OUTYDSE SUURLEMOENKWAS

OUTYDSE SUURLEMOENKWAS
25 skoongewaste suurlemoene
2,5 kg suiker
15 ml wynsteensuur
15 ml sitroensuur
15 ml engelse sout
2 liter kookwater

Rasper die suurlemoene se skil af en druk die sap uit. Voeg die sap en skille in ‘n groot skottel.
Meng die suiker, wynsteensuur, sitroensuur, engelse sout en kookwater by die suurlemoensapmengsel en roer tot die suiker opgelos is.
Bêre die mengsel met ‘n doek oor vir 48 uur.
Giet die vloeistof deur ‘n doek en bottel.
Dit is soos aanmaakkoeldrank, meng met water na smaak en bedien.
Heerlik in die somer met ys.
Resep: Rita Olivier




JOHAN SE TAMATIE KONFYT

JOHAN SE TAMATIE KONFYT
Dié naweek was Tamatie Konfyt naweek.
Saterdag middag is gebruik om die skille van die Cherry Tamaties af te kry. (Al word daar gesê die velletjies kom maklik af, deur 9 kg gevrieste tamaties in water te sit sodat die velletjies bars, is dit steeds harde moeisame werk).
Daarna is die “kaal” tamaties in lae van tamaties en suiker gepak (byvoorbeeld 1 koppie tamaties en 1 koppie suiker)
Die voorbereiding is nou klaar en is dit oornag gelos om te “trou”.
Sondagoggend is die stoof op ‘n matige hitte geplaas sodat die suiker eers kan smelt voordat die mengsel kookpunt bereik.
Ek het nie die Cherry Tamaties versnipper nie.
Ek het hulle heel verwerk.
Ek het 3 suurlemoene se sap in die 9 kg mengsel uitgedruk.
Ek het al die suurlemoen pitte sommer ook in die kooksel laat saampraat.

Ek het die 3 uitgedrukte suurlemoene skil en al ook laat saamkook.
Ek het twee opgehoopte 2 eetlepels fyn gemmer bygesif en deur geroer.
Ek het so 40 min op matige hitte gereeld geroer en toe is die 9 kg op kookpunt.
Roer gereeld vir nog ‘n uur om te verhoed dat die konfyt onder in die kastrol aanbrand.
Mettertyd kom jy agter die tamatiemengsel se kleur raak so diep rooi, jy voel die lepel roer ook nou effens moeiliker as in die begin.
Daar kom ook ‘n mooi glanserige skynsel bo-op die kokende konfyt.
Ek het so twee teelepels van die warm konfyt op ‘n bordjie gegooi om af te koel.
Toe ek na 10 min my vinger deur die konfytkol trek en dit nie toevloei nie, het ek geweet die stollings staduim is bereik.

Ek het met ‘n gaaitjies lepel al die suurlemoen pitte uitgeskep en die halwe suurlemoene so teen die kant van die kastrol gedruk om al die sap en pektien in die konfyt te kry.
Daarna het ek die halwe suurlemoene en pitte weggegooi.
My bottels is skoongewas en in die oond op 130°C vir 20 minute gesteriliseer.
Die konfyt is warm gebottel.
Ek het kerswas gesmelt nadat die konfyt afgekoel het en elke bottel se konfyt daarmee geseël.
Die kerswas is nie nodig nie, maar dit is hoe ek dit wel verkies.
Die konfyt kan 3 jaar in die spens op die rak staan sonder om ‘n muf lagie te vorm.
Foto en Resep: Johan Maritz




HANNIE SE PRUTPOT MELKKOS

HANNIE SE PRUTPOT MELKKOS
1 liter melk
knippie sout
1 teelepel vanilla
1 koppie sago

Ek sit die melk, knippie sout en vanilla in prutpot (slow cooker).
Gooi die sago in.
Stel op hoog vir half uur.
Roer deur.
Sit op laag vir halfuur en roer weer deur. Kook verder indien sago nog nie sag is nie, geniet.

