HOENDER – FILLETTE EN RYS VERRASSING

HOENDER – FILLETTE EN RYS VERRASSING
500gr hoender fillette (4 stukke fillet-genoeg vir 4-6 mense)
1 eetlepel hoenderspeserye
1/2 teelepel gemmer
2 eiers
Broodrummels – (ek sorg altyd dat ek groot genoeg voorraad het van die soort wat beskikbaar is by alle supermarkte – ek hou nie van die fênsy vooraf voorbereide krummels nie – gewoonlik te grof)
1 groot plastiek sak – ek gebruik die groot vriessakke
Genoeg olie of olyfolie

Sny skywe(nie te dik nie) oor die lengte van die hoender fillette.
Ek gebruik ‘n medium grootte toebroodjie plastiek sak, breek die eiers daarin oop en voeg dan die hoenderspeserye en gemmer by. Verseël die sakkie deeglik en meng/skud die inhoud totdat eiers en speserye goed gemeng is. Strooi die mengsel oor die voorbereide fillette in ‘n bak. Roer goed sodat dit kan versprei. (Die plastiek sakkie word weggegooi)
Gooi broodrummels in die groot plastieksak, voeg die fillette so 4-6 op ‘n keer by krummels. Skud dit goed sodat hoender bedek word met krummels. Gebruik ‘n koekroller om die filette so een vir een plat te rol – binne in die plastiek sak. Dit sprei uit soos dit platter gerol word en bespoedig die gaarmaak proses. Herhaal die proses tot alles gekrummels en plat gerol is.
Gebruik ‘n groot genoeg bak en bedek bodem met net genoeg olie. Pak die fillette langs mekaar in die bak. Wanneer alles in bak is, en deurweek is met die olie, gebruik ‘n vurk om dit om te draai, sodat die bokant ‘gesmeer’ word met olie.
Bak in die voorverhitte oond 180ºC vir ongeveer 20 min. Jy kan die hoender omdraai na 10 minute om te verhoed dat dit aan die bokant ‘uitdroog’.
Wanneer gaar, verwyder vanuit oondbak en plaas dit om kombuispapier om oortollige olie te dreineer.
Strooi bietjie sout oor….reg vir bedien….en heerlik sappig!

Die rys wat ek opgedien saam met die hoender is soos volg berei:
Kook 1 koppie rou rys tot gaar, spoel af en laat effens afkoel.
Ontdooi gedeeltelik 1 pakkie gevriesde Hawaiian Stirfry. Plaas in pan met ‘n klein bietjie olie, laat die groente net goed warm word en voeg gemaalde swartpeper en knppie sout by na smaak en dan die gaar rys daarby. Meng goed.
Siedaar jy het rys wat kleurvol lyk met die gemengde groente én heerlik smaak.
As ‘n bonus het ek ‘n baadjie aartappel in die mikrogolf gaargemaak, bolangs gesny en opgedien met ‘n mespunt botter.
Foto: Maria Kolesky