1

GEURIGE GROOTMAAT KAASSOUS


GEURIGE GROOTMAAT KASSOUS
Maak 1,6 liter. Vries hierdie kaassous in porsies van 250 ml en gebruik dit om vinnige aandetes soos gebakte lasagne of macaroni-en-kaas te maak.
110 ml botter
75 m koekmeel
1 liter  melk
’n raspertjie neutmuskaat
sout en gemaalde swartpeper
500 ml gerasperde cheddarkaas
90 ml  Dijon-mosterd
hand vol Italiaanse pietersielie, gekap
Smelt die botter in ’n middelslagkastrol oor matige hitte.
Roer die meel vir 1 min. by – moenie dat dit verkleur nie.
Giet die melk geleidelik by en roer deurentyd tot glad en dik.
Roer die neut-muskaat by en geur na smaak.
Prut liggies vir 3 min.
Haal van die hitte af en meng die kaas, mosterd en pietersielie by.
Vries in porsies van 250 ml (1 koppie) in sakkies of bakkies.
Resep geplaas deur Eileen Willis




BOEREWORS MET PAMPOEN SISHEBO


BOEREWORS MET PAMPOEN SISHEBO
4 medium uie, in klein blokkies gesny
10 groot tamaties, fyn gesny
10 eetlepels kerrie poeier
10 teelepels braai speserye
5 teelepels Steak and Chops speserye
3 kg goeie gehalte wors, in stukkies gesny
olie om uie in te braai
10 opgehoopte eetlepels bief ekstrak poeier
10 koppies pampoen

Braai die uie tot sag.
Voeg die kerrie, braai speserye en die steak en chop speserye by en braai so 2 min om geure uit te kry.
Voeg die wors by en braai lekker bruin (so 15 min op lae hitte).
Voeg die tamaties by en braai n verdere 2 minute. Roer gereeld.
Maak die bief ekstrak poeier aan met 2 koppies water.
Voeg die pampoen by met die ekstrak water en sit op lae hitte vir so 20-25 minute met ‘n deksel op.
Kook tot alles gaar en sag is.
Bedien met rys of pap.
Genoeg vir 30 mense.

Notas:
Jy kan nog meer poeier byvoeg as jy dit dikker soek.
Jy kan dit ook doen met hoender fillets wat in repies gesny is in plaas van die wors.
Jy kan jou pampoen vooraf gaar maak en net byvoeg ook as jy wil, maar dit sal gaar word in die 20-25 min wat dit prut.

Resep: Talissa Olwagen




GROOTMAAT VETKOEKE


GROOTMAAT VETKOEKE
Graag plaas ek my moeder se vetkoek resep.
Ek kry tussen 55 en 60 groot vetkoeke, my drukker is 10 cm by 10 cm.
Jy kan resep halfveer en ook in kwarte opdeel.
5 kg koekmeel
5 eetlepels sout
5 eetlepels witsuiker
400 ml sonneblom olie
4 pakkies droë gis (pers of groen)
4 eiers
3.2 liter louwarm water

Sif droë bestanddele saam, voeg die gis by, meng die olie en eiers saam, gooi by die droë bestanddele. Voeg nou jou water geleidelik by en begin te meng tot sagte deeg, knie vir omtrent 10 min tot elasties. Ek gooi altyd meer water ek hou van ‘n sagte deeg, dan rys dit makliker en blaas ook beter, laat staan om te rys vir so 50 min op warm plekke. Keer uit op geoliede werksoppervlak, druk plat met handpalm tot so 1.5 cm dik, sny in blokke of rond, pak op skink bord om ‘n 2 de keer te rys. Wanneer jy hul in die warm olie sit, gooi dadelik warm olie oor, as jy sien dit blaas op, keer dadelik om, dit sal nog wit wees aan die onderkant, maar dit is reg, bak beide kante tot mooi bruin en gaar.
Nota: Met ‘n vierkantige drukker mors ‘n mens baie min deeg, met ‘n ronde drukker is daar baie mors tussen in, jy kan weer daardie off-cuts in ‘n bol vorm, maar ek het gesien so na die 2 de keer raak die deeg taai en wil nie meer ‘n lekker vetkoek maak nie.
Resep en foto: Magda van der Merwe




GROOTMAAT MAALVLEIS EN GROENTE GEBAK


GROOTMAAT MAALVLEIS EN GROENTE GEBAK
Hier is iets vir die wat baie kos op ‘n slag wil maak, met min moeite. (Ek is alleen en berei baie op ‘n slag voor vir twee weke of meer.) Natuurlik kan dit in kleiner maat ook gedoen word!
12 kg maalvleis
3 kg Meksikaanse roerbraai
3 kg Franse roerbraai
2 kg ratatoulie mengsel
500 gram broodkrummels
12 groot uie, gesny
5 pakkies sampioene, gesny
2 pakkies Beef Hot Pot ‘cook in sauce’
2pakkes Durban Curry ‘cook in sauce’
2 pakkies Savoury Mince sous
sout en peper na smaak
Italiaanse kruie
olyf olie
borrie

