180ºC, of tot ligbruin bo-op. Besprinkel met pietersielie. Bedien saam met ‘n mengelslaai.
Die resep lewer 2 porsies.
Mikrogolf-metode:
Mikrogolf brood, koffieverromer en water 5-6 minute op hoog. Voeg al die bestanddele behalwe pietersielie by. Spuit ‘n mikrogolf-tert-/of glasbak met kleefvrye spuitmiddel, en mikrogolf 7-10 minute op medium. Besprinkel met 5-7 ml paprika om ‘n goudbruin kleur te kry. Versier met pietersielie en bedien.
Skelvistert
400 g skelvis (rou gewig om 300 g gaar gewig te gee)
vars gemaalde swartpeper
100 ml afgeroomde melk en 100 ml water
10 ml olie/botter
100 g uie, gekap
1 groenrissie, gekap
410 g aspersiestukke
6 snye Slim Slice-volkoringbroodkrummels
2 eiers
2 ml aangemaakte mosterd
50 ml pietersielie, gekap
30 g Cheddar- of Parmesaanse kaas, gerasper
knippie rooipeper
Geur vis met peper en posjeer in melk en water. Dreineer vloeistof en behou dit. Vlok die vis. Verhit ‘n kleefvrye pan, spuit met kleefvrye spuitmiddel en voeg olie by. Soteer uie en groenrissie tot sag, voeg aspersies by en meng liggies. Week brood in gedreineerde vloeistof en voeg by uiemengsel saam met gevlokte vis. Meng liggies. Skep in oondbak wat met kleefvrye spuitmiddel gespuit is. Klop eiers, aspersie-vloeistof, mosterd en pietersielie saam en gooi oor skelvismengsel. Besprinkel met kaas en rooipeper. Bak sowat 15 minute by 180ºC tot eier gestol en kaas gesmelt het.
Mikrogolf-metode:
Posjeer skelvis in ‘n bedekte bak, mikrogolf 4-5 minute op hoog. Dreineer en vlok. Soteer uie, groenrissie en olie 2-3 minute op hoog in ‘n oondvaste kasserolbak tot sag. Roer aspersies by en meng liggies. Week brood in gedreineerde vloeistof en voeg by uiemengsel saam met gevlokte vis. Meng liggies. Skep in ‘n mikrogolfbak wat met kleefvrye spuitmiddel gespuit is. Klop eiers, mosterd, en pietersielie saam en gooi oor skelvismengsel. Besprinkel met kaas en rooipeper. Mikrogolf 6-8 minute op medium tot eiers gestol en kaas gesmelt het.
Sampioentert
KORSDEEG:
160 g koekmeel
2 ml sout
64 g medium-vetsmeer
sowat 15 ml yswater
5 ml suurlemoensap
Sif meel en sout saam in ‘n mengbak. Sny die vetsmeer in tot mengsel krummelrig is. Voeg water en suurlemoensap by en meng tot ‘n sagte, maar nie taai nie, deeg. Voeg yswater by indien nodig. Spuit ‘n stuk vetpapier liggies met kleefvrye spuitmiddel. Plaas deeg op die papier. Bedek met nog ‘n vel vetpapier wat gespuit is. Rol dun uit. Verwyder boonste papier en keer uitgerolde deeg uit op ‘n 20-cm-tertbak. Maak rante netjies. Bedek met foelie en bak 10 minute of tot dit begin verbruin by 180ºC.
VULSEL:
100 g uie, fyn gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
32 g medium-vetsmeer
300 g sampioene, gekerf
80 g Cheddar-kaas, gerasper
2 eiers
100 ml volroom melk
2 ml selderysout
vars gemaalde swartpeper
12,5 ml pietersielie
Soteer uie en knoffel in verhitte smeer tot sag. Voeg sampioene by en soteer 3 minute lank. Indien daar vloeistof is, vermeerder hitte en laat die vloeistof verdamp. Skep op warm deegkors, sprinkel kaas oor. Meng die oorblywende bestanddele saam. Skep oor sampioenmengsel. Bak in die middel van die oond 15-20 minute by 180ºC of tot ferm en gestol. Bedien warm met ‘n mengelslaai. Die resep lewer 8 porsies as voorgereg of 4 as hoofgereg.
Mikrogolf-metode:
Plaas die uitgerolde deeg in ‘n 20-cm-glastertbak. Steek gaatjies in ‘n papierhanddoek en plaas bo-oor – dit sal die deeg bros laat word. Mikrogolf 2-3 minute op hoog. Vulsel: Mikrogolf uie, knoffel en smeer 2 minute lank op hoog. Voeg sampioene by en mikrogolf nog 2 minute op hoog. Dreineer die mengsel en plaas op gaar kors. Klop oorblywende bestanddele, behalwe kaas, saam, gooi oor sampioene. Besprinkel met kaas en paprika of verbruiningsmiddel. Mikrogolf 7-10 minute op medium of tot gestol. Besprinkel met gekapte pietersielie voor opdiening.
Tunatert
100 g uie, gekap
20 g margarien
150 g tuna, gevlok
80 g Cheddar-kaas, gerasper
100 g sampioene, gekerf
knippie rooipeper
40 g afgeroomde melkpoeier en water om 300 ml op te maak
2 eiers
5 ml mosterdpoeier
30 g koekmeel
5 ml sout
vars gemaalde swartpeper
5 ml droë gemengde kruie
Soteer uie in margarien tot sag. Voeg tuna by en meng. Spuit ‘n 20-cm-tertbak met kleefvrye spuitmiddel. Voeg tuna en uie by. Besprinkel met Cheddar-kaas en sampioene. Besprinkel met rooipeper. Klop melk en eiers saam. Meng mosterdpoeier, koekmeel, sout, peper en gemengde kruie saam. Roer eiers en melk geleidelik by, klop om klonte te voorkom. Skep dit oor die inhoud van die tertbak en bak sowat 40 minute lank in die middel van die oond by 180ºC of tot gestol.
Die resep lewer 4 porsies.
Mikrogolf-metode:
Soteer uie en margarien 1-2 minute op hoog tot sag. Meng al die bestanddele saam soos beskryf en sprinkel met paprika of mikrogolf- verbruiningsmiddel. Mikrogolf 12-15 minute op medium tot gestol.
Mieliemeeltert
40 g mieliemeel
600 ml kookwater
5 g botter/olie
200 ml sampioene, gekap
125 ml groenrissie, gekap
1 tamatie, geskil en gekap
5 ml selderysout
vars gemaalde swartpeper
1 eier, geklits
5 ml bakpoeier
40 g Cheddar-kaas, gerasper
Roer mieliemeel in kookwater tot glad. Roer bestanddele een vir een by in volgorde by, behalwe kaas. Spuit kasserolbak met kleefvrye spuitmiddel en voeg mengsel daarin. Bak sowat 40 minute in die middel van die oond by 190ºC of tot gestol. Besprinkel met kaas en plaas onder verhitte rooster om te smelt. Bedien saam met gestoomde groenbone en volkoring-roosterbrood.
Die resep lewer 2 porsies.
Mikrogolf-metode:
Kook 1-2 minute op hoog tot dit borrel. Roer af en toe. Plaas mieliemeel-mengsel in ‘n kasserolbak, soos aangedui. Besprinkel met kaas en paprika of mikrogolf-verbruiningsmiddel. Mikrogolf 8-10 minute op medium tot gestol.