Vir poeding roer ek 2 eiergele in en klits 2 eierwitte styf en vou in.
Kook nog 10 minute op laag.
Voeg dan kaneelsuiker by na opskep of net soos jy daarvan hou.
Geniet!
Resep: Hannie Ackermann Engelbrecht




FRIS VRYSTAATSE MELKTERT

FRIS VRYSTAATSE MELKTERT
Foto van resep: Elaine Steyn Steyn
FOOD LOVERS RECIPES
Kors:
1 eiergeel
½ koppie botter
1 koppie koekmeel
1 teelepel bakpoeier
sout

Meng die eiergeel en botter.
Meng die eiergeel-en-botter mengsel met die res van die bestanddele.
As die mengsel te styf is voeg bietjie melk by.
Voer die tertbak uit met die korsmengsel.

Vulsel:
2½ koppies melk
2 eetlepel margarien
3 eiergele
2 eetlepel hoogvol maizena
2 eetlepel koekmeel
½ koppie melk

Kook die die melk en margarien saam tot die margarien gesmelt het.
Meng die eiergele, maizena, meelblom, ½ koppie melk tot ‘n gladde pasta.
Meng die gekookte melk en pasta saam terwyl jy heeltyd klits en kook tot gaar oor lae hitte.
Vou die volgende met ‘n slaplemmes by boonste mengsel in.
½ koppie suiker
1 teelepel vanilla geursel
1 teelepel  amandelgeursel
3 styfgeklopte eierwitte
Skep in voorbereide tertbak.
Bak teen 180°C vir ½ uur.




NICO SE KERRIEBONE EN SPEK QUICHE

NICO SE KERRIEBONE EN SPEK QUICHE
(Hierdie hoeveelhede is genoeg vir twee ronde panne van 300 mm in deursnee, of een groot reghoekige pan soos op foto)
KORS:
250 g sagte margarien
250 g meelblom
Sif meel in ‘n mengbak en voeg margarien by.
Sny margarien in stukke en bewerk met meel – sommer met hande – tot stywerige deeg.
Vorm die deeglaag op bodem en aan kante van pan.

VULSEL:
250 g uitgebraaide spek, in stukkies gebreek
2 koppies gekerfde boontjies
‘n handvol ongekookte pasta
1 gekapte ui
2 teelepels knoffel
1 eetlepel suiker
125 ml witasyn
125 ml kookolie
3 teelepels kerrrie poeier
2 teelepels paprika
1 teelepel komyn
1 teelepel koljander
2 teelepels sout
½ teelepel rooipeper
6 eiers
250 ml melk (of room)
2 eetlepels groente-soppoeier
2 koppies gerasperde kaas

Glasuur uie saam met knoffel en speserye in ‘n pot.
Voeg bone, pasta en olie by en bedek met water.
Kook vir 10 minute sonder deksel en dreineer.
Laat afkoel.

In ‘n mengbak:
Klits die eiers, suiker, melk, soppoeier en een koppie kaas saam.
Voeg asyn by en klits effens verder.
Meng die bone en pasta by.
Gooi die mengsel in die pan bo- op die kors.
Strooi die spek eweredig bo-oor en bak by 180°C vir 45 minute (of tot mes-toets skoon is).
Haal uit en strooi die 2 de koppie kaas bo-oor.
Plaas terug in oond vir ‘n verdere 15 minute by 160°C.
Bedien warm of koud.
Foto en resep: Nico Conradie




GIDEON SE BROOD CHOMP

GIDEON SE BROOD CHOMP
Ek’t vanaand dié brood chomp aanmekaar geslaan dit was djeeeerlik!
Ek’t ‘n rukkie terug die brood gebruik by ‘n braaibrood en die stuk het oorgebly en was in die vrieskas gebere tot vanaand, toe bou ek die lekker brood chomp met dit.
Oorskiet boudvleis, in stukkies gesny
‘n pakkie spek nuggets, vooraf bietjie gebraai
‘n bietjie oorskiet maalvleis met lasagne
Hol die halwe brood uit en smeer die binnerante met botter en dan ook met chutney.
Smeer die buite korsie met olyfolie.
Meng die spek boudvleis en lasagne met twee liggies geklitste eiers.
Maak twee eetlepels sweetchillie slaaisous met 3 eetlepels melk aan en meng by die vleis mengsel.
Giet nou die mengsel in die uitgeholde gesmeerde brood op ‘n bakplaat en sprinkel ruim met droë pietersielie en Italian herbs en verhit in ‘n voorverhitte oond op 180° C vir ‘n halfuur.
Sprinkel dan ‘n bietjie gerasperde kaas oor en smelt vinnig op hoe hitte vir 2 tot 3 minute.
Hmmmmm djeeerlik!
Foto en resep: Gedeon Louw




