

KOFFIE- EN KLAPPERKOEK
My gevoel oor ‘n koffie- en klapperkoek is dat die balans tussen nat en droog perfek moet wees. Koffie drink ons apart, maar die smaak van klapper en dan veral geroosterde klapper, is iets wat heel goed kan werk saam met koffie in die vorm van ‘n koek. Ek beveel die koek aan vir ‘n nagereg en nie iets wat ‘n mens vir ‘n verjaarsdag sal aankoop nie. Die bak self is ‘n les op sy eie wat in volgende resepte sal help met ‘n verskeidenheid van vaardighede in die kombuis.
“To twist it is to create something new, something better and something that’s worthy of sharing!”
KOEK:
80 g botter
2 eetlepels strooisuiker
¾ koppie gouestroop
½ koppie klapper
1½ koppie koekmeel
½ teelepel koeksoda
1½ teelepels bakpoeier
2 eiers
3 eetl filterkoffie opgelos in 10 eetlepels warm melk (dit maak ongeveer 9 eetlepels koffie wanneer die moer afgegooi is)
6 eetlepeles koue melk
Verhit die oond tot by 160ºC / 3 gas. Vir die bak het ek ‘n groot broodpan gebruik, so maak gebruik van soortgelyke pan en voer dit uit met bak of waspapier. Met dié beslag werk die waspapier net beter omdat die beslag styf is.
Verhit die suiker, stroop, botter en klapper in ‘n pot totdat dit gesmelt het.
Sif die meel, koeksoda en bakpoeier by. Doen dit met tussenposes sodat die meel eers meng voor jy weer byvoeg. Voeg die eiers en dan die 9 eetl koffie by, roer die vloeistof goed in en dan voeg jy die 6 eetl koue melk by.
NOTA: Hoe meer jy meng hoe groter is jou kans om ‘n kluitjie te bak, so dink meer aan die term “in vou” as “in roer met spoed”
Skep dit uit in jou pan en maak dit gelyk. Bak vir 40 – 50 min. Ek het al op 35 min begin toets
Laat die koek eers afkoel in die pan vir 10 min. Draai om op ‘n draadrak om koud te word. Trek dan eers die papier af.
VULSEL:
½ koppie botter of roomkaas
2 koppies versiersuiker
1/3 koppie klapper
60 ml filterkoffie aangemaak in warm melk
Vir die vulsel klits ons die botter/roomkaas totdat dit sag is. Voeg gedeeltelik die versiersuiker by en voeg dan weer gedeeltelik die afgekoelde melkkoffie by totdat dit maklik smeerbaar is. Ek het 60ml gebruik. Die koek sny maklik in die helfde om die vulsel op te sit. Rooster die klapper en strooi bo-oor.
Orals het ek gespeel met die vloeistowwe vir die perfekte balans. Pas dit aan soos jy wil.
Koffie en klapperkoek met ‘n twist vir nagereg… .done!
Resep en foto: Jaco Bester