ALBERTA SE SNACKLE RESEP

ALBERTA SE SNACKLE RESEP
Na aanleiding van die doppie ystertjies waaroor almal deesdae praat, het ek gou vanoggend dit getoets.
Ek het my gewone snackle resep vir beide gemaak:
Snackle Resep
(Hierdie resep kan ook halveer word)
2 eiers
2 koppies koekmeel
1 koppie water
1 koppie melk
knippie sout

Terwyl yster in kookolie warm word, Meng alles saam tot glad en bak. Doop die warm yster wat jy bietjie afgevee het om van die oortollige olie ontslae te raak driekwart in die deeg en dan in die warm olie.
Bak tot goudbruin en dreineer op koerantpapier of kombuisrol.
Laat afkoel en vul na keuse so ‘n uur voor opdiening anders raak die doppies pap.
Ek het 36 Snackle doppies en 34 Rossette doppies met bogenoemde beslag gemaak.
Die Snackle doppies gaan ek met soutvulsel vul en die Rossette doppies met stroop en versiersuiker bo-oor sif.
Resep en foto’s: Alberta van Wyk




CORRIE SE STAATMAKER DEGIE VIR PASTEITJIES

CORRIE SE STAATMAKER DEGIE VIR PASTEITJIES
Kosmaters vertel: “ek het al letterlik honderde vleistertjies op bestelling hiermee gebak- Maklik, vinnig, goedkoop en lekker”:
2 koppie koekmeel
230 g margarine (Stork)
½ koppie kookwater
Sout
Sit die margarine in die kookwater – na rukkie sal dit heeltemal smelt. Voeg by meel en meng. O ja, so bietjie sout ook.
So lekker slapdegie. Moenie skrik nie. Plaas in yskas (so uur of wat tot styf en hanteerbaar.) Rol uit en gebruik!

Vulsel:
2 kg maalvleis
2 kg aartappels
2 eetlepels Steak en Tjops geurmiddel
2 teelepels sout
½ kg gemengde groente
Kook saam tot droog en maak goed fyn.
Wenke:
My Ma het jare gelede vir n tuisnywerheid gebak en het die resep gebruik. Ek gebruik dit ook vir als. Wat ek doen, ek sit die deeg so vir 5 min in die vrieskas, (in mengbak) meng dan weer deur en weer 5 min in vrieskas en meng weer. Dan is die deeg mooi glad. Sit dan in yskas vir paar ure. Ek gooi glad nie sout by nie en die wonderwerk is dan gee die deeg nie sooibrand nie. Ek gooi dan net so bietjie meer sout in my vleis. Vir my werk Spar margarien die beste.
As jy die volgende gebruik
500 g margarien
1 koppie kookwater
4 koppies koekmeel
1 kg maalvleis
Genoeg vir 1 kg maalvleis en mens kry jy omtrent 4 dosyn vleisrolletjies uit. Die geheim van die deeg is om dit yskoud te hou terwyl jy daarmee werk.
Bron: Daleen Brits
Foto:  Elizabeth Haupt
Wilma van Niekerk  – Die ‘wenke’ kom van my af.🤪🤪gebruik al jare hierdie deeg. Het vanoggend weer 17 dos gemaak vir bestellings. Beste en lekkerste deeg ooit!

KOMMENTAAR VAN THEUNS BESTER:
Dis ‘n resepte wat Dalene Brits op die groep geplaas he so “n rukkie terug. Ek het geen idee wie Corrie is nie. Al wat ek weet is dat hierdie deeg resep die beste deeg resep is wat ek nog ooit gebruik het.




RICE KRISPIES TERTKORS

RICE KRISPIES TERTKORS
Ek weet nie of dit al met iemand gebeur het nie, maar ek was lus om iets lekkers te maak en ek was halfpad toe kom ek agter ek het niks om die kors van die tert te maak. Ek het rice krispies, klapper en bietjie versiersuiker fyn gemaak. (Jammer geen hoeveelhede) eetlepel botter in gemeng en soos ‘n tertkors gebruik. Verbasend lekker uitgekom.
Resep: Ellouise Grundling




ALTA SE DEEG VIR VETKOEK, ROOSTERKOEK EN BROOD

ALTA SE DEEG VIR VETKOEK, ROOSTERKOEK EN BROOD
6 hoog vol koppies koekmeel
Golfballetjie grootte suurdeeg, (Ek bak met koekie suurdeeg wat ek by pnp se bakkery koop)
1 hoogvol teelepel sout.
Maak holte in middel van meel en voeg bietjie sterk lou water saam suurdeeg en meng dit deur.
Voeg nog nog sterk louwater by tot ‘n sagte deeg, knie deeg goed deur.
MaAk toe en laat rys.
Knie deeg af en laat weer rys. gebruik deeg grootte volgens jou panne, vorm brood in gesmeerde pan,
Maak toe en laat tot gelyk met pan gerys,
Sit oond aan op 180 grade bak vir ‘n uur.
Vir vetkoeke maak balletjies volgens grootte van vetkoeke, laat rys ,druk effe plat, bak in warm olie,
Resep en foto: Alta Gunter Van Dyk




