RONEL SE MACARONI- EN VISGEREG

RONEL SE MACARONI- EN VISGEREG
Foto en resep: Ronel Muller Thomas
Het vanmiddag vir ons vir middagete gemaak.
500 g macaroni
1 eetlepel margarien
knippie neutmuskaat
2 knoffelhuisies, opgekap
2 medium uie, opgekap
knippie sout
¼ koppie kool, opgekap
1 blik Pilchards
½ blik chakalaka

Kook macaroni tot gaar volgens die aanwysings op die pak.
Braai die uie en knoffel in ‘n pan tot deurskynend en voeg ‘n bietjie sout by.
Voeg die kool by en braai verder. (Ek het kwart kop kool van klein koppie kool gebruik. )
Voeg die chakalaka en Pilchards by en braai alles saam totdat die vis en chakalaka lekker deurwarm is. (Ek het geen water bygevoeg nie.)
Dreineer die macaroni en voeg die margarien en neutmuskaat in die warm pasta. Roer die vis en kool by die pasta.
Ek het dit opgedien saam met gerasperde kaas.
Nota – vir aandete het ek burgers gemaak van die gereg. Het macaroni fyner gekap en gemeng met 4 snye fyngekapte ham, ½ koppie gerasperde kaas, 1 eier en meel bygevoeg totdat dit ‘n pattie kon vorm. Ek het die patties in ‘n warm pan met bietjie olie in gebak op die stoof.




HEERLIKE VLEIS EN GROENTE OMELET


HEERLIKE VLEIS EN GROENTE OMELET
Hierdie resep het ons vandag probeer. Verseker ‘n wenner. Gebruik enige kombinasie van groente, vleis of kaas waarvan jy hou. Ons het in plaas van kasseltjops gisteraand se oorskiet boerewors en spek gebruik. Baie lekker.
3 Kasseltjops, in blokkies gesny of enige vleis van jou keuse
olie, vir braai
2 groot uie, in wiggies gesny, of 12 klein baba-uitjies, geskil
1 pak (300 g) mengsel van vars broccoli en blomkool of groente van jou keuse
6 eiers
125 ml room
125 ml melk
3 ml vars tiemie, fyn gekap
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Voorverhit die oond tot 160°C.
Braai die blokkies Kasseltjops (vleis) in ’n bietjie olie in ’n swaarboompan tot goudbruin.
Skep uit in ’n oondvaste bak en hou eenkant.
Braai die uie stadig in dieselfde pan tot sag  Meng die uie met die varkvleisblokkies(vleis) in die oondbak.
Stoom die broccoli en blomkool (groente) liggies in ’n bietjie soutwater.
Dreineer en voeg dit ook by die vleis en uie in die oondbak.
Klits die eiers, room en melk saam, voeg die tiemieblaartjies, sout en peper na smaak by en giet oor die vleis en groente in die oondbak.
Bak vir ongeveer 40 minute, of tot die eiermengsel gaar en die bokant goudbruin is.
Lewer 4 porsies.
Foto:  Louw LP Senior
Resep geplaas deur Louw LP Senior




PETRE SE KAPOKAARTAPPEL EN WORSGEREG

PETRE SE KAPOKAARTAPPEL- EN WORSGEREG
Resep en foto:  Petré Van Jaarsveld
FOOD LOVERS RECIPES
Heel toevallig was dit op my spyskaart vir vanaand. Ek het vanmiddag ‘n resep hier gesien, maar kon dit nie opspoor nie. Hier is my weergawe.
4 aartappels geskil, in blokkies gesny, en sag gekook in sout water.
Dreineer water af.
Voeg een opgehoopte eetlepel botter, en ‘n half teelepel bakpoeier opgelos in ‘n bietjie melk by, asook ‘n klein bietjie fyn neutmuskaat.
Maak fyn en hou eenkant.
Ek het nog van gisteraand se Basmati rys oorgehad, dit ‘n bietjie warm gemaak en met ‘n bietjie botter gemeng. Voer ‘n pirex bak met die rys uit.
Vir die wors vulsel het ek die volgende gebruik:
2 groterige uie gekap
½ groen soetrissie gekap
½ teelepel fyn knoffel
2 klein takkies roosmaryn gekap
2 takkies oreganum gekap
Vars gemaalde swartpeper na smaak
Braai bogenoemde alles saam in ‘n pot of pan tot uie sag en deurskynend is.
Voeg die volgende by:
1 blikkie tamatie en uiesmoor
3 eetlepels blatjang
3 eetlepels Sweet Chili sous
bietjie Soja sous, en n
1/3 koppie rooiwyn
Sny wors in stukke en voeg by uie en tamatie mengsel. Kook goed deur tot wors gaar is.
Maak ‘n pakkie wit uiesoppoeier in ‘n bietjie water aan, voeg by mengsel en prut tot dik. Voeg gekapte pietersielie by en roer deur..
Skep vulsel oor rys in die bak. Skep kapokaartappels bo-oor en rasper kaas oor.
Bak teen 180ºC tot goudkleurig.




