
BEHANDELING VAN NUWE GIETYSTERPOT
GESKRYF DEUR IAN LAING:
Die inbrand van ‘n nuwe pot:
Wanneer ‘n nuwe pot aangeskaf is, kan dit soos volg behandel word. Maak ‘n redelike groot vuur en gooi binne-in die pot ‘n klomp kole. Laat brand vir ongeveer 30 minute. Die rede hiervoor is om die tipe vernis wat die vervaardigers gebruik om te verhoed dat die pot roes, af te brand.
Haal dit dan van die vuur en laat dit stadig afkoel. (Wanneer daar koue water by ‘n baie warm leë pot gevoeg word, kan die pot kraak) Skuur die pot daarna met skuurpapier, sand of as totdat dit begin blink. Kook vervolgens een koppie sout en 2 koppies asyn met die pot driekwart gevul met water vir sowat 30 minute.
Herhaal nog ‘n keer. Spoel die pot deeglik uit en skuur alle growwigheid met skuurpapier tot ‘n redelike gladde oppervlak verkry is.
Kook nou groenteskille en blare in ‘n pot driekwart vol water, waarin daar weer ‘n koppie sout en asyn bygevoeg is, vir ‘n verdere halfuur. Baie mense beweer dat ‘n pot hierna met olie gesmeer moet word, maar dan is die kanse goed dat die pot galsterig kan raak. Spuit eerder die pot met Spray&Cook. Die pot is nou gereed vir gebruik. Dit is egter belangrik om die pot elke keer voor gebruik goed skoon te kook.
Charl Nienaber”
Vir die potjie pot:
Toe ek my eerste een gekoop het, het my Oupa gesê ek moet dit met ‘n hoekslyper (angle grinder) bykom binne. Ja, ek het my gesig ook so getrek.
Ek het lekker warm vuur gemaak en die pot opgesit, toe dit nou mooi warm was, toe gooi ek so 4 grof opgekapte uie met ‘n klomp olie in. Die besigheid gaan vreeslik rook en moontlik aanbrand maar maak maar klein ogies en roer dat dit bars!
Wanneer jy dit nou nie meer kan hanteer nie (so 15 minute), haal die pot van die vuur af en laat dit staan en koud word. Was dit dan met goldy locks (daai growwe pot skuurder) en gewone sunlight seep. Was dit so 3 keer. As jy ‘n skoon papier handdoek binne vryf moet dit skoon uitkom. Smeer die pot bietjie olie dat dit nie roes nie en daar’s hy! Reg vir potjiekos!
Jan Wiehman:
Alle nuwe gietyster panne of potte skuur ek eers deeglik, was en smeer ‘n ligte lagie kookolie binne en buite, dan in baie warm oond vir 2 tot 3 uur. Nonstick vir lank! Bêre met koerantpapier binne tot volgende gebruik.