MARIETTE SE TUISGEMAAKTE ROOMKAAS


MARIETTE SE TUISGEMAAKTE ROOMKAAS
Resep geplaas deur Mariette Visser
Ek maak amper elke week my eie roomkaas. Dis vreeslik maklik. Die amasi wat jy oornag laat deursuig is heerlik glad en romerig, maar het ‘n definitiewe jogurt-smaak. Ek verkies die volgende metode. Dit maak heerlike, ryk en romerige, stywe roomkaas soos die blokke wat jy koop.
3 koppies volroom melk
1 koppie vars room
3 – 4 Eetlepel suurlemoensap of witasyn
Sout
Verhit die melk en room in kastrol tot dit net-net begin prut. Roer gereeld dat melk nie onder brand nie. Voeg die asyn by en beweeg dit net so liggies met ‘n metaallepel (ek het op youtube heelwat videos gekyk en van hulle gebruik houtlepels en van hulle roer sommer, maar ek vind ons melk hier in SA is seker nie heeltemal so ryk soos hulle s’n nie, want wanneer die wei en wrongel (curds) skei, skei dit nie in sulke dik stukke soos op die videos nie) laat dit so staan tot die wei lekker deursigtig is en nie meer melkerig nie.Dreineer nou deur ‘n dubbellaag kaasdoek (of ‘n skoon wit vadoek, nie die wollerige soort nie) wat in ‘n groot sif/vergietes lĂȘ oor ‘n diep bak/pot/emmer. Die wei loop vinnig deur en na 15 min is dit klaar. Jy kan die doekpunte bymekaar trek en dit bietjie druk as jy bang is daar is nog wei oor, maar ek vind dit nie nodig nie. Nou geur jy dit net met sout. Bietjie meer as wat jy sou dink, dit raak minder sout as dit afkoel. Ek proe-proe maar. Skep in bakkie en hou in yskas.
As jy net melk wil gebruik, gebruik 4 koppies melk en gaan aan op dieselfde manier. Die kaas is dan meer soos geroomde maaskaas en nie ryk soos roomkaas nie. Dit hang af waarvoor jy dit wil gebruik.
Wenke:
Die langste wat ek dit nog gehou het was 5 dae en toe was dit nog 100%, so ek is seker dit kan nog langer hou.
Ek maak gereeld kaaskoek daarmee en dit werk perfek en is heerlik! Ek moet net noem dat ek nog nie gebakte kaaskoek gemaak het nie (nie my gunsteling nie), maar het al allerhande geure yskas kaaskoeke gemaak en dit was nog elke keer ‘n groot sukses.
Ek gebruik gewone VOLroom vars melk. Het dit nog nie met langlewe melk probeer nie