ALBERT SE PAELLA-DIE PROSES


ALBERT SE PAELLA-DIE PROSES
Die kuns van Paella maak, lê eintlik in die proses en glo my, as jy die proses onder die knie het, hoef jy nooit weer ‘n resep daarvoor te gebruik nie. Dit klink na ‘n groot werk, maar dit is een van die maklikste geregte om onder die knie te kry. So hier gaan ons:
Stappe vir “Mise en place” (voorbereiding).
Stap 1:
Kies die vleis wat jy wil gebruik soos bv.:
2 porsies/stukkies hoender per persoon
2 porsies/stukkies haas of konyn per persoon
½ koppie Chorizo wors wieletjies per persoon
Enige vleis wat sal lekker wees, dis jou Paella
3 of 5 garnale (prawns) per persoon
3 of 5 mossels (in skulp) per persoon
3 tot 5 ringe Calamari per persoon
180 g Monik vis in blokkies gesny (enige stewige vis GEEN GRATE)
Julle kry die idee, kies so twee vleise en drie seekosse per persoon vir ‘n gemengde Paella of hou dit skoon, vleis of vis.
Stap 2:
Maak jou sofrito of (geur groente mengsel). Al die onderstaande in per persoon:
½ koppie gekapte ui
½ koppie gekapte groenrissies
½ koppie choriza wors wieletjies (bacon blokkies werk ook goed)
1 teelepel (5 ml) knoffel, gepers
2 eetlepel (30 ml) olyf olie
Tot hier toe is my sofrito, maar dit is jou Paella, as jy nog iets soos sampioene wil bysit, moenie dat iemand jou vertel dis verkeerd nie, dit is nie.
½ koppie tamatie blokkies 1 x 1 cm, hou eenkant
½ koppie groen ertjies, hou eenkant
1 teelepel (5 ml) gerookte paprika
‘n goeie knypie safraan, as jy wil uithang
Stap 3:
Dis hier wat jy jou rys moet afmeet:
½ koppie rys per persoon
As jy nie regte aftreksel het nie, maak nou jou aftreksel (stock) aan soos op die blikkie of pakkie, 1 ½ koppie per ½ koppie rys.
Proses:
In jou gekose pan, braai die sofrito in die olyf olie tot deurskynend.
Haal uit, maar los soveel as moontlik olie in die pan.
Sprinkel die hoender (of ander vleis) met sout, peper en bietjie gerookte paprika in die pan tot gaar, haal uit.
Roer die rys en oorblywende speserye in die olie wat oor is in die pan. Plaas jou sofrito in, gooi aftreksel oor en kook vir 15 minute.
Roer jou ertjies, tamatie en seekos in, bring weer tot kookpunt, plaas jou vleis bo op, draai jou plaat af tot sy laagste verstelling en los vir ‘n verdere 20 minute of totdat die rys gaar is.
En dis dit, ‘n regte Paella.
Resep: Albert Buitenhuis
Hier is Albert se paella resep:
http://www.foodloversrecipes.com/2016/01/albert-se-paella/


