PAPAJAKONFYT

papaja konfyttested

PAPAJAKONFYT
Halveer papaja, haal pitte uit en sny in blokkies op. Weeg die hoeveelheid papaja af en weeg ‘n gelyke hoeveelhede wit suiker af.
Plaas die papaja en suiker in lae in ‘n swaarboonkastrol en laat dit oornag staan om stroop te vorm. Voeg die volgende oggend 175 ml suurlemoensap en die fyngerasperde skil van 1 suurlemoen vir elke 1 kg suiker wat gebruik is, by.
Verhit die mengsel stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Kook dit oor matige hitte en roer dit af en toe, maar roer dit gedurig wanneer die konfyt begin dik word. Kook die konfyt totdat dit dik en deurskynend lyk. Bottel dit warm en verseel dit dadelik.
FOTO – Elsabé Mulder Barnard

Tinkie Theron – Ek gebruik grasgroen papajas, dan kook ek stukke daarmee soos makitaan. Dis heerlik.




FYN VYEKONFYT GESKIK VIR DIABETES

FYN FYEKONFYT GESKIK VIR DIABETEStested

FYN VYEKONFYT GESKIK VIR DIABETES
Was en skil genoeg ryp vye om 1.5kg uit te weeg.
Gebruik 600 g Xylitol versoeter
350 ml water
30 ml suurlemoensap
Een stuk gekneusde gemmerwortel in ‘n katoen doek toegebind.
10 g gelatine

Plaas die vye en versoeter in ‘n kastrol en voeg die water by.
Snipper die vye met ‘n sker in die kastrol.
Verhit stadig totdat die Xylitol versoeter opgelos is.
Voeg nou die gemmer en die suurlemoensap by en kook verder vir omtrent een uur.
Roer gereeld.
Verwyder die sakkie gemmer, skakel die stoofplaat af en strooi die gelatine stadig in en roer totdat die gelatine opgelos is.
Bottel die konfyt warm in gesteriliseerde bottels.
BRON – Lou Viljoen

All people with any type of diabetes who wish to use our recipes, should do so in consultation with their diabetes healthcare team. If you have diabetes it is important to know your risk factors.

Persone met enige tipe diabetes wat ons resepte wil gebruik, moet dit in oorleg met hul diabetes-gesondheidsorgspan doen. As jy diabetes het, is dit belangrik om jou risikofaktore te ken.




UIE MARMELADE MET ROOIWYN ASYN

uiemarmeladetested

UIE MARMELADE MET ROOIWYN ASYN
Dit kan saam met ’n menigte kase geniet word. Selfs op ’n broodjie is dit baie lekker.
sowat 500 ml
4 groot wit uie, geskil
125 ml olyfolie
5 ml growwe sout
sowat 2 ml varsgemaalde swartpeper
2 lourierblare
2 klein takkies vars roosmaryn
100 g (125 ml) bruinsuiker
80 ml rooiwyn
80 ml rooiwyn-asyn
30 ml balsamiese asyn
Halveer die uie en sny in skywe. Verhit olyfolie in ’n kastrol. Gooi uie in en braai sowat 5 minute tot die uieskywe loskom van mekaar en effens verbruin. Voeg sout, peper, lourierblare en roosmaryn by. Maak kastrol toe met deksel en verlaag hitte. Laat stowe sowat 20 – 30 minute. Verwyder deksel en voeg suiker, rooiwyn, rooiwyn-asyn en balsemasyn by. Roer goed deur en laat prut oop vir 20 – 30 minute. Roer nou en dan om te keer dat die suiker brand. Verwyder die roosmaryn en lourierblare en skep in gesteriliseerde flesse. Laat staan minstens ’n week voor jy dit voorsit.
Foto: Susan Snyman La Grange
2de foto: Marietha de Jongh – baie baie lekker

 




