

IDEES EN RESEPTE MET BOEREWORS
Rentia Heijmans:
Kook die wors of braai dit tot gaar. In ‘n ander pot, braai uie, knoffel, speserye, kerriepoeier, soetrissies, en sampioene. As jy wil braai tamaties saam. Sit die gesnyde wors wat in klein stukkies is by en braai/kook saam tot alles gaar is. Skep op rys of kappokaartappels.
Johan van Lelyveld
Boerewors Breyani:
1-2 kg boerewors, in stukke van sowat 3-5 cm gesny
825 g-blik perskeskywe, gedreineer
sout en peper na smaak
2 koppies rys
½ koppie bruinlensies
3 groot uie, in ringe gesny
1 groot groen soetrissie, ontpit en gekap
olyfolie
4 eetlepels (opgehoop) kerriepoeier (matig of warm)
1 teelepel borrie
1½ koppies Mrs Ball’s-blatjang
1 koppie water
Sit die boerewors in ’n oondvaste bak en gooi die perskeskwye bo-oor.
Geur na smaak met sout en peper en strooi dan die rys en lensies oor die wors en perskes.
Braai die uie in ’n bietjie olyfolie tot goudbruin. Roer die soetrissie by.
Voeg die kerriepoeier, borrie, blatjang en water by. Meng goed, verwyder van die hitte en skep oor die boerewors-mengsel. Maak seker die rys en lensies is bedek met die vloeistof (indien nie, voeg nog water by).
Bedek die bak met foelie en bak vir 45 min. teen 180 °C totdat die boerewors, rys en lensies gaar is. Al die vloeistof moet geabsorbeer wees (indien nie, sit die bak terug in die oond en bak onbedek vir nog 15 min.).
Sit die breyani voor met sambals.
Johan van Lelyveld
Boerewors Frikkadelle, met Kaas
Boereworsvleisie uit derm geryg ongeveer 1½ kg
1 medium ui in blokkies gesny
1 teelepel growwe swart peper (Ekstra)
1 eetlepel koekmeel
1 eier
75 ml olyfolie
150 g kaas gerasper
Meng alles saam en maak sulke krieketbal grootte frikkadelle.
Smeer ‘n bak met olyfolie en pak die frikkadelle daarin. Bak teen 150ºC vir 30 min tot 45 minute.
Wanneer hulle uit die oond kom, giet so 150ml vars room bo oor die frikkadelle, en bedien met rys of “mash Potatoes”
Johan van Lelyveld
Boereworspasteitjies:
1 rol (400 g) reg-om-te-gebruik-skilferkorsdeeg
45 ml heelkorrelmosterd
4 stukke boerewors van 15 cm elk
1 eier, geklits
Voorverhit die oond tot 210 °C. Rol die skilferkorsdeeg effens dunner uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Sny in vier ewe groot reghoeke. Smeer elke stuk deeg met ’n lagie heelkorrelmosterd.
Druk die vleis van elke stuk wors versigtig uit die derm en vou dit in die deeg toe. Seël die kante met ’n vurk en verf met geklitste eier. Pak op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.
Bak vir 10 minute, verlaag dan die temperatuur na 180 °C en bak ’n verdere 10-15 minute. Sit voor met skyfies en tamatiesous of blatjang. Lewer vier pasteie.
Johan van Lelyveld
Boereworspaella
Sit voor saam ‘n eenvoudige mengelslaai en lekker vars broodjie
800 g goeie boerewors – duim grootte gesny
1 groot ui – ringe gesny
1 rooi soetrissie – repe gesny
1 groen soetrissie – repe gesny
1 geel soetrissie – repe gesny
6 knoffelhuisies gekneus
1 pakkie sampioene – grof opgekap
1 teelepel tiemie
1 koppie wit rys
1 ½ koppie aftreksel – van jou keuse
½ koppie soet sjerrie
2 eetlepels tamatie paste
Sout en varsgemaalde Swartpeper
1 klein blikkie ertjies
½ koppie olie vir braai
In ‘n lekker diep kleeflose braaipan (* een wat deksel het ) sit die olie in en maak pan lekker warm
Plaas die wors stukke in pan en braai tot mooi goudbruin.
Sit die tiemie, uie en soetrissies, knoffel en sampioene by en roerbraai alles saam oor ‘n medium hitte tot alles begin braai kleur kry.
Roer tamatie paste deur mengsel, voeg die rys, aftreksel en sjerrie by.
Sout en peper na smaak.
Verlaag hitte, sit deksel op en prut tot rys sag en vloeistof verdamp het.
Roer gedreineerde blikkie ertjies deur, bedien dadelik
Nota:
Hou die boerewors in vrieskas vir 25 min voor jy dit in stukke opsny, dit help net dat jy dit mooi stukke kan afsny sonder om die dermpie na flarde sny.
