

ELSABIE SE DEEG VIR WILDSVLEIS PASTEITJIES
Kookwater-pastei deeg
Bros deeg wat perfek werk vir die onderkant van pasteitjies omdat dit ordentlik deur bak sonder om taai te wees. Ek vind dit die beste deeg vir wildspasteitjies wat ek sommer in my medium grootte muffin panne maak.
125 ml kookwater
125 g botter of margarine (ek gebruik botter dit smaak ook lekkerder)
500 ml (280 g) bruismeel (of koekmeel + 2 t bakpoeier)
2 ml sout
Smelt die botter of margarine in die kookwater. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en meng die kookwater mengsel by tot ‘n sagte deeg vorm. Ek gebruik my deeghak in my menger.
Gooi in ‘n plastiek sakkie en sit in die yskas vir ten minste ‘n uur of tot yskoud. {*op hiedie stadium kan jy dit ook vries vir latere gebruik}.
Op ‘n meelbestrooide oppervlak, druk die deeg plat en rol uit tot 3mm dik. Sny vorms soos verlang, voer pannetjies of oondbak uit met die deeg. Sny dekseltjies vir die bo-kante, maak ‘n gaatjie in sodat die stoom kan ontsnap. Sit die koue vleis vulsel in en maak toe met die dekseltjie. Smeer die kante nat met bietjie water op jou vinger, knyp die deeg toe en verf met geklitste eier of melk met bietjie suiker in.
OF
Maak dit soos ‘n wasgoedbondeltjie met die koue vleis vulsel binnekant en bak in gesmeerde muffin pannetjies soos onder.
Bak by voorverhitte oond by 200°C vir vanaf 20min tot 40min afhangende van hoe groot die pasteie is. Hulle moet mooi goudbruin bo-op wees.
Foto: Elsabie Templeton