THANKSGIVING KALKOEN

kalkoentested

THANKSGIVING  KALKOEN

My eerste “Thanksgiving”! Baie dankie aan almal wat gehelp het met raad!!! Nog nooit het ek ‘n voël so bestudeer soos die een nie!!! Op die einde het ek uit ‘n paar resepte my eie gemaak!!
250 gr margarien
sout en peper
sap en skil van 1 suurlemoen
huisie knoffel
handvol pietersielie
olyf olie
Meng alles saam en maak dan die vel los by die borsgedeelte van kalkoen en druk die daarin. Sit suurlemoen en ui binne in. Vryf olyfolie buite om.  Pak repies spek oor bors.
Plaas 1 Liter kookwater onder in oondpan, sit ‘n grid of iets in pan dat kalkoen nie op bodem le nie. Draai toe met foelie blink kant na binne en bak dan 15 min vir elke 500gr. Wanneer gaar, maak foelie oop en verwyder spek en bedruip met olyfolie tot mooi bruin!!
Dit was heerlik en glad nie droog nie!!!
BRON: Thea Vd Merwe Schutte



KALKOEN MET VRUGTEVULSEL

tested

KALKOEN MET VRUGTEVULSEL

Vulsel
5 koppies growwe broodkrummels;
250 ml gaar rys;
4 stingeluie, gekap;
200 g gemengde droëvrugte, gekap;
10 ml gerasperde suurlemoenskil;
5 ml droë salie;
5 ml droë tiemie;
3 ml droë roosmaryn;
60 g botter, gesmelt;
hoenderaftreksel om aan te klam;
sout en peper na smaak
Sous
200 ml pruimkonfyt;
30 ml heuning;
30 ml bruinsuiker;
10 ml sojasous;
15 ml rooiwyn-asyn;
3 ml mosterdpoeier;
‘n klein bietjie suurlemoensap;
‘n 3 tot 3,5 kg Amerikaanse kalkoen;
sout en peper.

Vee die kalkoen droog en besprinkel die holte met sout en peper. Meng al die bestanddele vir vulsel en stop die kalkoen se maagholte en nek en bind die kalkoen vas. Plaas kalkoen op ‘n geoliede braairak in ‘n oondpan en rooster vir 25 tot 30 min. by 180C. Berei intussen die bedruipsous voor. Meng al die bestanddele. Die sous is nogal dik. Bedruip die kalkoen gereeld tot goudrooi kleur en gaar. Rooster vir twee en ‘n half uur tot gaar.

Resep geplaas deur Antoinette Opperman Burger




KALKOENBOUDE

kalkoenboudetested

KALKOENBOUDE
2 kalkoenboude
250ml rooiwyn
175 ml tamatiesous
175 ml chutney
100 ml mosterd
25 ml Worcestersous
75 ml water
sout, pepper en knoffel

Stap 1. Koop kalkoen boude by enige winkel waar jy dit kan opraap. Dis nie orals te koop nie omdat Suid Afrikaners nie eintlik kalkoen ken nie. So as jy dit op die rak sien, koop dit dadelik.
Stap 2. Sit so 2 boude in ‘n casserole / druk koker. Maak jou eie sous van rooiwyn, chutney, Worcestersous, mosterd, tamatiesous, bietjie sout, peper en knoffel, altesaam so 750ml sous. Gooi sous oor kalkoen met ‘n paar skywe uie bo op & druk in die oond vir min 2 ure as dit klein boudjies is, andersins 3 ure as dit groot boude is. In die druk koker so 45 min. (Groot boude pas nie in die druk koker nie).
Stap 3 Druk ‘n mes in om te kyk of die vleis doek sag is & skep ‘n bietjie sous oor.
Stap 4 Bedien op saam met enige groente.
Stap 5 Lek jou vingers af, want jy sal nie glo hoe lekker hierdie is nie.

Resep: Louise Groenewald
Foto:  Tanya Smith




HOENDER- OF KALKOEN BILTONG

CHICKEN BILTONGtested

HOENDER- OF KALKOEN BILTONG

Hier is ‘n resep vir hoender of kalkoen biltong. Dit kom uit my Amerikaanse boek oor vleisverwerking.Het dit nog nie probeer nie, maar lyk vir my reg.
1,36 kg hoender of kalkoen borsvleis sonder vel en bene.
1½ teelepel knoffelpoeier
3 teelepel uiepoeier
¾ teelepel swart peper (fyn)
1 teelepel mosterdpoeier
1 koppie Soyasous
1 koppie Worceshiresous
¾ koppie rooiwyn
1 teelepel Praque poeier(salpeter)
Meng al die bogenoemde bestanddele behalwe die hoender/kalkoen. Sny die vleis in repies. Meng die vleis met die marinade. Laat staan vir 24 uur, meng elke 6 ure goed deur. Hang op ‘n koel plek met ‘n waaier op tot droog.
Moet nie die praque poeier uitlaat nie, dit beveg kieme en preserveer vleis. Ek sal die rooiwyn vervang met bruin asyn.

