
HOE GEMAAK AS DIE KOEK PLATVAL?
Marlene Erickson, Wes-Kaapse skakelpersoon van die SA Koekversierdersgilde, bak al vir meer as dertig jaar spogkoeke vir al wat ‘n troue of verjaardag in die Kaap is. “As jy my ken, sal jy weet ek maak nie eintlik flops nie,” skerts sy, maar erken dat daar tog al hier en daar ‘n taai toffie was.
’n Groot uitdaging was toe ‘n bruid aangedring het op (harde) fondant-versiersel op ‘n (sagte) sponskoek. Marle¬ne het ingestem, maar gewaarsku die risiko is groot. Dit is toe ook so ¬- toe sy die tweede laag van die koek begin versier, is dit nie lank nie of die versiersel begin skeef trek en borrels maak. Daar was geen salf aan te smeer nie, sy moes van voor af begin bak. Dié keer het sy die koek versier met “goeie ou botterversiersel” – en die bruid het dit nooit eens agtergekom nie.
Sedertdien is Marlene se onwrikbare leuse: “‘n Sagte koek kry sagte versiersel, en klaar.”
Johan Odendaal, uitvoerende sjef van die bekroonde Kaapse restaurant Emily’s, het ook ‘n storie te vertel.
”Ek moet erken my moed het 2 000 keer in my skoene gesak op ‘n sekere dag in 2010.
Dit was net voor die Wêreldbeker en ons was geweldig besig, en intussen het ek ja gesê vir ‘n bestelling van 36 gourmet-kolwyntjies. Teen 22:00 die aand voor die geleentheid was al die kolwyntjies klaar versier, toe een van my studente die hele spulletjie optel… en op die grond laat val.” Johan moes van voor af begin.
Vir daardie alledaagse bakprobleme het hy wel goeie raad: “Ek sê altyd vir my studente, elke sjef moet die wonder van spinsuiker in sy `gereedskapkis` hê. Iets wat ‘n bietjie skeef of krom is, never fear, jy sit ‘n Priscilla Presley-beehive van spinsuiker bo-oor, dit red alles!”
Colleen Amman is die eienaar van die gewilde Cupcake Boutique in Sandton. Sy bak daagliks ‘n verskeidenheid vars kolwyntjies, maar doen ook heelwat besigheid op bestelling. Háár¬ skrikstorie het ook met ‘n bruid te doen. Alles het goed gegaan, die fondant-koek het pragtig gelyk, die bruid het dit kom haal en die pad gevat. ‘n Paar uur later kry Colleen ‘n benoude oproep: Die koek het uitmekaar geval. Later sou hulle agterkom die bruid het die koek met plastiek bedek terwyl sy dit vervoer het. Die koek het begin sweet en die versiersel het afgegly… Colleen se raad? “Moet uit die aard van die saak nie dat plastiek naby jou fondant-versiersel kom nie.” En aan beroepsbakkers: “Moet liefs nie dat die bruid self die koek kom haal nie!”