Gebruik ‘n groot skottel as jy een het, die normale potte is maar klein om alles te meng.
Braai eers al die uie en die sampioene.
Meng die broodkrummels, maalvleis, sampioene, uie, Italiaanse kruie, borrie en ander speserye wat jy dalk wil in hê.
Let wel, die mengsel is net die normale goed, jy kan later die groot mengsel kleiner deel met verskillende geure (dis darem nie lekker om elke dag dieselfde te eet nie).
Deel die mengsel in twee, drie of soveel verskillende geure soos jy dit wil hê.
Jy kan nou die verskillende groente, pakkies sous en ander speserye na willekeur gebruik vir verskillende kombinasies.
Meng nou ‘n deel van die basiese mengsel met jou eie kombinasie in n ander bak.
Pak die nuwe mengsel tot bo teen die rand in n oondpan. Ek het twee oondpanne op ‘n slag ingesit. Tik dit liggies bo-op dat dit mooi teen mekaar is, dan word dit later maklik gesny en in blokke uitgehaal.
Ek het dit vir sowat 60 min gebak teen 150°C en vir die laaste 10 min die twee bakke omgeruil dat die ander een bo is, en ook bietjie meer bruin word.
Sodra dit mooi bruin bo-op is, haal uit en laat eers bietjie afkoel.
Sny dit versigtig met ‘n skerp mes in blokke soos op foto getoon word. Die broodkrummels hou dit darem so bietjie bymekaar. Skep dit maar op ‘n bed rys of jou keuse van bykosse.

Ek eet geen stysel op oomblik nie, en my porsies is sowat 600+ gram net soos dit uit die pan kom.
Die mengsel lewer sowat 30 porsies van 600+ gram op.
Die verhouding is op die oomblik baie vleis teenoor groente, maar jy kan dit gerus aanpas.

Daar is so baie opsies en verskillende geure dat mens nooit dieselfde hoef te maak nie. Jy kan amper ‘n gewone vleis balletjie resep gebruik, met die nodige om dit mince lekker te laat bind. Alhoewel die blokke wat ek gesny het, mooi in vorm gebly het. Passop vir groot stukke groente, dit val uitmekaar en bind nie lekker saam met die maalvleis nie – die wat ek kleiner roerbraai groente gebruik het. As jy nie op ‘n dieet of oefen program is nie, dink ek dit sal heerlik wees om kaas bo-oor te strooi vir die laaste paar minute!

Foto en resep: Francois Jordaan




GROOTMAAT HERTZOGGIES


GROOTMAAT HERTZOGGIES
(Maak 8 dosyn doppies)
4 koppies meelblom
250 g margarien
1 koppie suiker
3 teelepels gelyk bakpoeier
1 eetlepel vlapoeier
2 eiers
1 teelepel sout

Room suiker, botter en eiers.
Meng die droë bestanddele met jou hande in die bottermengsel.
Plaas in plastieksak om klam te bly.

Klappervulsel:
7 koppies klapper
125 g margarien
2 teelepels vanilla
2 koppie suiker
8 groot eiers
knippie sout

Room botter en suiker.
Voeg eiers, vanilla en sout by en laaste die klapper.
Gebruik bogenoemde soetkors, en rol uit tussen 2 lae plastiek.
Gebruik middelslag afdrukkertjie 6 cm om die deeg mee af te druk.
Plaas in gesmeerde kolwyntjiepanne.
Sit ‘n half teelepel appelkooskonfyt in holte van deeg.
Sit klappervulsel bo oor, maak seker konfyt is oral bedek.
Bak teen 180°C totdat deeg ligbruin is en die klapper ‘n mooi kleur het.
Foto: Cornelia van der Wetshuizen




GROOTMAAT SAGO POEDING


GROOTMAAT SAGO POEDING
12 – 18 porsies
2 liter melk nodig vir die hele resep

375 ml sago
2 kaneelstokke
750 ml melk
Meng sago, kaneel en 750 ml melk in ‘n groot pot saam en maak solank baie stadig warm. Roer kort kort.

750 ml melk
80 g botter (bietjie meer as 2/3 koppie)
160 ml suiker (2/3 koppie)
Bring hierdie 750 ml melk, botter en suiker tot amper kookpunt in mikrogolf. Oppas vir oorkook.

Meng by sago in pot en kook mengsel tot sag en deurskynend. Deur die melk te mikrogolf help dit dat die sago gouer begin kook.

6 groot eiers, geskei
500 ml melk
5 ml vanilje geursel
5 ml sout
Klits eierwitte styf en hou eenkant.
Klits eiergele, 500 ml melk, vanilje en sout saam in ‘n groot bak.