Johan van Lelyveld
Wors – Pot
Bietjie kookolie vir braai
2 eetlepels botter
1 kg boerewors
500 g varkworsies
1 blikkie botterbone
3 teelepels koekmeel
3 koppies aftreksel van jou keuse
½ koppie rooiwyn
2 eetlepels tamatiepuree
1 teelepel mosterdpoeier
1 eetlepel worcestersous
1 teelepel tiemie
3 groot uie grof gekap
6 knoffelhuisies , mooi gekneus
paar geelwortels skil af en lang “stir-fry” repies gesny
vars gemaalde swartpeper
Maak bietjie kookolie in ‘n groot pot warm, braai wors aan albei kante tot mooi bruin.
Plaas 2 eetlepels botter by, voeg uie, knoffel en wortels by. Potbraai vir vyf minute alles saam oor matige hitte. Maak pasta met water en koekmeel en meng by worspot saam met aftreksel, sit die botterbone by en die res van die bestanddele. Bring tot kookpunt en prut stadig vir so 5 minute. Skep op saam kapokaartappels of lekker vars brood om al daai sousies op te dep,
Johan van Lelyveld
wors-pan genoeg vir 4 mense
sonneblomolie
2 uie opgekap
4 knoffelhuisies gekneus
1 groot groen soetrissie grof opgekap
1 pakkie sampioene – grof gekap
2 teelepels kerriepoeier
2 ml borrie
600 ml kookwater
15 ml blatjang
sout en peper na smaak
800 g rou boerewors, in hap grootte stukke gesny
1 blik appelkoos of perske halwes (hou sap)
1 ½ koppie rou rys
grasuie – vir garneer
Voorverhitte oond 200ºC.
Braai die uie, soetrissie en knoffel in olie tot sag, voeg sampioene by en braai 2 min.
Voeg die kerriepoeier by en braai vinning deur. Voeg die kookwater, blatjang, sout en peper by na smaak, laat paar minute prut baie stadig.
Pak die rou wors in ‘n groterige oondpan en skep die uiemengsel bo-op die wors. Sit die appelkoos / perske helftes bo-op die wors en giet sap oor. Sprinkel die rou rys eweredig oor, maak toe met foelie en bak vir ongeveer 40 minute of totdat die rys gaar is. Maak oop en bak tot gereg bietjie kleur kry. Dien warm op, sprinkel met gesnipperde grasuie..
Sit saam met groenslaai en vars broodjie
BOEREWORS-FRITTATA
resep geplaas deu Johan van Lelyveld
15 ml (1 eetlepel) olyfolie
500 g boerewors
4 groot aartappels, gekook en in skywe gesny
60 ml (¼ koppie) gekaramelliseerde uie
200 g (2 wiele) fetakaas, gekrummel
5 eiers, geklits saam met 60 ml (¼ koppie) melk
sout en peper
Voorverhit die oond tot 200 °C.
Voer ’n 20 cm-koekpan met tinfoelie uit.
Verhit die olie en braai die wors tot goudbruin en gaar.
Pak lae aartappel, uie, wors en fetakaas in die koekpan.
Geur die eiermengsel met die sout en peper en giet in die koekpan. Bak 30 minute in die verhitte oond of tot gestol. Laat effens afkoel en sny in skywe.
Sit voor saam met tamatieslaai.
Johan van Lelyveld
Brood-en-wors-slaai:
1 groot Franse brood
olyfolie vir vlakbraai
300 g boerewors
250 g ryp tamaties, in kwarte gesny
1 klein rooiui, in skywe gesny
100 g cheddarkaas, grof gerasper
slaaisous van jou keuse
Voorverhit die oond tot 160 °C en breek die brood in growwe stukke. Pak die stukke op ’n groot bakplaat.
Bak die broodstukkies sowat 10 minute tot goudbruin en bros en laat afkoel.
Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n pan en braai die boerewors oor matige hitte tot gaar. Laat staan vir ’n paar minute. Sny in 2 cm-stukkies.
Meng die boereworsstukkies, tamaties, rooiui en cheddar in ’n mengbak en skep dit uit op ’n groot opdienbord.
Sprinkel die broodstukkies oor en bedruip met ’n slaaisous van jou keuse.
Johan van Lelyveld
BOEREWORS EN PIESANGGEBAK
500 g boerewors
6 ryp piesangs in skywe
2 ml mosterdpoeier
2 ml paprika
1 ml swartpeper
15 ml suurlemoensap
250 ml suurroom
50 ml gerasper chedder
Rooster wors in ‘n pan tot amper gaar. Sny in skywe. Strooi mosterd, paprika, peper en sap oor piesangs. Rangskik wors en piesangs in ‘n oondbak. Giet room oor en strooi kaas oor.