KAPOKAARTAPPELS EN WORSGEREG


KAPOKAARTAPPELS EN WORS GEREG
Resep geplaas deur San-Mare Joubert Fourie
Foto 1:  San-Mare Joubert Fourie
Foto 2: Adam Cloete
FOOD LOVERS RECIPES
Nuwe manier van kapokaartappels en wors.
Klaar gaar kapokaartappels
klaar gaar wors
gebraaide uie na smaak
blatjang na smaak
1 blikkie tamatie en uie smoor
1 pakkie wit uiesoppoeier aangemaak met 1 koppie melk
Gerasperde kaas na smaak
Sit onder in ‘n oondbak kapokaartappels,  dan laag gaar wors, uie, dan blatjang, blik tamatie en uie smoor. Giet die uiesop mengsel bo oor. Volg met kaas.
Bak by 180ºC  in oond tot gestol.
Heerlik!!




OORSKIET BRAAIVLEIS ROERBRAAI MET SJINEESE GROENTE EN DIK SOETSUUR SOUSIE

OORSKIET BRAAIVLEIS ROERBRAAI MET SJINEESE GROENTE EN DIK SOETSUUR SOUSIE
1 kg pak vars gesnyde groente
4 blokkies droë eier noedels
2 Half gaar sirloin steaks
Kook noedels vir 3 minute, spoel af in koue water en hou eenkant terwyl jy die vars groente vinnig roerbraai in sesamesaad olie vir so 5 minute. Voeg die gaar dungesnyde braaivleis by asook die gedreineerde noedels. Meng met vurke en bedien onmiddelik met souse van jou keuse. Sprinkel met gesnipperde sprietuitjies.
Resep en Foto: Elsabie Templeton




RENATE SE JAMBALAIA

RENATE SE JAMBALAIA
1.5 kg hoenderboudjies
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
10 ml rooipeper
15 ml paprika
60 ml olie
2 chorizo worsies, in skyfies gesny
2 groot rooi uie gekap
1 rooi soetrissie, in repies gesny
2 selderystingels, gekap
1 wortel, gerasper
2 knoffelhuisies, gekneus
400 g / 500 ml rys
8 songedroogte tamaties, gekap
700 ml hoenderaftreksel
Bossie sprietuie gekap
Geur hoender met sout en peper. Meng rooipeper en paprika en vryf ook in hoender in. Braai hoender in olie tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant. Braai worsies ook goudbruin en skep by hoender. Braai uie nou tot sag. Skraap bodem van pot om bruin deeltjies los te maak. Voeg soetrissie, seldery en wortel by en roerbraai tot sag en gekaramelliseer. Roer knoffel by, skep hoender en worsies terug in kastrol en roer rys en tamaties by. Voeg aftreksel by, sit deksel op, verlaag hitte en laat prut vir 30 minute of tot rys en hoender gaar is. Indien nodig, voeg nog aftreksel by. Sprinkel sprietuie oor en sit voor
Resep geplaas deur Renate Strydom Engelbrecht
Foto: Renate Strydom Engelbrecht




WORS OP KLIPSOP RYS

WORS OP KLIPSOP RYS
Foto en Resep:  Ida de Beer
FOOD LOVERS RECIPES
Vir die lui huisvrou (soos ek) en dis bietjie iets anders, weet nie wie van julle het dit al gemaak nie?
± 50 ml kookolie
1 na 2 koppies rys (hang af van hoeveelheid mense wat gaan eet)
boerewors, (weereens, na gelang van hoeveel mense gaan eet)
sout en pepper na smaak
Aromat vir geur
1 teelepel BBQ spice
water vir gaar kook
Verhit olie in kastrol, net genoeg dat boom van kastrol bedek is.
Voeg rys by na smaak (ek het vandag 2 koppies rys gevat, want dan is daar genoeg vir my man se kosblik)
Soms braai ek eers bietjie ui en knoffel in olie, maar dis opsioneel.