Haal pot van stoof af.
Skep met ‘n soplepel bietjie vir bietjie van die warm sago by eiergeel en melk mengsel terwyl jy klits. (Moenie te veel op ‘n slag ingooi nie en ook nie die eiergeel by die sago nie, want dan word dit roereier. Raai hoe weet ek?)
Roer styfgeklopte eierwit by.

Verdeel in 2 bakke van ± 4 liter elk. (Ek het dit nog nie alles saam in een bak gaar gemaak nie.)
Smelt ‘n ¼ koppie appelkooskonfyt in die mikrogolf en gooi oor poeding.
Bak in waterbad by 180°C vir 45 min. Dit rys baie hoog terwyl dit bak.

Sit net die oond af as die tyd om is en MOENIE die oond oopmaak vir minstens ‘n uur nie. Die poeding is nog nie heel gaar nie, dit word gaar met die staan in die oond. As mens dit bak tot dit gaar en gestol is word dit droog.
Foto: Amanda Scholtz Mostert
Resep geplaas deur Amanda Scholtz Mostert

PS Waterbad = bak poeding binne ‘n bak met water. Sit bak met poeding in ‘n oondpan en sit dit eers in die oond dan gooi jy warm water in die oondpan.




GROOTMAAT TAMATIE EN UIESMOOR


GROOTMAAT TAMATIE EN UIESMOOR
7 kg tamaties, geskil en gesny
4 kg uie, geskil en gesny
1 ½ koppie bruinsuiker
½ koppie worcestersous
1 koppie All Gold tamatiesous
1 eetlepel sout
1 eetlepel kerriepoeier
1 eetlepel swartpeper (verminder na smaak)
1 eetlepel Aromat
1 eetlepel gekapte knoffel
1 eetlepel oreganum (het gedroogtes gebruik)
½ teelepel gedroogte rissievlokkies (gekapte vars rissies na smaak)

Die smoor het ‘n effe lekker byt in. Braai uie tot deurskynend. Voeg res van bestanddele by en kook tot tamaties sag is en sous begin dik raak, maar nie droog nie. Laat goed afkoel, skep in houers en vries. Myne hou amper ‘n jaar dan is dit op. Ek gebruik somer die plastiek mayonnaise bottels om te vries, moenie tot heel bo volmaak nie, as dit vries sit dit uit.
Hoeveelheid: +-12 houers elke houer vat 750 gram, hoop dit help
Resep en foto: Alta Gunter Van Dyk




GROOTMAAT TAMATIE KONFYT


GROOTMAAT TAMATIE KONFYT
8 kg tamaties (dit was die lang konfyt tamaties, in stukke gesny)
8 kg suiker
½ koppie suurlemoensap
so 3 stukke vars gemmer, geskil en bietjie gekneus

Ek pak my bestanddele in lae in my pot. Roer maar deurentyd tot op stoof tot suiker opgelos is. Konfyt moenie begin kook voor al die suiker nie opgelos is nie.
Kook tot tamaties deurskynend is en stroop effe dik is. Tamatie konfyt is maar ‘n loperige konfyt. Haal stukke gemmer uit, indien verkies. Bottel warm in gesteriliseerde flesse en seël dadelik.
Resep en foto: Alta Gunter Van Dyk




GILLIAN SE PANNEKOEK


GILLIAN SE PANNEKOEK
10 koppies koekmeel
15 ml bakpoeier
10 ml sout
6 groot eiers
50 ml suurlemoensap
2 koppies olie
12-14 koppies water

Gooi al die vloeistof-bestanddele in ‘n groot mengbak, sif dan die droë bestanddele bo-oor. Klits tot glad. Laat mengsel vir ten minste een uur staan voor dit gebak word. Hierdie pannekoek is sag en word glad nie taai as dit oorstaan na die volgende dag nie.
Resep: Gillian Vermeulen




PEPPERMINT CRISP TERT GROOTMAAT


PEPPERMINT CRISP TERT GROOTMAAT
2 pakke tennisbeskuitjies
3 blikke caramel treat (oorspronklike een)
1 liter room
2 groot slabs peppermint sjokolade (ek het Bubbly gebruik, Aero werk ook baie goed)

Klits die room en caramel treat saam totdat die room styf is. Rasper die sjokolade (hou so klein bietjie eenkant om bo-op te strooi) en meng saam met die room mengsel.
Pak ‘n lagie tennis beskuitjies, gooi dan ‘n lekker dik laag van die room mengsel. Pak weer laag tennis beskuitjies en dan weer laag room mengsel. Hou so aan totdat die mengsel klaar is maar einding met die room mengsel. Sprinkel gerasperde sjokolade (die bietjie wat eenkant gehou moet word) bo oor en sit in die yskas om te stol. So 4 ure is genoeg maar oornag is dit lekkerder.
Dis genoeg vir 20-30 mense hang af hoe groot die mense die porsies skep. In ons geval was die tert binne sekondes verober en ons was 20 mense.
Resep en foto: Juanita Vermeulen