KITSSOUS

KITSSOUS
Resep geplaas deur Nella Kootstra
30 ml botter of magarien
2 eetlepels koekmeel
10 ml bovril of marmite
1 koppie melk. Ek gebruik water
5 ml uiesout. Ek gebruik vars gekapte ui

Smelt botter en voeg koekmeel by.
Roer tot die mengsel room kleur het.
Verwyder van hitte.
Los marmite of bovril op in melk( water).
Voeg by bottermengsel. Voeg uiesout by.
Ek smoor my uie en voeg worchestersous in die plek van marmite by




MOSBOLLETJIES

MOSBOLLETJIEStested

MOSBOLLETJIES
Kaapse Tradisie. Mosbolletjies! Parstyd inni Boland. Hierdie resep troetel ek van 1980. Dit werk elke keer! Dit word in die aand geknie sonder om eers in te suur.
Meng:
4 kg koekmeel
1 liter suiker
15 ml sout
23 ml anys

Vryf 500 gram botter of margarien in meelmengsel.
Maak aan met 750 ml soet mos en soveel lou water as nodig vir redelike stywe deeg.
Knie ten minste 45 minute lank. (Seer gewrigte het my planne laat maak; deel deeg in 4 – Kenwood!!)
Sit gesmeerde plastiek bo-oor teen uitdroging.
Maak warm toe, rys oornag. (natuurlike hitte)Dubbeld gerys teen die oggend, anders koud gekry. Verskuif na warmer plekkie. Moet onder geen omstandighede deeg afknie!! (Vir veerkragtige tekstuur)
Vorm bolletjies en plaas styf teen mekaar in gesmeerde plate, met meelbestuif. (spray+cook werk goed vir my)
Laat rys tot 3 x die grootte. Bak by 180°C vir 30 minute en dan nog 30 min by 150°C of tot deurgebak.
Smeer suikerwater oor nadat uitgegooi. (Werk versigtig – delikaat)
Om uit te droog, breek met vurk, nooit gesny!! Droog by 100°C. Waarskuwing, jou dieet daarmee heen!
Uiters bevredigend, elke baksel jou trots. Nouja geniet saam met my! Ek wonder elke jaar of skryfster nog leef, want ek sal altyd dankbaar wees dat sy so mededeelsaam was!

Resep geplaas deur Riana Heyns
Foto – Riana Heyns




HOEKOM N POTJIE NIE GEROER WORD NIE

HOEKOM N POTJIE NIE GEROER WORD NIE
HOEKOM N POTJIE NIE GEROER WORD NIE

Alta Lubbe – Kan iemand vir my ‘n rede gee hoekom mens nie ‘n potjie roer nie asb? Is daar ‘n spesifieke rede?

Suenell Liebenberg – Die kos kook sag as jy dit gaan roer gaan jy met pot sop sit op die einde van die dag…jy wil darm proe jy eet n vleisie of n wortel ens.

Pieter Venter – soos jou vleis en groente sagter word en jy roer dit breek jy dit kleiner en kleiner. as jy skep soek jy heel stukkies vleis en groente maar as jy gaan karring gaan jy sop kry.

Joy Opperman – Eenvoudig, stew roer jy pot nie. Als moet in lae gaar word

Jaun Le Roux – Yup, daarom sit jy dit in orde van hoe lank die bestandele vat om gaar te kook van onder na bo. Bv. Vleis, dan aartapels, wortels etc, sampioene bo

Johan van Deventer – Nee dis makliker as al die redes hier bo….want my ouma het so gesê en dis dit…. Reël nommer 1…moenie roer nie en moenie loer nie

