EIERVRUG EN APPEL BLATJANG

EIERVRUG EN APPEL BLATJANG
15 groot eiervrugte
20 uie, geskil en gekap
12 tamaties, geskil en gekap
12 Royal Gala appels, geskil en ontkern en blokkies gesny
16 koppies suiker
3 liter asyn
120 ml kerriepoeier
180 ml mielieblom (maizena)
20 ml sout
150 ml olie
5 teelepels borrie

Ek het my uie geskil, tamaties in kookwater laat lê vir paar minute en toe koue water opgegooi en skille afgetrek, appels geskil en in blokkies gesny.
Ek het toe die uie en tamaties in my voedselverwerker gegooi en grof gekap.
Toe gooi ek appels, uie en tamaties in my stoomkastrol, was twee kooksels gewees en stoom vir 10 minute, dit gaan net gouer vir my om dit te stoom tot gaar.
Toe gooi ek dit oor in my groot kastrol. In die tussentyd het ek die eiervrugte geskil en blokkies gesny.

Ek het sommer my een wasbak gebruik die eiervrug blokkies daarin gegooi en lekker laag sout oorgestrooi en so oor elke laag eiervrug sout gestrooi.
Dit was gereed om gespoel te word en saam die res van die bestanddele buiten die mielieblom in groot kastrol gegooi en gekook tot die asyn meeste weggekook en eiervrug ook sag en gaar is.
Maak nou die mielieblom aan met water en voeg by en kook tot dik soos verlang.

WENK: Die oorspronklike resep sê 250 ml olie om uie en tamaties in te braai, maar omdat ek dit in my stoomkastrol gekook het, was die olie heeltemal te veel gewees en ek het omtrent twee koppies olie afgeskep voor ek dit dit dikker gemaak en gebottel het. Want jou olie braai mos nou nie weg omdat dit gestoom word nie.
Resep en foto:  Petro Kloppers