Hoop dit sal jou help.
Resep geplaas deur Piet Pompies

 




KALKOENVULSEL

KALKOENVULSEL
Ek gee vir julle my kalkoenvulsel, want kersfees is nie kersfees sonder kalkoen nie.
100 g botter
150 g ontvelde varkworsies
100 g fyn gesnipperde bacon
1 ui gekap
3 selderystokkies
1 klein groen en rooi soetrissie (dis nou die soet soort)
1 Granny Smith appel
3 eetlepel pietersielie
100 ml pekaneute
1 teelepel salie
150 g witbrood (korsies af)
1 groot eier
swart peper
Braai die worsvleis en haal uit pan.
Braai nou die ui, bacon, seldery en rissies.
Meng nou alles goed saam en stop jou kalkoen, maar hou `n bietjie om onder die borsvel in te stop.
Smeer nou kalkoen mildelik met botter en geur met sout, peper, paprika en suurlemoenpeper.
Sit nog stroke bacon oorkruis oor kalkoen se bors.
Stel jou oond 220°C en maak kalkoen met foelie, blink kant binne, toe.
Bak 30 min. Verlaag die hitte na 170°C en bak 3 ure.
Haal foelie af en stel oond na 200°C en bak nog 30 min terwyl jy hom gereeld bedrup.
HAPPY XMAS.

Resep: Louisa Prenzler

 




KALKOEN MET VULSELS


KALKOEN MET VULSELS
Met ons gevulde kalkoen op die spyskaart vir Kersdag het ‘n mens geen ander vleisgereg nodig nie. Ons het ‘n geurige worsvulsel vir die nekholte gemaak en die liggaamsholte met ‘n brood-en-appelvulsel gestop.
Van die oorskietvulsel het ons spekrolletjies en frikkadelletjies gemaak om saam met die kalkoen voor te sit.
KALKOEN:
1 kalkoen
sout
suurlemoensap
50 g (60 ml) sagte botter/margarien
30 ml koekmeel
ontbytspekrepe
glanskersies

WORSVULSEL:
125 g onbytspek sonder swoerd
1 ui
15 ml botter/margarien
500 g varkwors
5 ml roosmaryn/salie

BROOD-en-APPELVULSEL:
25 g botter/margarien, gesmelt
250 g (4 x 25 ml) sagte witbroodkrummels
250 g (300 ml) geskilde, grof gerasperde Granny Smith appels
50 ml fyn gekapte pietersielie
fyn gerasperde skil van 2 suurlemoene
1 ml elk majolein en tiemie
sout en peper na smaak

Berei die kalkoen die vorige aand voor. As jy ‘n gevriesde kalkoen gebruik, sorg dat dit heeltemal ontdooi is. Verwyder die sakkie met afval in die liggaamsholte.
Skroei alle haartjies af en trek alle stukkies penveer uit wat in die vel afgebreek het. Sny die oliekannetjies uit. Was die kalkoen binne en buite met warm water waarin ‘n bietjie koeksoda opgelos is. Droog dit met papierhanddoek af en sout dit binne-in. Vryf die vel buite met suurlemoensap in. .
Snipper die ontbytspek en ui. Smoor dit in die smeer. Haal die vleis uit die worsderms. Voeg die spekmengsel en kruie by. Maal die kalkoenafval en voeg dit ook by. Meng alles goed.
Vul die nekholte met die worsvulsel en hou die vulsel wat oorskiet. Vou die nekvel na die rugkant om en steek dit met ‘n vleispen van of werk dit met ‘n dik naald en dun tou aan die rugvel vas. Swaai die vlerke oor die rug.
Meng al die bestanddele vir die brood-en-appelvulsel liggies saam. Stop die liggaamsholte lossies daarmee – moenie dit te styf stop nie, want dan is die gaar vulsel kluitjierig! Hou die vulsel wat oorskiet. Werk die opening met ‘n dik naald en dun tou toe of steek dit met peuselstokkies vas. Weeg die kalkoen om die gaarmaaktyd te bepaal.
Meng die 50 g (60 ml) smeer en meel en vryf dit aan die kalkoenvel. Bind die bene aanmekaar. Plaas die kalkoen op sy rug op ‘n groot, dik stuk aluminimfoelie in ‘n oondpan. Bedek die borsmet repies ontbytspek. Vou die kalkoen dig toe in die foelie. Plaas dit in ‘n koel oond by 160ºC (325ºF) en bak dit totdat driekwart van die baktyd verstryk het.
Die gaarmaaktye is soos volg:
3 tot 3 ½ uur vir ‘n kalkoen van 3 tot 4,5 kg
3 ½ tot 4uur vir ‘n kalkoen van 4,5 tot 6 kg
4 ½ tot 5uur vir ‘n kalkoen van 6 tot 9 kg
Verhoog die oondtemperatuur vir die laaste driekwart van die baktyd tot 200Cº (400ºF).
Haal die kalkoen versigtig uit die foelie en plaas dit in ‘n skoon bakpan. Verwyder die spekrepe op die bors. Bak die kalkoen tot mooi bruin en blink en bedruip dit gereeld met van die sous wat in die eerste pan agter gebly het. Bak terselfdertyd die spekrolletjies en frikkadelletjies tot gaar.
Dit word soos volg gemaak:
Rol frikkadelletjies van die oorskiet-vulsels. Fatsoeneer party van die frikkadelltjies in worsies, draai dit met ‘n reep ontbytspek toe en steek dit met ‘n peuselstokkie vas. Druk ‘n glanskersie deur die een punt van die stokkie. Plaas die rolletjies en frikkadelletjies op ‘n draadrak in ‘n bakpan en bak dit sowat 20 minute tot gaar en bruin.
Skep die vet van die oorblywende pansous af en maak ‘n lekker bruinsous om by die kalkoen op te dien.
Sit die kalkoen warm of koud voor.
Resepte geplaas deur Diane Roode Hancox