Braai rys met BBQ speserye totdat rys begin wit word van die hitte, roer gedurig. (Ek braai dit sowat 1 na 2 minute, hang af hoe warm olie vooraf gemaak is.)
Voeg water by, sodat rys nie aanbrand.
Voeg ‘n blikkie Tamatie en Uie smoor by, roer deur.
Roer res by: sout, peper en aromat.
Sit wors bo-op rys en maak teen baie lae hitte gaar met deksel skeef op, dat dit net-net prut.
Wors kan geprik word dat worsvet in rys intrek, opsioneel.
Wors is bleek omdat dit nie gebraai is, maar steeds baie lekker saam met rys.
Mengelslaai kan by gemaak word.
Dis ook baie lekker met sjoe-sjoe sous: (Sheshebo of Chakalaka).

Nota:
Roelien Botha  – Min of meer hoeveel water? Ek wil graag iets soortgelyks doen,maar met hoenderrepies.
Ida de Beer –  Roelien, ek het voeg die water gewoonlik by totdat ek dit fisies sien deurkom by die rys, want die rys moet uitswel, amper soos wanneer jy rys normaalweg kook. Ek sit dit op hoë hitte totdat dit kook, dan stel ek dit af na laagste stelling op stoof en dit prut vir sowat een uur (deksel skeef op om nie wors vel taai te kook nie), dit sal seker dieselfde wees met hoender repies, dis ‘n fantastiese idee, veral met daai geurige Chicken spice by.




HEERLIKE KOSPAKKIES OP DIE VUUR


HEERLIKE KOSPAKKIES OP DIE VUUR
Gevulde hoender fillette (hierdie was ruim gevul met bloukaas) enige kaas kan gebruik word.
Heel stukke kool wat spek toegedraai is.
Baba artappels.. geskil
Baba wortels
Boontjies
Knopie mushrooms
Klein ui in growwe stukke gesny
150 gram knoffel botter
“Patatobake ” sout en peper na smaak
Hoeveelhede gaan afhang hoe groot porsie elke gas gaan verkies.
Pak alles op foellie ( blink kant na binne)
Draai toe met ten minste drie lae foellie…..
Braai op n stadige hitte op n oop vuur vir n hele rugby wedstryd lank sonder om om te draai.
Foto en Resep:  Willem Kotzee




PASTA, SPEK EN BOELIEBEEF GEREG


PASTA, SPEK EN BOELIEBEEF GEREG
Vir 6 persone
300 g gaar pasta
500 ml witsous
250 g spek gebraai en in stukkkies gekap
2 blikkies boeliebeef in klein blokkies gesny
1 ui gekap en gebraai
250ml gerasperde kaas
Begin met witsous en pak in lae, witsous, pasta, vleismengsel, herhaal tot alles gebruik is in ‘n oondbak
Eindig met witsous en kaas en paprika bo oor.
Bak 30 minute op 160 ºC.
Heerlik net so of met ‘n groenslaai
Foto en resep:  Magde Van der Kolff




EENPOT KERRIE BEESVLEISPOT

EENPOT KERRIE BEESVLEISPOT
Ek het vandag ‘n eenpot kerriebeesvleispot in die oond gemaak. Ek het vandag twee vergaderings gehad en het vanoggend die voorbereiding gedoen. My bediende Marthah het die gaarmaak proses vir my gedoen.
Ek het net vir haar die gaarmaak tyd teen die kennisgewingbord geskryf.
1.5 kg bees kookvleis
1 groot uie gekap
1 kg gemengde potjiekos groente (nie gevriesde groente nie.
Verbruin vleis haal uit en braai uie tot sag, meng die vleis by en gooi in ‘n casserole.
Pak groente bo-op.
Sous
750 ml droë rooiwyn
5 ml gekapte knoffel
15 ml tamatiepaste
15 ml soyasous
1 pakkie beesstertsop
5 ml kerriepoeier
15 ml matige Tandoori paste
125 ml sterk blatjang
100 ml matige peppadew blatjang
150 ml water
15 ml gemengde gedroogte kruie
15 ml aromat
5 ml knoffelsout
5 ml suurlemoenpeper
3 lourierblare
2 eetl maizena
Meng al die bestandele vir die sous saam en gooi oor vleis.
Plaas in vooraf verhitte oond by 180°C vir 1 uur, draai die oond af na 150°C vir 1 uur, draai die oond af na 70°C vir 1 uur. Vanaand toe ons eet was die vleis heerlik sag gewees.
Resep en foto: Elna Erasmus – assistent: Marthah