1

BASIESE BAKKERSMENGSEL


BASIESE BAKKERSMENGSEL
1 kg koekmeel
10 ml sout
20 ml bakpoeier
375 g bakkers margarien of botter, koud grof gerasper
Plaas al die bestanddele in ‘n voedselverwerker en verwerk tot fyn soos broodkrummels.
Stoor in lugdigte houers in die yskas vir 3 maande. Gebruik soos nodig.
Kaasskons:
1 ½ koppie bakkersmengsel
2 teelepels bakpoeier
70 g (½ koppie) koekmeel
30 ml (2 eetlepels) wit- of bruinsuiker
1 koppie Cheddarkaas, gerasper
1 medium eier, geklits
125 ml (½ koppie) volroommelk
Voorverhit die oond tot 190ºC en smeer ‘n bakplaat.
Meng die droë bestanddele en die kaas saam in ‘n mengbak. Maak ‘n holte in die meelmengsel en voeg die eier en melk by.
Gebruik twee tafelmesse en sny die melk en eier liggies in die meelmengsel in. Moenie die deeg oorbewerk nie, indien daar nog wit meel dele sigbaar is, is dit nie ‘n probleem.
Keer die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en druk dit liggies plat tot ongeveer 3 cm hoog.
Druk skonvorms uit met ‘n koekie drukker of maak een groot skon. Plaas die deeg op die gesmeerde bakplaat en druk die res van die deeg, indien daar oor is, weer liggies aanmekaar en verwerk.
Bak in die voorverhitte oond vir 20 – 25 minute. Bedien die skons louwarm.
Porsies: 6 – 12 skons afhangende van grootte. Een groot skonwiel kan ook mooi lyk, asook deeg in kolwyntjie panne gebak. Geniet en speel lekker.

Broskorsdeeg:
2 koppies bakkersmengsel
1 groot eiergeel
4 eetlepels kouewater
Plaas bestanddele in ‘n voedselverwerker en draai die lem totdat die mengsel ‘n bol vorm. Haal uit en druk die deeg plat. Plaas dit in ‘n sakkie en verkoel die deeg vir 20 minute voordat dit uitgerol word.
Gebruik die deeg in alle pasteiresepte soos voorgeskryf.
Wenk:
Die deeg kan rou gevries word vir maksimum 4 maande.
Porsies: Genoeg vir 12 handpasteie van palmgrootte of een groot pastei vir ‘n pasteibak.

Plaatkoekies:
2 koppies bakkersmengsel
1 teelepel bakpoeier
1 ml koeksoda
30 ml (2 eetlepels) witsuiker
200 ml melk
1 ekstra groot of groot eier
Klits die bestanddele saam in ‘n mengbak en laat die deeg vir 20 min rus om te verdik.
Bak lepelsvol deeg op mediumwarm plaat in ‘n kleefvrye pan sonder enige olie.
Bedien warm.
Resep geplaas: Santie Carelse