

MAKATAAN KONFYT — WAATLEMOENKONFYT
Sny een groot makataan in skywe van 5 cm en verwyder die groen skil en die binneste sagte gedeelte met die pitte.
Prik dan die heel waatlemoenskywe met ’n vurk en sny dit daarna in stukke.
Plaas in ’n kalkoplossing (25 ml gebluste kalk per 5 liter water) en week vir twee dae. Roer gereeld terwyl die stukke daarin week.
Spoel ná twee dae die stukke deeglik af en week vir 2 uur in skoon water voordat jy dit begin kook.
Verhit water in ’n groot kastrol tot by kookpunt en gooi ’n bietjie sout by.
Plaas die stukke een vir een in die kokende water en maak seker dat die water nie ophou kook nie, anders word die stukke pap. Kook tot die stukke helder is en jy maklik ’n tandestokkie in hulle kan steek.
Stroop
Weeg die vrugte en vir elke 1 kg waatlemoenstukke gebruik jy 2,5 liter water en 1,5 kg suiker wat daarin opgelos is.
Verhit die water en gooi die suiker stadig by terwyl jy aanhoudend roer totdat al die suiker opgelos is. Dit is belangrik dat die water nie moet kook voordat al die suiker opgelos is nie.
Gooi 25 ml suurlemoensap en 4 stukke gedroogde gemmer by die stroop en kook 10 minute lank
Plaas die waatlemoenstukke geleidelik daarin en kook totdat die stroop begin dik en die stukke deurskynend word.
Pak die konfytstukke in skoon flesse, gooi die warm stroop oor en verseël dadelik.
Bron en Foto : Johan Du Preez Snr