HELENE SE KARRINGMELKBESKUIT

HELENE SE KARRINGMELKBESKUIT
9 koppies bruismeel (Snowflake is die beste)
Of (9 koppies koekmeel en 9 teelepels bakpoeier)
1¼ teelepel sout
500 g Rama of enige ander harde margarine soos Stork Bake
2 koppies suiker / Natreen
2 koppies Amazi of karringmelk
3 groot eiers
Meng al die droë bestanddele.
Smelt margarine en suiker en meng goed met elektriese klitser. (Suiker moet opgelos wees anders is beskuit hard.)
Voeg Amazi by suiker/botter mengsel en klits tot gladde mengsel.
Voeg eiers by en meng maar moenie te lank klits nie.
Voeg die nat mengsel by die droë bestanddele en meng tot ‘n sagte deeg maar nie klewerig nie.
Druk die mengsel in ‘n pan met die hand of rol met koekroller om dit egalig te kry en sny in verlangde stukke indien u nie ‘n snyer het nie.
Bak teen 180ºC vir 45 minute of tot ‘n ryk goue kleur. (Thermofan oonde voor verhit tot 180ºC en sodra die beskuit ingesit word, draai hitte af na 160ºC.
U kan ook 2 koppies All Bran en 1½ koppie Sonneblomsaad of 2 koppies Muesli byvoeg vir gesondheidsbeskuit.
Indien die mengsel te styf is, voeg nog ‘n klein bietjie Amazi by om ‘n sagte deeg te vorm.
UITDROGING
Plaas die stukke op ‘n oondrak met tinfoelie uitgevoer en droog in oond teen nie hoër as 100ºC nie, afhangende van die stoof se hitte. Voel die temperatuur met die hand dat dit nie te warm is nie en droog vir ten minste 6 uur uit. Voel aan die beskuit of dit amper droog is en skakel die oond af om verder uit te droog.
Onthou ‘n resep is ‘n riglyn. Pas dit aan na jou eie smaak.
My panne wat ek gebruik is 500 x 450 en daar kom 90 stukkies uit. Gebruik die resep net soos wat hy is. Lekker bak!
Resep van Helene De Villiers-Schwarzer
Foto en beskuit gebak deur Sonika Doogan
2de foto:  Meisie van der Colff