

WASGOEDBONDELTJIES MET MAALVLEIS
Vulsel:
10 ml botter of kookolie
2 uie, opgekap
2 knoffelhuisies, gekap
750 ml gemaalde vark of beesvleis
2 – 3 aartappels, in blokkies gesny
½ teelepel fyn gemmer
1 knippie fyn koljander
2 tamaties, geskil en gekap
2 teelepels sout
1 knippie peper
2 eetlepels asyn
½ koppie vleisaftreksel
Broskorsdeeg:
2 koppies koekmeel
½ teelepel sout
2 teelepels bakpoeier
½ koppie botter
yswater
peuselstokkies en kruienaeltjies om die deegvierkant vas te steek
braaivet of olie
Vulsel:
Verhit botter of kookolie in ‘n kastrol en soteer die uie en knoffel. Voeg die vleis by en braai liggies bruin. Voeg aartappels, speserye, tamaties, sout, peper, asyn en vleisaftreksel by die mengsel. Sit deksel op en prut vir 45 minute totdat dit sag is. Laat afkoel voor gebruik.
Broskorsdeeg:
Sif die meel, sout en bakpoeier saam in ‘n mengbak. Vryf die botter liggies in. Voeg die water by soos benodig en meng tot ‘n maklike hanteerbare deeg. Rol die deeg uit en sny dit in vierkante van 75 x 75 mm. Skep ‘n bietjie van die vulsel in die middel van die deegvierkant.Vou die punte na binne en steek dit met ‘n stokkie en ‘n kruienaeltjie vas. Braai goudbruin in die diep vet of olie. Dreineer op ‘n papierhanddoek en sit dit koud of warm voor.
Foto: Petro van Genderen