ELSABIE SE WILDSPASTEITJIES MET SPINASIE KAPOKAARTAPPELS


ELSABIE SE WILDSPASTEITJIES MET SPINASIE KAPOKAARTAPPELS
Resepte en foto”s:  Elsabie Templeton
FOOD LOVERS RECIPES
Wildsvleis pasteitjies op my manier gemaak met warm Arabiese kruie mengsel, rooiwyn en ‘n lekker groot skep van my tuisgemaakte rooiuie marmelade met pienk peperkorrels. Bedien langs ryk en romige aartappels met spinasie blare. Ek dink dit sal op enige gastro pub se menu pas……… selfs my deeg is tuisgemaak.
Kookwater-pastei deeg (uit Snowflake boek)
Bros deeg wat perfek werk vir die onderkant van pasteitjies omdat dit ordentlik deur bak sonder om taai te wees. Ek vind dit die beste deeg vir wildspasteitjies wat ek sommer in my medium grootte muffin panne maak.
125 ml kookwater
125 g botter of margarine (ek gebruik botter dit smaak ook lekkerder)
500 ml (280 g) bruismeel (of koekmeel + 2t bakpoeier)
2 ml sout

Smelt die botter of margarine in die kookwater. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en meng die kookwater mengsel by tot ‘n sagte deeg vorm. Ek gebruik my deeghak in my menger.
Gooi in ‘n plastiek sakkie en sit in die yskas vir ten minste ‘n uur of tot yskoud. {*op hiedie stadium kan jy dit ook vries vir latere gebruik}.
Op ‘n meelbestrooide oppervlak, druk die deeg plat en rol uit tot 3mm dik. Sny vorms soos verlang, voer pannetjies of oondbak uit met die deeg. Sny dekseltjies vir die bo-kante, maak ‘n gaatjie in sodat die stoom kan ontsnap. Sit die koue vleis vulsel in en maak toe met die dekseltjie. Smeer die kante nat met bietjie water op jou vinger, knyp die deeg toe en verf met geklitste eier of melk met bietjie suiker in.
OF
Maak dit soos ‘n wasgoedbondeltjie met die koue vleis vulsel binnekant en bak in gesmeerde muffin pannetjies soos onder.
Bak by voorverhitte oond by 200C vir vanaf 20min tot 40min afhangende van hoe groot die pasteie is. Hulle moet mooi goudbruin bo-op wees.
Resep vir die vulsels:
http://www.foodloversrecipes.com/2017/05/gestoofde-wildsvleis-vir-pasteie/
****
Rooiuie en pienk peperkorrel marmalade {ET}
1 kg rooi uie, in helfte gesny en dan in halwe ringetjies
200 g marmelade (ek het ‘n bottel lemoen & rooibostee marmelade in die yskas gehad)
300 ml rooiwyn (as dit nie goed genoeg is om te drink nie is dit nie goed genoeg vir die kos nie)
100ml rooiwyn asyn (ek het net druiwe asyn gehad en dit werk)
3 teelepels heel korrel mosterd (of net die korreltjies soos ek gebruik)
30 ml bruinsuiker
½ koppie sultanas of bosbessies (cranberries), opsioneel
25 ml olyf olie vir braai.
Jy kan enigiets soos lekker groot knippie gedroogde rissie vlokkies (of vars) peperkorrels ens bysit na smaak.

Braai die uie in die olyf olie tot deurskynend, voeg die sultanas, cranberries, peperkorrels, suiker, rissies, mosterd by en prut stadig totdat die suiker opgelos het (so 10min). Voeg die wyn- en asynmengsel by en prut totdat die uie sag en die sultanas/cranberries uitgeswel is. Skep alles uit met ‘n gaatjie lepel en los die vloeistof in die pot. Voeg die marmelade by en prut totdat die sous lekker dik is. Laat afkoel en skep die rooi uie mengsel terug in die pot. Meng goed en skep in gesteriliseerde glas bottels en seël.
Plaas in die yskas en probeer om nie oop te maak vir ten minste ‘n week sodat die geure en smake goed kan kombineer.
Heerlik saam met rooi vleis en veral op toebroodjies met pastrami en ham, lekker skerp kaas en roket. Genoeg vir so 2 x ½ liter botteltjies.

Fluffy sexy mash:
So vernoem deur my vriende en familie omdat die hoeveelheid room en botter die sexy kurwes in plek hou! Gebruik ‘n melerige aartappel soos Valor, Sifra of Up-to-date, kook in so min as moontlik water tot gaar. Hierdie variteit sal begin uitmekaar breek as dit gaar is en dis reg so. Kook heeltemal droog en sit vars room en genoeg botter by om dit lekker klam te maak en sout na smaak, druk fyn. Jy kan selfs ‘n balon whisk gebruik om dit op te klop tot dit fluffy is. ‘n Knippie neutmuskaat ook lekker. As jy dit saam met vark bedien sit ‘n groot teelepel korrelmosterd by en as jy dit met vis bedien is, ‘n bietjie wasabi heerlik daarby.
Met ‘n hoender gereg roer ek bietjie horseradish in. Vir die vark tjoppies, braai in pan in min olie tot net gaar. Vir ‘n bykos maak ek gekarameliseerde uie deur uie te braai en bietjie bruinsuiker by te gooi. Roer braai tot dit begin verbruin en taai word. Voeg ‘n blikkie tertappels by en braai tot dit warm is. Bedien op die vark tjops. Geniet!
By die mash op die foto het ek eenvoudig die baba spinasie blare vinnig gaargemaak en toe by die klaargemaakte mash ingevou.

