BEESHART RESEPTE


BEESHART RESEPTE
Gestopte beeshart:
1 beeshart
warm water
gemaalde vleis, na smaak
sout en peper na smaak
fyn naaltjies na smaak
1 ui, gekap en bruin gebraai
botter of vet
Plaas die hart vir drie ure in warm water. Sny die hart aan eenkant oop en skep of sny die binneste vleis van die hart uit.
Meng gemaalde vleis, ui en speserye saam.
Stop die hart met die vleismengsel en werk die hart toe met gare of tou.
Smeer die hart met botter of vet, vou die hart toe in bakpapier wat met tou vasgebind is, en bak die hart vir 2 ure in ‘n matige oond.
Resep geplaas: Jan Van Niekerk
Stowe beeshart:
1 beeshart
2 repe swoerdlose ontbytspek
1 klein ui
5 ml gekapte pietersielie
190 ml droë broodkrummels
2 ½ ml gemengde kruie
1 eier, geklits
3 ml sout
3 ml varsgemaalde swartpeper
koekmeel om hart te bestrooi
30 ml botter
Voorverhit die oond tot 180°C. Sny ‘n opening in die hart en was dit behoorlik uit met louwater. Sny die binnespiere uit en spoel weer goed uit onder lopende water. Sny die spek fyn en meng met ui, pietersielie, eier, kruie en broodkrummels. Stop die hart met die spekmengsel en werk dit goed toe met gare. Geur die hart rondom met sout en peper en bedek met meel. Smelt botter in ‘n kastrol en braai die hart tot bruin in die botter. Voeg net genoeg warm water by om die hart te bedek, plaas deksel op en stowe vir twee ure. Sit voor met kweperjellie.
Resep geplaas: Jan Van Niekerk.
Hart- en niertjieontbyt:
1 ui, fyngekap
1 eetlepel botter
1 beeshart, skoongemaak en opgekap
4 niertjies, skoongemaak en opgekap
3 teelepels vars gekapte tiemie
2 koppies vleisaftreksel
4 eetlepels koekmeel
sout en peper na smaak
Braai die ui in die botter en voeg die hart- en niertjiestukkies en tiemie by.
Smoor vir ‘n halfuur teen lae temperatuur sodat dit water trek.
Meng die vleisaftreksel en meel en voeg dit by die hart en niertjies in die kastrol.
Geur met sout en peper en roer gedurig terwyl dit kook om te verdik.
Bedien op roosterbrood.
Resep geplaas: Tiana Botes.