ANNE SE APPELKOOSKONFYT


ANNE SE APPELKOOSKONFYT

Ek het so gemaak:
– Spuit jou swaarboom kastrol (wat eerder wyd is, as ‘n drukkoker-kastrol wat hoog is) met Spray en Cook. Die hitte versprei net meer egalig.
– 2 kg appelkose – gesnipper, indien verkies; 2 kg suiker; 2 eetl botter; 3/4 kop water. Meng alles baie goed.
– Die water het ek bygevoeg omdat ek nie die suiker en die appelkose vooraf vir ‘n paar uur laat staan het om sy eie stroop te maak nie.
– Gooi vrugte in die kastrol en verhit redelik stadig tot dit kookpunt bereik – dit neem ongeveer 7 min. Roer.
– Kook dan vining vir 15 min en roer die hele tyd met ‘n eierspaan tot op die bodem.
– Wanneer die konfyt BEGIN om GROOT borrels te maak, verwyder die kastrol van die stoof en roer nog so bietjie deur.
– Gebruik ‘n “masher” vir fyn konfyt.
– Indien die konfyt te lank kook, kry dit ‘n donker kleur – asof die suiker brand/skroei.
– Laat afkoel, gooi dit in bottels en verseël.
Resep: Anne Snyman




STYWE APPELKOOSKONFYT

appelkoos konfyt elizetested

STYWE APPELKOOSKONFYT
1 kg appelkoose
1 kg wit suiker
Ontpit en snipper appelkose! Smeer ‘n swaar boompot botter bodem en kante! Pak laag appelkose en laagsuiker tot alles mooi lagies le,  laat staan oornag. Vanaf 8 uur aand tot 8 uur oggend.
Sit dit nou op lae hitte laat suiker stadig smelt, as gesmelt roer deurmekaar.
Laat nou vinnig kook so op 4 vir 30 minute, voeg vooraf so paar pitte en sap van 1 klein suurlemoen by.
Steriliseer bottels vooraf, droog met skoon droë vadoek af!
ek maak my bottels lekker warm in mikrogolf. Sodra jou konfyt gereed is bottel warm!

Foto en resep:  Elize Venter




TAAIPITPERSKEKONFYT


TAAIPITPERSKEKONFYT

Kies taaipitperskes wat net ryp is. Skil hulle dun af en prik goed met ‘n stopnaald. Laat 4 ure lank in soutwater le (15 ml sout op 3,4 L water). Spoel vrugte goed af en weeg. Smeer die boom van die konfytkastrol met botter of olie en pak die vrugte en die suiker in afwisselende lae daarin. (Gebruik 2,5 kg suiker vir 3 kg vrugte en voeg die sap van een suurlemoen by vir dieselfde gewig vrugte).

Voeg 250 ml tot 500 ml water by vir 3 kg vrugte. Verhit stadig totdat die suiker opgelos is en kook dan vining tot die vrugte deurskynend en helder is. Na die eerste uur kan dit stadiger gekook word. Skep dit in warm, gesteriliseerde bottels en verseel. As jy wil kan jy ‘n paar stukke gemmer bysit terwyl dit kook vir ekstra smaak.




ROOSBLAAR KONFYT

roosblaar konfyt rinatested

ROOSBLAAR KONFYT

My roosblaarkonfyt resep :
16 rose
3 pd suiker, (1.5kg suiker)
2 pinte wate (1 liter )
sap van 4 suurlemoene of halwe tel wynsteen suur.

Metode:
kook suiker en water stadig. Trek blare af KNIP WIT PUNT aan onderkant van blaar af ( dis bitter) maak die blare nat met 2 kop kookwater roer haal uit gooi in stroop kook 30 min roer kort kort. Tot blare sag is kook nog 15 mim . Bottel. C Heunis. S A V F 1962. Donker rose gee donker jam hoe ligter blare hoe ligter jam. Hoop almal gaan lekker kook en eet.
BRON- Joey Brummer
Foto:  Rina Kleinhans
Ek het bont rose gebruik….. baie lekker maar iets  om aan gewoont te raak…

 




HEEL GROENVYE KONFYT

heel vye konfyt
HEEL GROENVYE KONFYT

Sny groen vye waarvan die binnekant nog nie hol of verkleur is nie. Sny met ‘n skerp mes ‘n kruisie deur die blomogie van elke vy. Vryf die skil met growwe skuurpapier af of rasper met ‘n fyn neutrasper af. Weeg die hoeveelheid vye af. Week dit oornag in ‘n oplossing van 25 ml sout per 2,5 liter water; plaas ‘n omgekeerde bord oor die vye en sorg dat die soutwater die vye heeltemal bedek.

Spoel die vye die volgende oggend goed af in ‘n vergiettes onder lopende koue water.

vul ‘n groot konfytkastrol half met water en laat dit kook. Los 2 ml blouvitrioel of kopersulfaat (by apteke beskikbaar) daarin op – dit verseker dat die vye ‘n mooi groen kleur het. Plaas die vye in die kastrol en verhit dit tot kookpunt. Dreineer dit dadelik en spoel dit goed in vars water af.