THEA SE MAKLIKE MELKKOS

THEA SE MAKLIKE MELKKOS
Ongeveer 6 porsies
2 liter volroommelk
310 ml koekmeel
3 ml sout
45 ml botter
kaneelsuiker, om mee voor te sit
knypie gemmer poeier

Verhit die melk in ’n groot kastrol tot net onder kookpunt.
Terwyl die melk warm word, meng die meel, gemmer en sout saam in ’n bak en vryf die botter daarby in met jou vingerpunte (jy kan dit ook in ’n voedselverwerker doen).
Sprinkel die meelmengsel bo-op die kokende melk en roer dit met ’n houtlepel tot goed gemeng.
Prut oor lae hitte vir ongeveer 10 minute, terwyl jy roer, tot verdik en gaar.
Die mengsel moenie ’n gladde sous wees nie, dit moet klonterig wees.
As daar egter te groot klonte vorm, gebruik ’n draadklitser om dit op te breek.
Sprinkel ’n lepel kaneelsuiker onder in elke bakkie, skep die kokende melkkos bo-op en sprinkel nog kaneelsuiker bo-op.
Of soos ek, tussen elke lagie bietjie kaneel suiker en eindig met kaneelsuiker
Foto en Resep: Thea Beukman




ELSABIE SE PRUTPOT BEESVLEIS EN GROENTE


ELSABIE SE PRUTPOT BEESVLEIS EN GROENTE
750 g beesvleis repies vir roerbraai
1 koppie gekapte seldery stingel
1 groot ui, opgekap
2 wortels, geskil en in stukkies gesny
1 groot aartappel, geskil en in blokkies gesny
16 jong groenboontjies, gekerf
1 pakkie bruin uie sop poeier
1 blikkie bier (sommer ‘n lager gebruik)
Balsamiese en olyfolie slaaisous

Strooi die pakkie droë sop oor die repies vleis in die prutpot en meng goed.
Strooi die groente bo-oor en laaste die blikkie bier.
Ek het op hoog gestel, want dit eers 3 uur vanmiddag in pot gesit.
Twee en half ure later is dit gaar en ek maak vir eerste keer die deksel oop.
Sprinkel met die slaaisous na smaak, roer deur en bedien op koeskoes, rys, fyn aartappel, stampmielies of pap.
Foto en Resep: Elsabie Templeton




CHINESE RYS MET EIER


CHINESE RYS MET EIER
Chinese rys met eier heerlik saam met soet suur vark (resep onderaan)
Basmati rys, gaar gekook
½ ui, fyngekap
gemengde groente (pakkie of ‘n blikkie)
gekapte sprietuie
2 eiers
1 eetlepel sojasous
1 eetlepel rysasyn
sout en peper na smaak

Maak roereiers en laat afkoel.
Braai uie in ‘n bietjie grondboontjie- of gewone kookolie.
Voeg rys by.
Meng goed met uie.
Voeg blikkie gemengde groente, gekapte spriet uie, 1 eetlepel sojasous, sout en peper na smaak asook 1 eetlepel rysasyn by.
Meng goed oor lae hitte.
Voeg roer eier by en meng.
Foto en resep: Petré Van Jaarsveld
Vir die Soetsuur Vark gebruik hierdie resep:
http://www.foodloversrecipes.com/2013/07/soet-suur-vark/




MARI SE EENVOUDIGE MACARONI EN KAAS


MARI SE EENVOUDIGE MACARONI EN KAAS
Plain ol’ mac and cheese’ met net gebraaide spek in.
Eenvoudig maar darem so lekker.
Kook ‘n halwe pak macaroni volgens aanwysings op pakkie.
Sny spek op en braai, maar nie te veel nie.
Kaassous:
Maak ‘n sous van die volgende op die stoof of in die mikrogolf:
2 eetl botter/margarien
2 eetl meel
Alles eetl hoogvol.
Voeg 2 ml neutmuskaat by en sout.

Giet so 500-600ml melk by, laat kook en roer tot verdik.
Gooi gerasperde kaas by en roer in. (Ek gooi baaaie kaas by)
Meng macaroni, spek en kaassous in oondbak.
Sprinkel kaas bo-oor en sit skywe tamaties met sout en peper op.
Bak in oond tot lekker bubbly. Yum! (Myne gaan nou oond toe).
Photo en Resep: Mari Kovacs Parkin