BÊREMENGSEL VIR PASTEIKORS, SKONS EN SOUSKLUITJIES


BÊREMENGSEL VIR PASTEIKORS, SKONS EN SOUSKLUITJIES
2,2 kg koekmeel
4  eetlepels (60 ml) bakpoeier
3 teelepels sout
500 g margarien / botter / kookvet

Sif die droë bestanddele saam. Vryf die smeer by die droë bestanddele in.
Bêre die mengsel in ‘n glasfles in die yskas en gebruik soos nodig.
Pasteikors:
Maak 1 koppie bêremengsel aan met koue water. 1 eetlepel water op ‘n slag. Druk totdat die deeg net net gevorm het en laat rus vir 30 minute. Rol die deeg dun uit en gebruik soos benodig.
Skons / botterbroodjies:
1 ½ koppie bêremengsel
½ koppie koekmeel
1 eier
¼ koppie melk
Klits die melk en eier saam en voeg dit by die droë bestanddele.
Meng totdat ‘n sagte deeg vorm.
Druk die deeg plat op ‘n liggies meelbestrooide oppervlak, sowat 2 cm dik.
Druk sirkeltjies uit met ‘n drukkertjie.
Plaas die sirkels op ‘n gesmeerde bakplaat en bak in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir 10 – 15 minute tot goudbruin en gaar.

Souskluitjies:
4 groot eetlepels bêremengsel
1 groot eetlepel koekmeel
1 eetlepel suiker
1 eier
bietjie melk
Vloeistof:
water
knypie sout
botter
Sous:
1 ½ koppie water
½ koppie kaneelsuiker
Maizena om te bind
Voeg die bestanddele vir die souskluitjies saam in ‘n mengbak en meng tot ‘n sagte deeg vorm.
Voeg 1 ½ cm water in braaipan en bring tot kookpunt (of in pot met deksel wat dig seël).
Voeg die sout en ’n paar klontjies botter by die water.
Laat botter net smelt, skep lepelsvol van die deeg in die water in die pan, plaas die deksel op en kook / stoom vir sowat 10 – 15 minute.
Skep die kluitjies uit in ‘n opdienbak waarin ‘n dik lagie kaneelsuiker gestrooi is en strooi nog kaneelsuiker bo-oor die kluitjies. Stip met klontjies botter.
Berei in dieselfde pan die sous.
Voeg die water en kaneelsuiker in die pan en bring tot kookpunt. Maak ‘n bietjie Maizena aan met klein bietjie water tot ‘n pasta en voeg dit by die suikerwater.
Roer totdat die sous die verlangde dikte bereik het.
Hou die sous eenkant warm tot bedieningstyd, giet die sous oor die kluitjies in die bak.
Notas vir die bêremengsel:
Botter en vloeistowwe moet yskoud wees.
Sif die meel.
Voeg in ‘n lugdigte houer en bêre in yskas.
Resep: Santie Carelse




BASIESE BAKKERSMENGSEL


BASIESE BAKKERSMENGSEL
1 kg koekmeel
10 ml sout
20 ml bakpoeier
375 g bakkers margarien of botter, koud grof gerasper
Plaas al die bestanddele in ‘n voedselverwerker en verwerk tot fyn soos broodkrummels.
Stoor in lugdigte houers in die yskas vir 3 maande. Gebruik soos nodig.
Kaasskons:
1 ½ koppie bakkersmengsel
2 teelepels bakpoeier
70 g (½ koppie) koekmeel
30 ml (2 eetlepels) wit- of bruinsuiker
1 koppie Cheddarkaas, gerasper
1 medium eier, geklits
125 ml (½ koppie) volroommelk
Voorverhit die oond tot 190ºC en smeer ‘n bakplaat.
Meng die droë bestanddele en die kaas saam in ‘n mengbak. Maak ‘n holte in die meelmengsel en voeg die eier en melk by.
Gebruik twee tafelmesse en sny die melk en eier liggies in die meelmengsel in. Moenie die deeg oorbewerk nie, indien daar nog wit meel dele sigbaar is, is dit nie ‘n probleem.
Keer die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en druk dit liggies plat tot ongeveer 3 cm hoog.
Druk skonvorms uit met ‘n koekie drukker of maak een groot skon. Plaas die deeg op die gesmeerde bakplaat en druk die res van die deeg, indien daar oor is, weer liggies aanmekaar en verwerk.
Bak in die voorverhitte oond vir 20 – 25 minute. Bedien die skons louwarm.
Porsies: 6 – 12 skons afhangende van grootte. Een groot skonwiel kan ook mooi lyk, asook deeg in kolwyntjie panne gebak. Geniet en speel lekker.

Broskorsdeeg:
2 koppies bakkersmengsel
1 groot eiergeel
4 eetlepels kouewater
Plaas bestanddele in ‘n voedselverwerker en draai die lem totdat die mengsel ‘n bol vorm. Haal uit en druk die deeg plat. Plaas dit in ‘n sakkie en verkoel die deeg vir 20 minute voordat dit uitgerol word.
Gebruik die deeg in alle pasteiresepte soos voorgeskryf.
Wenk:
Die deeg kan rou gevries word vir maksimum 4 maande.
Porsies: Genoeg vir 12 handpasteie van palmgrootte of een groot pastei vir ‘n pasteibak.

Plaatkoekies:
2 koppies bakkersmengsel
1 teelepel bakpoeier
1 ml koeksoda
30 ml (2 eetlepels) witsuiker
200 ml melk
1 ekstra groot of groot eier
Klits die bestanddele saam in ‘n mengbak en laat die deeg vir 20 min rus om te verdik.
Bak lepelsvol deeg op mediumwarm plaat in ‘n kleefvrye pan sonder enige olie.
Bedien warm.
Resep geplaas: Santie Carelse