VETKOEK VIR 2 MENSE


VETKOEK VIR 2 MENSE
Lewer 6 – 7 vetkoeke
2 koppies koekmeel
1 teelepel sout
1 pakkie kitsgis
1 teelepel bakpoeier
1 teelepel asyn
50 ml kookolie
200 ml louwater
Knie goed en laat rys tot dubbel. As jy ‘n broodmasjien of Kenwood het gebruik dit om die deeg te knie. Anders sal jy maar moet GOED knie.
Strooi die oppervlakte met Maizena (mielieblom) en rol dan die deeg uit en druk uit met ‘n glas.
Bak dan in die warm olie. Olie moet nie te warm wees nie, anders is die vetkoek aan die buitekant gaar en nog rou binne.
As jy hierdie vetkoek hol wil hê, dan gebruik jy ‘n lepel en skep die warm olie op die vetkoek sodra jy dit in die olie gesit het.
WENK:
Indien jy die resep vermeerder MOENIE die suurdeeg verminder nie, ek dink dit is waar die geheim lê.
1 pakkie suurdeeg is genoeg vir 1 kg koekmeel om te rys. So baie mense mag dalk dink die resep klink na baie suurdeeg. Maar ek dink dit is waar die geheim lê, 2 koppies meel, met die koppie geskep in die houer, nie met ‘n lepel vol geskep nie en 1 pakkie suurdeeg.
Dan gebruik mens 2 bottels van 750ml kookolie sodat die olievlak diep genoeg is.
Ons oumas het nie termometers gehad om die olie se temperatuur mee te meet nie. So wat het hulle gedoen?
Maak die olie warm en gebruik dan ‘n klein toetsstukkie deeg om te kyk of die olie warm is.
As jy die stukkie deeg ingooi, moet dit amper onmiddelik na bo kom. As dit onder bly lê, is die olie nog nie heeltemal warm genoeg nie. Gee nog ‘n minuut of so en toets weer.
Die vetkoek moet ook nie dadelik bruin word nie, dan is die olie te warm.
Resep geplaas deur Meisie van der Colff
Foto: Rina Kleinhans









