HEERLIKE GEBAKTE KAASKOEK



HEERLIKE GEBAKTE KAASKOEK
Foto: Debbie Edwards
FOOD LOVERS RECIPES
Ek het gister sommer 2 kaaskoeke gemaak om werk toe te bring. Ek het ook ‘n pot aarbei sous gemaak om by te dien. My kollegas word bederf!!!
Hier volg die resep:
KAASKOEK
Kors:
400 ml fyn koekie krummels
2.5 ml kaneel
100 g gesmelte botter
Vulsel:
500 g Philadelphia room kaas
3 eiers
250 ml suiker
500 ml suurroom
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
5 ml vanilla geursel
Verhit oond na 165°C.
Sproei ‘n 20 cm pan (die soort waar die bodem uitgehaal kan word) liggies met Spray-n-Cook.
Meng al die kors bestanddele met ‘n vurk saam tot eweredig klam.
Skep die krummels in die pan, en druk vas met die bodem van ‘n maatkoppie. Druk dit ook so 2 cm teen die kant op.
Sit die pan op ‘n groot stuk foelie, en vou die foelie op teen die kante van die pan. Herhaal met ‘n tweede stuk foelie.
Plaas die pan in die yskas terwyl jy die kaaskoek aanmaak.
Haal ‘n braaipan uit wat groot genoeg is dat die kaaskoek-pannetjie maklik binne-in pas en hou dit eenkant. (Jy gaan ‘n Bain-Marie met hom maak).
Maak die ketel vol en skakel dit aan om te kook.
Klits die kaas net totdat dit glad is, sonder klonte.
Voeg die eiers een-een by en klits net totdat dit saamkom. Skraap die bak om seker te maak alles word gemeng.
Voeg die suiker geleidelik by en klits totdat dit romerig is.
Voeg die suurroom, suurlemoenskil en vanilla by en klits totdat alles goed gemeng is.
Haal die pan uit die yskas, skep die beslag in en smeer dit mooi gelyk met ‘n mes.
Plaas die kaaskoek-pan in die braaipan en gooi kookwater rondom totdat die water so 2-3 cm diep is.
Plaas dit in die oond en bak vir 50 – 60 minute. Die kaaskoek moet effens bruin begin word, maar moet nog steeds “jiggle”.
Koel af vir so uur, bedek liggies en sit in die yskas (verkieslik oornag).
Gebruik ‘n dun mes om die kaaskoek los te maak van die pan. Verwyder die kante en plaas die kaaskoek op ‘n bord.
Sny met ‘n dun mes en sit voor met ‘n aarbei of bloubessie sous.
Bloubessie sous:
2 koppies bloubessies
sous en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml suiker
Plaas alles in ‘n klein pot oor matige hitte. Roer versigtig totdat dit begin kook. Prut vir 5 minute totdat die bessies begin bars.
Verkoel.
Aarbei sous:
3 koppies aarbeie – spoel af, sny die groen gedeelte uit en sny in die helfte.
75 ml suiker
2.5 ml vanilla geursel
20 ml maizena
30 ml brandewyn (of water)
Plaas die aarbeie, suiker en vanilla in ‘n pot oor matige hitte. Roer versigtig totdat die suiker opgelos is.
Meng die Maizena en brandewyn saam en voeg by die aarbeie.
Kook totdat dit dik word terwyl jy aanhoudend roer.
Verkoel.