Cecilia O’Connell Behrens Ek roer glad nie. n pot wat geroer is smaak NIE so lekker soos n pot wat NIE geroer is nie.
1. Dis geuriger omdat die smake nie vermeng is deur dit te roer nie. Maw jou vleis behou sy smaak,so ook die groente.
Anders proe dit soos sop,elke happie dieselfde.
2.dis pap en souerig en lyk soos n pizza.(alles dieselfde) maw jy herken nie die vleis of groente. Kos wat mooi lyk smaak ook lekkerder.
Ek begin met die uie…..braai dit in regte egte botter…..
Dan die vleis,….word geseēl in daardie botter….bietjie bruinerig van kleur….die geur vd uie ie nou in eie vleis…..sit jou sout en peper,ens in.(ek hou vd geur blokkies)
Dan die groente asook mushrooms,sou daar wees.
Gooi 1 of 2 koppies(nie bekers) water daarop en maak toe. Van nou af,glad nie meer roer nie.
Gooi liewer kort kort n bietjie water by as met een slag n klomp…..dis belangrik vir die geur…..anders kook jy sop….alles gaan weer dieselfde smaak.
Ek roer my potjie as dit nog net die vleis is wat in is.
As jou vleis sag is(groente kom in wanneer jou vleis nie meer lank het om te gaan nie) dan maak ek n mengsel van 3 eetlepels koekmeel ….dit smaak net lekkerder as enige verdikking….n lepel bisto vir die bruin kleur…aan met n half koppie chutney….balls se hot chutney,bietjie worcestersous,indien nodig,nog sout en witpeper vir skaap,swart peper vir bees.Meng met water,roer en gooi oor jou potjie.
Vou (nie roer) dit in die potjie en bedien dadelik.

Marietjie van der Merwe – My ma het Sondae by haar Game Lodge potjie vir die gaste gemaak. Daar was altyd n waglys. Sy het egter gekul met die pot. Sy het alles vooraf gaargemaak en dan omtrent 1 uur voor die gaste kom, haar lagies in groot swart pot op die vuur gesit. Kort voor opdien het sy dan net haar sous oorgegooi en dit laat deur kook. Was heeerlik en niemand het ooit geweet van die groot verneuk.




LEMOEN-BLATJANG HOENDER


LEMOEN-BLATJANG HOENDER
1,3 kg hoenderporsies
sout en peper na smaak
koekmeel
olie
2 middelslag-uie, gerasper
250 ml (1 k) vrugteblatjang
500 ml (2 k) vars lemoensap
aartappels en groente vir voorsit

Voorverhit die oond tot 180 °C.
Geur die hoender met sout en peper en rol in die koekmeel. Braai in ’n bietjie verhitte olie tot goudbruin. Pak in ’n oondvaste bak.
Meng die res van die bestanddele en giet bo-oor. Bedek en bak sowat ’n uur tot die hoender gaar en bruin is.
Nota Stien: Ek plaas die meel in ‘n plastieksakkie en sit so 4 stukke op ‘n slag in en meng met die meel, braai ook nie die hoenderstukke vooraf nie, plaas dit net so in die oondbak. Ek gebruik sommer boksies lemoensap.

Foto:  Stien Rust




HOENDERPOTJIE

 

Hoenderpotjietested

HOENDERPOTJIE

Braai 3 uie in ringe in 20 ml olie.
Haal uie uit, gooi 2.5 kg hoenderdye en boudjies in swartpot en braai vir ongeveer 10 minute.
Sit uie terug en bedek vleis en uie met water.
Gooi hoenderspeserye, sout en peper na smaak by en so 5 ml knoffel, laat stadig prut vir 1 uur, gooi dan aartappels in en wortels. laat weer prut tot groente sag is. Voeg sampioene by vir 15 minute en voeg dan Royco se Cape Malay Curry cook in sous by 2 x 415 g en laat nog 15 minute op stoof oor lae hitte. Bedien op rys . Heerlik verby.

BRON – Magde Van der Kolff




ANNIE SE INGELEGDE SOETRISSIES

Ingelegde Peppers.tested

ANNIE SE INGELEGDE SOETRISSIES
1 ½ kg soetrissies, sny in repies
4 uie, in ringe gesny
1 teelepel sout
2 tot 3 koppies suiker (ek gebruik 3 koppies suiker)
400 ml wit asyn
3 teelepels mosterd poeier
1 teelepel sout
5 eiers, geklits
1 eetlepel Maizena, in bietjie water aangemaak

Kook die soetrissies, uie en 1 teelepel sout saam in water en dreineer.
Meng die suiker, asyn, mosterdpoeier en 1 teelepel sout saam in ‘n groot pot.
Smelt alles saam, maar moenie kook nie en haal van die stoof af.
Giet die geklitste eiers stadig by die mengsel in die pot.
Roer die Maizena mengsel by.
Sit die pot terug op die stoof en kook deur terwyl jy roer.
Skep die soetrissies by, kook weer deur en bottel warm.

