GRIEKSE GEVULDE KOOLROLLETJIES IN EIER-SUURLEMOENSOUS

GRIEKSE GEVULDE KOOLROLLETJIES IN EIER-SUURLEMOENSOUS
(LAHANODOLMADES ME AVGOLEMONO)
Vir die rolletjies:
1 medium grootte koolkop
500 g maalvleis
1 medium grootte ui
1 eier
1 eetlepel gekapte pietersielie
2 teelepels gedroogde Oreganum
2 teelepels gedroogde Dill
3 eetlepels kortkorrel rys
1 derde koppie olyfolie
sout en peper na smaak

Vir die sous:
2 eiers
½ koppie suurlemoensap
1 eetlepel mielieblom (maizena)
1 koppie water waarin die rolletjies gekook is

Berei eers die koolblare voor.
Haal die buitenste blare af en maak die binneste koolblare versigtig los van die kop. Was die blare deeglik in skoon water. Giet water in ‘n groot diep kastrol en bring tot kookpunt. Plaas ‘n paar blare op ‘n keer in die kokende water en blansjeer vir ‘n minuut of twee. Haal uit met ‘n dreineringslepel en plaas op ‘n skoon werkoppervlakte. Die proses veroorsaak dat die blare sag word en maklik is om te rol. Sny die harde middelste aar uit elke blaar sodra dit bietjie afgekoel het. Hou dit eenkant om later te gebruik. Ek het 12 blare medium grootte blare gebruik, wat genoeg was vir hierdie resep. Indien jy kleiner en meer rolletjies wil maak, kan die blare net in 2 gesny word.

Berei nou die vulsel voor.
Meng die maalvleis, rys, fyngekapte ui, eier, Pietersielie, Oreganum, Dill en sout en peper in ‘n mengbak. Verwerk deur liggies met jou vingerpunte te knyp en om te keer sodat die geure deeglik met mekaar kan meng.
Plaas ‘n blaar op ‘n plat oppervlakte en skep ‘n lepelvol van die vulsel op die steelkant daarvan. Vou die blaar om die vulsel na die middel toe en vou dan die kante daaroor na binne. Rol dit nou verder op. Moenie te veel vulsel insit nie want die rys gaan uitsit wanneer dit kook. Voer ‘n groot genoeg kastrol se bodem met die harde binneste gedeeltes van die blare wat eenkant gehou is, asook ander oorskiet gedeeltes blare uit en pak die rolletjies styf teen mekaar daarop met die gevoude randte van die gerolde blare na onder. Daar kan meer as een laag gepak word. Geur met sout en peper en giet die olyfolie oor die rolletjies. Plaas ‘n bord onderste bo bo-oor die rolletjies om dit vas te druk en vul op met water tot die rolletjies net bedek is. Plaas die deksel op, bring tot kookpunt en prut dan oor lae hitte verder vir 1 uur.
Verwyder die gaar rolletjies versigtig uit die kastrol na ‘n opdienbak en hou die water. Hou die rolletjies warm.

Berei die eier-suurlemoensous voor
Klits die eiers met ‘n handklitser en voeg die suurlemoensap by. Voeg dan die mielieblom by en klits tot dit opgelos is. Terwyl nog aanmekaar geklits word, voeg nou een koppie van die warm water waarin die rolletjies gekook het, bietjie vir bietjie by. Giet die sous oor die koolrolletjies en bedien warm.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete