MIELIEPAP SKYFIES

MIELIEPAP SKYFIES
Oorskiet pap van die vorige aand.
Bere in yskas vir volgende dag se gebruik.
Rol pap uit op waspapier en druk vormpies.
Rol dit uit so dik soos wat mens koekie deeg sal uitrol anders as dit te dun is pak dit aan waspapier vas en breek maklik.
Braai vormpies pap in diep olie tot goud bruin.
Sit skyfies op kombuishanddoek rol papier (vir bietjie olie dreinering) en gooi spesery oor.
BAIE SMAAKLIK EN LEKKER!
Resep en foto: Nadia Swanepoel




WONDERLIKSTE MIKROGOLF MIELIEPAP


WONDERLIKSTE MIKROGOLF MIELIEPAP
Mikrogolf 1 koppie mieliemeel en sout na smaak vir 1 min. (Net so droog)
Gooi 1 teelepel bakpoeier by droë meel en roer vinnig 1 koppie kookwater daarby.
Dit bruis nogals.
Mikrogolf weer vir 1 min – net so oop.
Roer 1 teelepel botter by en maak lekker los met ‘n vurk.
Mikrogolf weer 1-2 min – roer weer lekker met ‘n vurk.
En Voíla!! Geniet dit!!

Resep:  Laetitia Burger
Foto: Juanita Vermeulen‎




GEEL PAP MET CHAKALAKA MAALVLEIS

GEEL PAP MET CHAKALAKA MAALVLEIS
500 g maalvleis
1 blikkie chakalaka (soort en sterkte van jou keuse)
1 blikkie gebakte bone in tamatiesous
1 gekapte ui
1 gekapte soetrissie
sout en peper na smaak
½ koppie gerasperde Cheddarkaas
1 koppie geel mieliemeel
2 ½ koppies water

Vir die pap:
Voeg ‘n teelepel sout en 1 eetlepel olie by die 2 ½ koppies water in ‘n kastrol en bring tot kooppunt. Voeg die mieliemeel by en klits met ‘n ballon draadklitser tot dit begin verdik. Bedek die kastrol en prut oor lae hitte vir 30 minute. Roer van tyd tot tyd sodat dit nie op die bodem vasbrand nie.

Vir die sous:
Braai die uie en soetrissie in bietjie olie vir ongeveer 5 minute oor medium hitte. Voeg die maalvleis by en roer braai tot die vleis verbruin het. Voeg die chakalaka by en kook onbedek oor medium hitte vir 20 minute. Voeg die boontjies saam met die sous by, geur met sout en peper en kook verder vir 15 minute.
Skep die pap in ‘n oondbak met die maalvleis sous bo-oor. Strooi ‘n goeie laag kaas bo-oor en bak by 180ºC in die oond tot die sous borrel en die kaas gesmelt is.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete




MIELIETERT VIR DIE OOND OF OP DIE VUUR

MIELIETERT VIR DIE OOND OF OP DIE VUUR
1 koppie mieliemeel
1 ¾ koppie melk
4 eiers, geskei
2 eetlepels suiker
½ teelepel sout
¼ teelepel swart peper of peper van jou keuse
2 eetlepels broodmeel
1 eetlepel olyfolie
2 koppies gevriesde of 1 blikkie heel mielies
2 eetlepels gekapte roosmarynblare
1 ½ koppie gerasperde Cheddarkaas
1 koppie koue vleis stukkies of gebraaide bacon, van jou keuse (opsioneel)

Meng die mieliemeel en melk in ‘n kastrol tot dit ‘n gladde tekstuur het. Verhit dit stadig tot dit dik en stomend is terwyl jy aanhou roer vir 5 tot 10 minute. Verwyder van die hitte. Meng die eiergele met die suiker, sout en peper en roer dit deur die mieliemeel mengsel saam met die broodmeel en olie. Voeg die roosmaryn, mielies, vleisstukkies en helfte van die kaas by. Klits die eierwitte styf en vou dit by die beslag in. Skep oor in ‘n oondvaste bak of no 2 potjie en strooi die res van die kaas bo-oor.
Plaas die bak onbedek in die oond en bak vir 35 minute by 180ºC tot goudbruin bo-op en effens opgepof, of krap ‘n opening in jou kole, plaas die potjie daarin, bedek dit en plaas kole bo-op die deksel, soos wanneer jy ‘n potbrood sal bak.
Resep geplaas deur Adrian Olivier
Foto: Adam Cloete




SOET PAPTERT

SOET PAPTERT
2 koppies braaipap meel
2 teelepels bakpoeier
1 teelepel sout
3 eetlepels suiker
2 blikkies creamed sweet corn
2 koppies kaas
500 ml room

Meng alles saam.
Bak vir ongeveer ‘n uur op 180°C.
Moet nie te droog bak nie.
Resep : Yolande van der Merwe




PAPTERT LASAGNE STYL


PAPTERT LASAGNE STYL
Hoeveelhede in die metode:
water
mieliepapmeel
sout
peper
tiemie
2 uie
1 pakkie spek (bacon bits)
1 pakkie sampioene
2 pakkies maalvleis
olyf olie
McCain Franse roerbraai groente
1 blikkie Chakalaka
1 blikkie braai relish/ tamatie en uie smoor
suiker
410g bolognaise pasta sous
botter/margarien
koekmeel
melk
kaas

PAP:
Bring 1.5 koffie beker water tot kookpunt.
Draai plaat af tot laag en voeg twee koffie bekers mieliepapmeel en 1.5 teelepls sout by.
Sit deksel op.
Roer pap elke 15 min met ‘n vurk.
Na ‘n uur is pap gaar.

UIE, SPEK EN SAMPIOEN SMOOR
Braai twee uie wat opgesny is in ‘n bietjie olyf olie.
Sny een pakkie sampioene op en voeg by uie.
Voeg nou spek (bacon bits) by en braai tot gaar.
Optioneel voeg gedroogde tiemie na smaak by.
Skep die gaar mengsel uit in ‘n bakkie en hou eenkant.

MAALVLEIS
In dieselfde pan waarin die uie en spek gebraai is, gooi bietjie olyf olie in en braai twee pakkies maalvleis en braai tot gaar.
Optioneel: voeg McCain Franse roerbraai groente by.
Sout en peper na smaak.
Sodra gaar voeg halwe blikkie chakalaka, 1 blikkie braai relish/ tamatie en uie smoor, 1 teelepel suiker en 410 g bolognaise pasta sous by.
Voeg nou die uie, spek en sampioensmoor ook by en kook deur.

KAASSOUS
Smelt een opgehoopte eetlepel botter/margarien op lae hitte, voeg bietjie meel by en so 500 ml melk. Roer sodat klonte nie vorm. Wanneer dit begin kook voeg gerasperde kaas by.

VIR DIE LAE
Skep drie kwart van die vleismengsel in ‘n bak en hou eenkant.
Versprei nou die vleismengsel wat nog in pan is eweredig oor bodem.
Skep bietjie kaassous oor.
Volgende skep ‘n laag pap oor.
Skep nou ‘n laag vleismengsel.
Stooi ‘n handvol gerasperde kaas oor.
Skep nou laag pap en dan vleismengsel.
Rond af met kaassous en gerasperde kaas.
Opsioneel: bak in oond tot kaas gesmelt het.
Geniet dit!
Foto’s en resepte:  Erika Foot




ALTA SE MIELIEGEREG

ALTA SE MIELIEGEREG
1 blikkie room mielies
375 ml melk
30 ml meel
½ ui, fyn gekap
1 koppie gerasperde kaas
3 eiers, geskei
15 ml botter
knippie sout na smaak

Smelt botter in pan roer meel by.
Voeg melk geleidelik by en maak ‘n lekker witsous.
Haal pan van stoof af en roer kaas en ui by asook eiergele wat goed geklits is.
Klits eierwitte styf en vou in mielie mengsel.
Bak in gesmeerde bak, oond 180°C vir 45 min.
Resep en foto: Alta Gunter Van Dyk




DIEP GEBRAAIDE PAP


DIEP GEBRAAIDE PAP
Braai bietjie gekapte knoffel in olie.
Voeg die volgende by:
3 koppies water
1 eetlepel hoenderaftrekselpoeier
knypie sout
2 koppies mieliemeel
Sit die deksel op en stoom vir 20 tot 30 min.
Skep die gaar papa in ‘n bak en laat afkoel / vries.
Sny in blokke en deepfry tot goudbruin in warm olie, nie te warm nie.
Bedien met lekker sous of net so.
Foto en Resep: Lane Veltman




LUCKY SE GEWILDE PAPTERT

LUCKY SE GEWILDE PAPTERT
Die familie se kinders kom graag na ons vir ‘n braai net om hul Oom Lucky se paptert te eet.
Maak groot pot slap pap. Nommer 2 swart pot vol.
Meng 1 blik room mielies of pitmielies in by die gaar pap.
Sous:
1 groot ui, in blokkies gesny
¼ van elk groen, rooi en geel soetrissies
1 blik tamatie en uie smoor
4 middelslag tamaties, skil afgehaal (deur dit in kookwater te sit vir 10 min), sny in blokkies
500 g gesnipperde spek
250 g ham, in blokkies gesny
½ koppie blatjang
2 eetlepels braai speserye en kruie na smaak
2 koppies gerasperde cheddar en mozarella kaas

Braai uie en peppers tot sag.
Braai spek tot krispie en voeg by saam met blik tamatie en gesnipperde tamaties en die ham.
Maak lekker baie sous.
Nou begin jy pak.
1 dun laag pap, dan sous, dan kaas, herhaal tot jou oondpan vol is, sluit af met baie kaas bo-oor.
Maak toe met foelie en net sodra die mense vleis begin braai dan sit jy die oond op so 70°C dat dit weer opwarm.
Die geheim is om nie dik lae pap te pak nie.
Resep: Lucky van der Colff
Foto: Meisie van der Colff




EIERLOSE GEEL MIELIEMEELBROOD

EIERLOSE GEEL MIELIEMEELBROOD
2 koppies geel mieliemeel (of wit mieliemeel)
1 koppie koekmeel
½ koppie suiker
1 eetlepel koeksoda
1 teelepel sout
2 koppies karringmelk
4 eetlepels gesmelte botter

Meng die mieliemeel, koekmeel, suiker, sout en koeksoda in ‘n groot mengbak en roer die gesmelte botter en karringmelk daarby in. Meng deeglik en skep in ‘n geskikte broodpan wat met botter gesmeer is of met ‘n nie-kleef sproei gespuit is. Bak vir 40 tot 50 minute by 180ºC tot ‘n toetspen skoon uitkom en die bokant ligbruin verkleur het. Laat vir 5 minute in die pan afkoel voor dit uitgekeer word.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete