HEERLIKE GESONDHEIDSBROOD


HEERLIKE GESONDHEIDSBROOD
Lewer 2 brode
500 ml vetvrye melk, louwarm
15 ml rou heuning
10 ml koeksoda
750 ml broodmeel
5 ml sout
10 ml bakpoeier
250 ml laer GI hawermout
250 ml hawersemels (oatbran)
15 ml gekapte neute, enige soort (ek het gemengde ongesoute neute gekoop en fyngekap)
15 ml sonneblomsaad
15 ml lynsaad
15 ml bruinsuiker
250 ml sultanas
2 middelslag appels, geskil en gerasper
1 groot wortel, geskil en gerasper
60 ml canola olie
Meng die melk, heuning en koeksoda in ‘n maatbeker en laat staan om effens te skuim. Sit opsy. Voorverhit die oond tot 180°C en bespuit 2 broodpanne van 220 x 120mm elk met kossproei. Sif die meel, sout en bakpoeier in ‘n groot mengbak. Voeg die res van die droë bestanddele, behalwe die vrugte en wortel, by en lig ‘n paar keer met ‘n lepel om te belug. Voeg die sultanas, gerasperde appels, wortel, olie en melkmengsel by en meng deeglik. Skep in die voorbereide broodpanne en bak in die voorverhitte oond vir ongeveer 45 minute tot ‘n toetspen wat in die middel van elke brood ingesteek word, skoon uitkom.
Haal uit die oond en laat vir 30 minute op ‘n draadrakkie afkoel voordat jy die brode uit die panne keer. Nota: Die brode vries goed vir tot 3 maande. Bevries dit klaar gesny en haal uit soos benodig en ontdooi in ‘n broodrooster. Die appel en wortel voeg nie net vog en kleur by die broodjie nie maar verlaag die GI ook.
Resep en foto: Juanita Vermeulen