AALWYNSTUKKE KONFYT


AALWYNSTUKKE KONFYT
Gebruik onderste blare van aalwyn nie die jong sappige blare nie.
Skil en was goed af. Herhaal ‘n paar keer. Laat lê in water tot mooi wit en deurskynend. Prik goed en sny in groterige blokke. (Aalwynstukke krimp nogal baie). Maak kalkwater aan. (1 eetlepel kalk vir elke 3.4 liter water. Meng goed). Laat staan sodat die kalk kan afsak en skep die skoon kalkwater bo af. Laat lê aalwynstukke in kalk vir 24 uur.
Spoel goed af.
Maak stroop aan.
3.2 kg suiker
9 koppies water
2.7 kg aalwynstukke
3 jong vyelote
4 stukke gemmer
3 spuite suurlemoensap

Kook stroop vir 10 minute. Voeg aalwynstukke by kokende stroop en kook tot goudkleurig van kleur. Om en by 1 1/2 uur in ‘n oop kastrol op hoog.
Bottel warm in voorbereide bottels en seël dadelik.
Resep en foto: Petré Van Jaarsveld‎




ALTA SE HEEL VYE KONFYT


ALTA SE HEEL VYE KONFYT
1 kilogram heel ryp vye, geskil en effe in son gedroog net tot velletjie bietjie harder is. Dit is vir heel vye.
4 koppies suiker
400 ml water
60 ml suurlemoensap
stukke vars gemmer, gekneus (na smaak, en opsioneel)

Prik die effens gedroogde vye met ‘n vurk so hier en daar. Ek prik met ‘n staal toets pen.
Kook water en suiker saam. Die suiker moet gesmelt wees voor dit kook.
Sodra stroop kook voeg vye by.
Kook tot vye deurskynend is en ‘n mooi koring kleur het.
Bottel warm in gesteriliseerde bottels.
Seël dadelik.
Resep geplaas deur Alta Gunter Van Dyk
Foto: Alta Gunter Van Dyk




GROOTMAAT TAMATIE KONFYT


GROOTMAAT TAMATIE KONFYT
8 kg tamaties (dit was die lang konfyt tamaties, in stukke gesny)
8 kg suiker
½ koppie suurlemoensap
so 3 stukke vars gemmer, geskil en bietjie gekneus

Ek pak my bestanddele in lae in my pot. Roer maar deurentyd tot op stoof tot suiker opgelos is. Konfyt moenie begin kook voor al die suiker nie opgelos is nie.
Kook tot tamaties deurskynend is en stroop effe dik is. Tamatie konfyt is maar ‘n loperige konfyt. Haal stukke gemmer uit, indien verkies. Bottel warm in gesteriliseerde flesse en seël dadelik.
Resep en foto: Alta Gunter Van Dyk




KEI-APPEL KONFYT


KEI-APPEL KONFYT
1 kg kei appels
125 ml water
1.2 kg suiker

Ek het die skille en stronkies verwyder en dit vir 10 minute gekook in die water. Toe het ek dit deur ‘n sif gedruk sodat die pitte agterbly water en al. Die moes geweeg, dit was 1 kg vrugtemoes en ek het 1.2 kg suiker bygegooi.  Kook stadig en roer tot die suiker opgelos het. Sodra suiker opgelos is kan die hitte bietjie opgedraai word.
Ek het deurentyd die skuim afgeskep en dit vir omtrent 80 minute gekook.
My stoof was op 3 gestel sodat dit nie oorkook of aanbrand. Toe dit stol in my koue piering het ek gebottel.
Resep en foto: Velia Goosen




KITI SE PERSKE SNIPPER KONFYT


KITI SE PERSKE SNIPPER KONFYT
Wat mens doen as jy in die buiteland bly en nie meer jou lag kan hou van lus vir heelperske konfyt nie? Dan koop jy ‘n blikkie fynperske by die SA shop, ‘n kilo of wat peperduur taaipit geelperskes (dis skaars hier, ons kry net gewone lospit en nectarines) en dan kook jy dit sommer so in die konfyt met ‘n groenappel by vir pektien. Ek sweer hulle gooi gelatine by die blikkies konfyt, wou na die tyd nie weer stol nie selfs in yskas, toe home-made pectine ek dit met een groen appel gekook en deurgesyg. Die rede vir die blikke se byvoeg, dis meer konfyt vir minder perskes. Daai goed kos in julle geld R40 per kilo!