Bak by 160ºC vir 20 min.
Johan van Lelyveld
BOEREWORS EN MIELIEMEEL MUFFINS
250 ml bruismeel
3 ml sout
185 ml mieliemeel
70 ml margarien
Swartpeper
125 ml gerasper kaas
250 ml gaar gekrummelde boerewors
2 gekapte knoffelhuisies
2 geklits eiers
250 ml melk
Verhit oond 200ºC.
Sif meel en sout saam.
Voeg mieliemeel by.
Vryf margarine in.
Voeg res bestanddele by buiten eier en melk.
Klits eiers en melk en voeg by en meng goed deur.
Skep in gesmeer kolwyntjiepanne.
Bak 25 minute.
Lewer 12.
Johan van Lelyveld – dis in my “resepteboek”, maar ek het geen clue waar almal vandaan kom nie. Jammer
Cheryl Ferreira:
Ek maak meatballs van my wors, kook dit in uie en tamatie paste en dan meng ek my gekookte spagetti saam in en roer deurmekaar en dan kaas bo oor.
Celia De Villiers:
Enslin Worskos – Ons naam daarvoor.
Braai wors tot amper gaar, sny in stukkies. In dieselle pan, ek gebruik ‘n diep pan of pot, sit blokkies aartappels en so koppie skulpie pasta by.
Voeg twee of meer koppies water by, geur met lekker speserye en kook stadig tot gaar.
Maak dikker met sousie van bietjie soppoeier en melk of water gemeng.
Bedien met blatjang of tamatiesous of my gunsteling – sweet chillisous.
Jy pas aan soos jy wil. Ek het al sampioene gebraai en by gesit. Verskillende soppoeiers gebruik, oxtail of bruinuie werk lekkerste, maar die ander is ook lekker.
Met min wors maak jy ‘n groot pot kos, hou net dop dat dit nie aanbrand nie.
Sit nog water by as die aartappels en pasta nog nie sag is nie.
Elaine Schoeman:
4-6 stukke boerewors (worsbroodjie grootte)
Olie vir braai
1 groot ui
1 soetrissie
30 ml sterk kerrie (of na smaak)
10 ml borrie
5 ml Cunjun speserye
15 ml appelkooskonfyt of 15 ml bruinsuiker
130 ml sterk blatjang
30 ml Worcestersous
2 knoffelhuisies
Sout na smaak
250 g rou macaroni (kan ook met ¼ koppie rys vervang word)
4 groot aartappels (in groterige blokkies gesny)
4 gekookte eiers
Sny uie, greenpepper en knoffel in klein blokkies en braai liggies in bietjie olie saam in ‘n pot,(ek gebruik ‘n plat swartpot) (+- 3min), met die kerrie, borrie en cunjun sperserye
Skep dit uit en hou eenkant
Neem die wors en sny in kleiner stukkies (+- 5cm) en braai in dieselfde pot tot bruin
Skep die eerste bestanddele terug. Voeg die aartappels, blatjang, worcestersous en appelkooskonfyt of bruinsuiker by. (indien rys verkies word, voeg dit tesame met die aatappels by). Roer goed deur en voeg net genoeg water by om die res van die bestandele in te kan prut tot aartappels en rys gaar is.
Voeg die macaroni by wanneer die aartappels amper gaar is, sodat dit nie pap kook nie. (indien rys nie gebruik word nie).
Voeg sout na smaak by
Voor opdiening, roer die pot deur, en sny die gekookte eiers in die helfte.
Bedien hierdie “stew” met die gekookte eiers, (wat van die “stew” sousie oor het) saam met roosterbrood.
Petré Van Jaarsveld:
Worspastei
Braai gekapte uie, soetrissie en sampioene in ‘n pan tot uie deurskynend is.
Sny wors in stukke (nie te groot nie), voeg groente by en ‘n bietjie water, worcestersous, blatjang, bietjie sout en peper. Verdik die sous met koekmeel of soppoeier wat met bietjie water gemeng is. Skep in ‘n oondbak en skep ‘n slapperige deeg oor of gebruik puffpastry. Bak tot goudbruin. Bedien met rys, soetpampoen.
Herman Senekal:
Ek het Maandagaand ook iets anders met wors probeer en noem dit “spaghetti boerenaise”. Moet bieg, was nogal lekker. Wors in pan gebraai. In aparte pot tamatie smoor gemaak met ‘n bietjie knoffel, oreganum, pietersielie en tiemie. Die wors in “bite sizes” opgesny en by gevoeg en toe bo-op spaghetti bedien. My familie was mal daaroor.