SJOKOLADE MOUSSE KOEK

SJOKOLADE MOUSSE KOEK
Hierdie is voorwaar ‘n koek uit die boonste rakke! Sjokolade koek met mousse vulsel en room versiersel!
Ek het begin met hierdie resep – 4 lae in 20 cm panne gebak.
http://www.foodloversrecipes.com/…/the-most-amazing-chocol…/
Ek het net 2 lae gebruik vir die koek – die ander twee het ek in plastiek toegedraai en in die vrieskas gesit vir ‘n ander dag.
Bak die koek en laat afkoel.
Maak die mousse.
Sny twee lae koek elkeen in die helfte sodat jy 4 dun lae het.
Plaas ‘n laag koek op ‘n bord. Smeer 1/3 van die mousse bo-oor. Sit die volgende laag koek bo-op, nog 1/3 mousse, nog koek, nog mousse, en dan die laaste laag koek. Bedek en sit in die yskas vir so uur sodat die mousse kan stol.

Maak die versiersel aan – smeer bo-oor en aan die kante van die koek. Versier nes jy wil.
Mousse:
4 eiergele
¼ koppie suiker
½ koppie room
1 ¼ koppies sjokolade “chips”
1 ¼ koppies room
¾ koppie versiersuiker
Plaas die eiergele, suiker en ½ koppie room in ‘n mengbak, en plaas die dan oor ‘n pot kookwater. Kook die mengsel, terwyl jy heeltyd klits. Dit sal begin dik word. Seker so 7 – 10 minute. Haal van die stoof af, en sit eenkant.
Smelt die sjokolade in die mikrogolf – roer totdat dit mooi glad is.
Meng die sjokolade by die eiermengsel en laat dit dan afkoel tot kamer temperatuur. (Ek tap koue water in die wasbak en sit die bak in die water sodat dit vinniger afkoel).
Sif die versiersuiker in ‘n tweede mengbak, gooi 1 ¼ koppies room by, en klits dit tot stywe punte. Voeg so helfte van die room by die sjokolade mengsel en klits tot goed gemeng. Vou nou die res van die room by die sjokolade mengsel.

Room Versiersel:
¾ koppie versiersuiker
½ koppie kakao
2 ½ koppies room
1 teelepel vanielje
Sif die versiersuiker en kakao saam in ‘n mengbak. Gooi die room en vanielje by. Klits tot stywe punte.
Versier die koek nes jy wil. Jou vriende en familie gaan baie lief wees vir jou!
Bere oorskiet koek in die yskas.
Foto en resep geplaas deur Debbie Edwards