Resep:
Een blikkie fyn perskekonfyt, so 400 g
1.5 kg geel taaipit perskes, geskil en in skyfies gesny
Weeg perskes en voeg dieselfde gewig suiker by.
Kook (apart) een groen appel saam met die skille en pitte van die perskes tot pap.
Syg (reg gespel, mens syg nie suig nie) deur ‘n kaasdoek. Moenie druk nie, net die sappies.
Kook nou tot dik. Dan gooi jy hierdie mengsel saam met die perskes/suiker in ‘n pot en kook tot perskes net sag is.
Voeg nou die blikkie perskekonfyt by. Kook tot warm en bottel in gesteriliseerde bottels.
Resep en foto: Kiti Citi




BEN SE PERSKESKILJELLIE


BEN SE PERSKESKILJELLIE
2 kg perskeskille
1,5 kg granny smith appels
3 ml sitroensuur
500 gr witsuiker

Sny appels in stukke op met skil, pitte en kern.
Plaas saam met perskeskille in kastol.
Voeg water by sodat appels en skille net bedek is.
Kook tot sag.
Dreineer deur ‘n jelliesak of dubbellaag moeselien-of kaasdoek.
Laat dit self filtreer, moenie deur pars nie.
Meet die filtraat af.
Verhit die filtraat tot kookpunt en kook tot volume 2/3 van oorspronklike of dikkerig is.
Weeg filtraat af, vir elke 500 ml filtraat, voeg 500 gr witsuiker by en verhit tot kookpunt en roer tot suiker opgelos het.
Voeg sitroensuur by en kook tot dit jel as bietjie op ‘n koue piering getoets word.
Laat rukkie afkoel in kastrol.
Bottel en verseël dit warm.
Het ‘n bietjie uitgeskep om te wys hoe gestol die jellie is wanneer koud.
Resep en Foto:  Ben Rautenbach




MARULA JELLIE


MARULA JELLIE
Tel marulas op sodra dit van die boom af val. Dit moet nog groen wees.
Was die vrugte.
Sny n kruis oor die vrugte.
Gooi in pot en bedek met genoeg water.
Kook tot skille van vrugte los kom.
Skep bietjie van die water uit en laat af koel.
Neem eetlepel spiritus in ‘n glas.
Gooi die afgekoelde water daarin.
Dit is hoe die pektien getoets word.

Draai die glas in rondte. As die water ‘n stywe klont vorm, is die pektien baie goed en kan die jellie gekook word.
Neem 3 lae kaasdoek en maak dit oor groot genoeg houer vas.
Gooi nou vrugte en water in doek.
Moet onder geen omstandighede die vrugte roer. Laat dit staan tot al die sap deur geloop het.
As daaraan gepeuter word sal die eindproduk troebel wees en nie so deurskynend wees nie.
Neem 1 koppie suiker vir ‘n koppie sap.
Kook soos met enige konfyt.
Doen ‘n toets met koue piering om te sien hoe styf jellie is.
Dan word dit warm gebottel.
Foto: Elize Stander




VYE KONFYT IN DIE MIKROGOLF


VYE KONFYT IN DIE MIKROGOLF
1 kg vye (±40 vye), geskil en opgesny
60 ml suurlemoensap
5 ml fyn gemmer
3 koppies suiker

Sit vye in mikrogolf glasbak, ek het argilla bak gebruik.
Gooi suurlemoensap oor  en mikrogolf vir 10 min.
Gooi suiker en gemmer oor en roer goed deur en mikrogolf vir 30 min ek roer na elke 10 min tot gestol.
Resep en foto: Isabel J Boltman




DIABETES VYEKONFYT


DIABETES VYEKONFYT
10 vye ongeveer
½ tot ¾ koppie xylitol
1 desertlepel suurlemoensap

Vye geskil en gesnipper. Voeg dan die xylitol en suurlemoensap by.
Plaas in mikrogolf oond op hoog vir so 15-20 minute.
Skep skuim kort, kort af en kook totdat die stroop die regte dikte is.
Bottel warm.
Resep: Renate Strydom Engelbrecht

All people with any type of diabetes who wish to use our recipes, should do so in consultation with their diabetes healthcare team. If you have diabetes it is important to know your risk factors.

Persone met enige tipe diabetes wat ons resepte wil gebruik, moet dit in oorleg met hul diabetes-gesondheidsorgspan doen. As jy diabetes het, is dit belangrik om jou risikofaktore te ken.




MEISIE’S APRICOT JAM


MEISIE’S APRICOT JAM
Homemade apricot jam is as a part of my childhood, as playing outside was. It was a special treat that mom would make. I share with you her recipe:
2 kg apricots, stones removed
2 kg white sugar
1 Tbsp lemon juice

Add the stoned fruit to a heavy saucepan and cover with sugar. Add the lemon juice. On a medium-high heat, boil the mixture, continuously removing the foam that forms. When the jam reaches 105 ºC on a sugar thermometer, remove it from the heat. Allow the jam to cool a bit, and bottle in prepared bottles.
For an interesting twist, add one branch of Thyme to each bottle of jam. This produces a fragrant preserve for cheese plate.
Photo and recipe:  Johann Barnard