Weereens perfekte deeg vir pasteitjies. Dis die kookwater degie in die resep. Hierdie deeg was van groot hoeveelheid wat ek aangemaak en in sakkies gevries het vir latere gebruik.




TESS SE VEELDOELIGE BROOD DEEG


TESS SE VEELDOELIGE BROOD DEEG
(Veeldoelige deeg)
8 tot 9 koppies koekmeel
(Ek verkies Snowflake weens vog gehalte / kleur van deeg bly mooi na dae in yskas)
2 teelepels sout
3 teeleepels suiker
750 ml lou water (as jy vinger insteek moet dit nie brand )
1 sakkie 10gram Anchor kits gis

Om gis te aktiveer – in n maat beker meng 3 eetlepels meel, 3 teelepels suiker en die sakkie kits gis, meng goed en voeg 250ml van die lou water by die mengsel – laat rus n paar min tot skuim laag vorm as dit geroer word . Voeg res van lou water by.
Sif meel en sout saam – voeg gis mengsel by. Meng met n slap lem mes en knie tot meel elasties is – as hande en bak se kante skoon is van deeg en meel is dit gewoonlik genoeg geknie .
Smeer bol deeg met kookolie – bedek met plastiek en brood kombersie – laat rus tot deeg in volume verdubbel het knie af
Maak brood op – bak vetkoek of platbrode – seel oorblywende deeg in n dik plastiek sak (ek knoop dit toe / deeg rys weer in yskas so zip lock sakkies werk nie) deeg hou goed in yskas vir 5 – 7 dae
Brood komberse * ouer geslag wat gereeld gebak het het n dik kosdoek gehad waarmee deeg bedek was terwyl dit rys – as ook vir brode as dit uit oond kom sodat broodkors nie te veel uitdroog, ek onthou my ouma het haar brood effens natgespat as dit uit oond kom voor dit in brood kombers toe gedraai word om af te koel)

Bron en Foto: Tessie Pretorius




LEKKER DEEG VIR QUICHE

LEKKER DEEG VIR QUICHE

Petré Van Jaarsveld
Maak jou eie deeg. Baie lekkerder.
100 g koekmeel
100 g margarien/botter
100 g cheddar kaas
Meng alles saam in voedselverwerker tot ‘n sagte deeg en druk in pannetjies uit.

Linki Jooste
Moet jy hom dan blind bak, of kan jy vulsel net so insit en dan bak?

Petré Van Jaarsveld
Skep vulsel in en bak dan tot gestol. Nie nodig om eers die kors te bak nie.

Tolbos Bistro
Ek gebruik ook die resep en dis ‘n wenner. Jy druk sommer die deeg met die vingers in pan vas.

Petré Van Jaarsveld
As daar van die deeg oorbly, dan kan jy sommer repelsteeltjies van dit maak.

Foto geleen by Adam Cloete




ANSIE SE TUISGEMAAKTE DEEG VIR PASTEITJIES

ANSIE SE TUISGEMAAKTE DEEG VIR PASTEITJIES
Meng in n bak:
4 koppies koekmeel
5 ml kremetart
5 ml sout
Rasper 500 g volroom margarien in meel in.
Gooi daarby:
250 ml yskoue sodawater met 10 ml suurlemoensap
Meng tot net gemeng.
Gooi uit op meelbestrooide blad en rol uit.
Vou op en rol weer.
Vou weer op en laat rus in yskas vir ‘n uur. Rol dan weer uit en vou weer op.
Laat oornag in die yskas en gebruik vanaf die volgende dag vir pasteie, worsrolle, ens.
RESEP EN FOTO:  Ansie Vermeulen Steyn




MARIE SE WARMWATER DEEG

MARIE SE WARMWATER DEEG
1 koppie koekmeel
1 koppie kookwater
Driekwart margarine van ‘n 250 gr.
1 teelepel bakpoeier
¼ teelepel sout

Smelt margarine in kook water roer res van bestanddele by met houtlepel.
Moenie skrik as deeg botterig lyk.
Laat staan om af te koel.
Rol uit op redelik baie meel.
Baie belangrik moenie dubbel aan maak.
Maak elke weer aan indien jy nog deeg soek.
Lekkerste deeg resep wat ek nog gemaak het
Resep: Marie Greeff




RAAD VIR BLINDBAK


RAAD VIR BLINDBAK

As jy wel ‘n deeg wil blindbak, maak seker jou deeg hang oor die kante en sny eers met ‘n skerp mes af nadat jy die gebak het en voordat jy die vulsel insit om weer te bak (as jy dit weer moet bak). Dit lyk baie netjieser.

Raad en foto: Elsabie Templeton