EKONOMIESE HOENDERPASTEI


EKONOMIESE HOENDERPASTEI
Vir ekonomiese redes het ek ‘n paar bestanddele wat ek altyd inspan om ‘n vleisgereg te rek, sonder dat dit eintlik verskil maak aan die kwaliteit en smaak van so ‘n gereg. In hierdie geval gebruik ek, onder andere, eiervrug, aangesien dit die primêre smaak van die gereg absorbeer en jy nie eers agterkom dat dit deel daarvan is nie. Pasta in ‘n hoenderpastei? Wel, dit werk vir my vir dieselfde rede. Dit is egter opsioneel.
3 groot hoenderborsies
1 gekapte ui
1 teelepel gedroogde roosmaryn
1 teelepel oreganum
2 teelepels hoenderspeserye
sout en peper na smaak (wees maar suinig met die sout, want van die ander bestanddele het ook sout in)
2 medium grootte eiervrugte, in klein blokkies gesny (opsioneel)
250 g skulpie noedels (opsioneel)
250 gram sampioene, in skyfies gesny
1 pakkie room van hoendersop poeier
Kookwater pasteideeg http://www.foodloversrecipes.com/20…/…/kookwater-pasteideeg/
Plaas die hoender (dit kan nog gevries wees) saam met 1 ½ koppie water, die uie, roosmaryn, oreganum, hoenderspeserye en sout en peper in ‘n stoompot, bring die stoom op en stoom oor medium hitte vir 20 minute. Verwyder dan die hoender met ‘n dreineringslepel om af te koel en giet die aftreksel oor in ‘n ander kastrol. Braai die sampioene in ‘n bietjie olie in ‘n pan en voeg ‘n klein bietjie van die aftreksel by wanneer dit te droog raak. Laat dit net sag word en hou eenkant. Kook die eiervrug blokkies in die aftreksel vir ongeveer 10 minute of tot dit net sag is. Dit moet nie pap word nie. Verwyder ook met ‘n dreineringslepel en hou eenkant. Plaas die noedels in die kokende aftreksel en voeg bietjie water by om dit te bedek.
Kook tot gaar volgens die pak se instruksies (gewoonlik 10 minute) en verwyder met dreineringslepel. Voeg die soppoeier by die laaste van die aftreksel in die kastrol en meng deeglik. Bring tot kookpunt en prut terwyl jy gereeld roer tot dit ‘n dik romerige tekstuur het. Dit mag nodig wees om bietjies water by te voeg. Ontbeen en vlok die hoender en voeg saam met al die ander bestanddele by die sop. Meng deeglik.
Voer ‘n oondbak wat met ‘n kleefwerende middel behandel is met die uitgerolde deeg uit en skep die mengsel daarin. Bedek met die res van die deeg, bekwas met geklitste eier en bak vir 20 – 30 minute by 190ºC tot die deeg opgepof het en goudbruin is.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete