
GROOTMAAT-KOEKSISTERS
Dié beproefde resep kom uit Annette Human se boek, Basaartreffers, wat in 1989 verskyn het. Lewer 230 koeksisters.
Stroop:
3 kg (15 x 250 ml) suiker
1,875 liter water
500 ml gouestroop
12,5 ml kremetart
Deeg
1 liter water
100 ml kondensmelk
1½ kg (11 x 250 ml) koekmeel
50 ml bakpoeier
7 ml sout
125 g botter of margarien
Olie, vir diepbraai
Dag 1: Meng die suiker, water en gouestroop, roer tot gesmelt en kook dit vir 10 minute vinnig oor hoë hitte. Moenie roer ná die stroop begin kook het nie. Verlaag die hitte, voeg die kremetart by en laat dit vinnig deurkook. Giet die stroop in twee bakke, laat dit afkoel en plaas dit oornag in die vrieskas.
Dag 2: Meng die water en kondensmelk. Sit die koekmeel, bakpoeier en sout saam en frummel die botter of margarien daarin. Sny die meelmengsel met ’n slaplemmes by die watermengsel in en druk saam om ’n deeg te vorm. Bedek die deeg met ’n klam doek en laat dit ongeveer 2 uur lank rus. Rol gedeeltes van die deeg 5 mm dik uit op ’n meelbestrooide oppervlak, sny dit in stroke van 10 x 1 cm en vleg twee-twee stroke saam.
Verhit olie in ’n kastrol tot warm. Om vas te stel of die olie warm genoeg is: Gooi ’n stukkie deeg in en tel vinnig tot 10. Die deeg behoort dan op die olie te dryf. Braai ’n paar koeksisters op ’n keer in die warm olie tot goudbruin. Skep dit met ’n gaatjieslepel uit en dompel dit dadelik in die yskoue stroop. Plaas die deurweekte koeksisters op ’n draadrak in ’n skinkbord sodat die oortollige stroop kan dreineer.
As die stroop in die bak begin warm word, vervang dit met die ander bak koue stroop en verkoel weer die eerste bak stroop, tot nodig.
BRON – Annette Human se boek, Basaartreffers