MAKLIKE GEBAKTE MACARONI EN KAAS


MAKLIKE GEBAKTE MACARONI EN KAAS
6 – 8 Porsies
Basiese resep (ek sal my variasies aan die einde gee)
2 eetlepels botter
250 ml maaskaas (nie lae vet)
500 ml volmelk (te min na my mening)
1 teelepel droë mosterd
knypie rooi peper
knypie neutmuskaat
½ teelepel sout
¼ teelepel swart peper
450 ml gerasperde cheddar – hou ½ daarvan terug
100 – 200 ml broodkrummels/Panco
250 g macaroni – ongekook
Verhit oond tot 230ºC.
Oondrak in boonste derde van oond.
Smeer oond bak met botter / spray n cook.
Oorspronklike resep sê om die maaskaas, melk, mosterd, rooi peper, neut, sout en peper saam te blits en dan die res bymekaar te voeg. Hulle bak dit dan van die begin af in ‘n oondbak met ‘n deksel in die oond.
Om tyd te spaar, verkies ek om alles in ‘n kastrol wat in die oond kan gaan op die stoof te begin en wanneer alles lekker begin kook en die macaroni halfpad sag is, die laaste cheddar + krummels oor te gooi en te bak tot gaar en bruin in die oond – min of meer 30 minute.
My verdere variasie van die resep:
Ek gebruik letterlik enige kaas variasie wat ek in die yskas het – parmesan, cheddar, blou kaas, maaskaas, feta – plus melk, plain yoghurt en room. Enige bietjies oorskiet in die yskas – sampioene, rooi en geel soetrissie, tamatie in blokkies gesny, spek en/of worsies opgesny, uie wat vooraf gebraai is kom ook by. Dit is nie noodsaaklik nie, maar dit doen ook geen kwaad nie.
Ek het baie eiers beskikbaar, so ek klits so 5 eierwitte tot lekker pof en vou dit en die eiergele deur die bogenoemde mengsel. Dis optioneel, maar ek dink dit gee lekker lyf aan die gereg.
Meng die broodkrummels en laaste deel van die cheddar en sprinkel ruim oor die mengsel in die oondbak/kastrol. Bak minstens 30 min tot net gestol en mooi bruin en crisp bo-op.
Ek het dit met piekels bedien.
Resep en foto: Petro Borchard