Nota:
Ek het 2 kg soetrissies gekoop. As alles uit is wat moet uitkom, is daar ongeveer 1.5 kg oor.

BRON – Annie Knoesen




KAAS EN SPEK POFFERTJIES

KAAS EN BACON POFFERTJIEStested

KAAS EN SPEK POFFERTJIES
BRON:  Yvonne Brazer
500 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout
knypie rooipeper
2 teelepels pietersielie
3 teelepels garlic flakes, voeg soveel in soos jy wil
1 fyn gekapte ui
1 pakkie spek, jy kan soveel insit soos jy wil
500 ml gerasperde kaas
500 ml melk
2 eiers

Voorverhit oond tot 200 °C.
Smeer of spuit holtes van kolwyntjiepanne.
Sif koekmeel, bakpoeier, sout en rooipeper saam. Gooi die pietersielie en garlic by.
Voeg die kaas by en meng.
Klits die eiers en melk saam en voeg dit by die meelmengsel en meng tot slap deeg.
Skep holtes van die panne 2/3 vol. Skep stukkies gekapte spek bo-op.
Bak poffertjies vir 10 – 15 min of tot goudbruin. (Moenie te lank bak nie, anders is dit te droog)
Bedien warm. Ek het 2 pannetjies uitgekry.




Kerriebeet

 

kerriebeet Chanteltested

6 Kop gaar beet in blokkies gesny..ek rasper myne
2 groot uie gekap
2 kop asyn…een wit…een bruin
3 kop suiker

Smelt asyn en suiker en bring tot kookpunt
Voeg beet en ui by suikermengsel
Prut vir 10 min.
1 eetl kerriepoeier
1 teel sout
Voeg dit by die mengsel
3 eetl maizena aangemaak met water tot n pasta.
Voeg by en kook tot maizena gaar is.
Maak bottels warm…gooi in en seel.
BRON – Annie Knoesen
Foto:  Chantel Teresa Terblanche




OUVROU ONDER DIE KOMBERS MET STUKKIES WORS

Ouvrou onder die komberstested

OUVROU ONDER DIE KOMBERS MET STUKKIES WORS
Ons aandete. Ouvrou onder die kombers met n uie basis met klein stukkie wors
500 g wors (of meer)
2 koppies bruismeel
1 teelepel sout
Hoogvol eetlepel botter, gesmelt
250 ml creme fraîche
1 koppie melk
2 eetlepels mosterdpoeier
15 ml gedroogde gemengde kruie.
Braai 2 uie tot bruin.

Sny wors in stukkies en sprei saam met gebraaide uie in bak.

Voorverhit die oond tot 180 °C.
Sif die bruismeel en sout saam in ’n groot mengbak. Klits die botter, creme fraîche , melk en mosterd saam en gooi by die meel.
Meng goed sodat daar geen klonte in die beslag is nie. Gooi die beslag in ’n groot, ronde oondbak
Bak die gereg 40-50 minute of tot dit gaar en goudbruin is.
Foto en resep geplaas deur Ertjies De Witt




RISSIES IN ASYN, KERRIEWORTELS EN TAMATIEKONFYT

Rissie in asyn, kerriewortels,rissiekonfyt,en tamatiekonfyttested

RISSIES IN ASYN, KERRIEWORTELS EN TAMATIEKONFYT
My tamatie konfyt
1 kg tamaties sonder skil, mikrogolf op hoog vir 10 min
Voeg bie volgende by:
5 ml gemmer
5 ml sout
3 koppies suiker
roer goed, mikrogolf op hoog vir 30 min, roer elke 10 min. wanneer reg toets, botter warm en seël dadelik.

Rissie konfyt: net soos tamatie konfyt, sit net rissies en een ui by tamaties

Wortelresep:
2 kg wortels geskil en in ringe gesny en kook tot sag dreineer.
500 g uie in ringe gesny, giet kookwater op en laat staan 15 min, dreineer.
Plaas die wortels, uie, 500 ml suiker, 20 ml kerrie, 750 ml asyn, 25 ml mielieblom in ‘n pot, bring tot kookpunt, roer aanmekaar. Kook vir 5 min. Bottel warm.

Rissie en asyn:
2 liter asyn
1 ½ koppie suiker
3 eetleppels sout
klomp rissies
Bring tot kookpunt en kook vir 5 min. Bottel warm

Resep en foto: Bettie Smit