Vul die kastrol half met vars water en verhit dit tot kookpunt. Plaas die vye en ‘n paar afgespoelde jong vyeblare daarin en kook dit ongeveer 4 minute oor matige hitte totdat ‘n skerpgemaakte vuurhoutjie maklik in ‘n vy gesteek kan word. Dreineer die vye.

Gebruik vir die stroop 7,5 liter water, 3 kg wit suiker en 50 ml suurlemoensap of 10 ml kremetart per 2,5 kg vye. Verhit die water en suiker stadig tot kookpunt en roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Plaas die sag gekookte vye geleidelik in die kokende stroop. Kook dit ‘n halfuur lank oor matige hitte sonder ‘n deksel. Haal die kastrol van die stoof af, sit die deksel op en laat die vye oornag in die stroop masereer.

Skep die vye die volgende oggend met ‘n gleuflepel uit die stroop en sit dit opsy. Verhit die stroop tot kookpunt en plaas die vye geleidelik teurg in die kokende stroop – dit moenie ophou kook nie. Kook die vye ‘n uur lank oor matige hitte en skuim die konfyt dan af. Die vye kan nou weer tot die volgende oggend opsygesit, uitgehaal en terug in die kokende stroop geplaas word. So nie kook die vye totdat die stroop so dik soos kasterolie is. Kook intussen in ‘n aparte kastrol ekstra stroop, want dit is gewoonlik te min teen die tyd at dit die regte dikte het. Voeg hierdie stroop, die kremetart of suurlemoensap en 12,5 ml suiwer gliserien teen die end by die vye s’n en laat dit goed deurkook. Bottel warm en verseël dadelik.

Resep geplaas deur Petro Borchard




PETRO SE MOERBEI KONFYT

2014-09-30-moerbeikonfyttested
PETRO SE MOERBEI KONFYT
Ek kombineer gewoonlik ‘n variasie van gevriesde bessies en moerbeie om van konfyt te kook, maar hierdie is die basiese resep waarvan ek werk.
Begin deur ‘n klompie lepels in die vrieskas te sit – jy gaan dit gebruik om te toets of die konfyt genoeg gestol het en as jy dit nie nou insit nie, gaan jy vergeet. Die pot waarin jy die konfyt kook moet ook groot genoeg wees dat die inhoud nie dieper as 5 cm moet wees nie, anders kan dit te lank vat om te stol en dan kan jy die pektien opvoeter.
Spoel moerbeie wat byna ryp is (ek kombineer ryp en amper ryp) in ‘n vergiettes onder lopende koue water af en dreineer dit goed. Knip die stingeltjies af. Weeg die moerbeie af en weeg net soveel wit suiker as wat die moerbeie weeg. Pak die moerbeie in lae in ‘n vlekvryestaal of emalje kastrol en strooi die suiker oor elke laag. Sit die deksel op en laat dit oornag stroop vorm. Verhit die mengsel die volgende oggend baie stadig en roer dit aan die begin tot al die suiker opgelos is. As dit kook voor die tyd, kan dit sandsuiker. Voeg 25 ml suurlemoensap vir elke 1 kg moerbeie by. Kook dit 50 tot 60 minute taamlik vinnig todat dit dik genoeg is as ‘n bietjie van die konfyt op ‘n lepel uit die vrieskas getoets word.

Dit moet soort van in sulke dik heel druppels af drup, nie te waterig nie, ook nie tameletjie nie. Jy kan dit ook toets deur ‘n bietjie van die konfyt op ‘n lepel te sit en te los vir ‘n minuut of wat. As jy dit dan so met ‘n vinger stoot, moet dit effens van ‘n gerimpelde vel vorm. Die probleem hiermee is dat teen die tyd wat dit afgekoel het, mag die res in die pot te ver gekook wees.
Gooi in warm bottels, vee die bekke skoon met ‘n nat skoon lappie en verseel.
Foto: Jurina Groenewald
2de FOTO- Petro Borchard




APPEL PEKTIEN

 

2014-09-30-appelgesneden

APPEL PEKTIEN

Was 300 g pas ryp suur appels. Sny dit met die skil, pitte en al in skyfies en bedek dit met 300 ml water. Kook dit in ‘n toe kastrol net totdat die appels sag is. Syg die sap deur. Damp die filtraat vinnig in ‘n oop kastrol af tot 150 ml pektien.