HANNES SE SKAAPAFVAL



SKAAPAFVAL
Afval kook is groot werk daarom kook ek `n groot pot vir meer as een ete.
Skaap soos alle herkou-diere, het vier soorte pense. Die ritikulum. Kontrei name is ruitjiespens, blokkiespens, heuningkoekpens, harsingpensen kleinpensie.
Dit is koepelvormig en word gebruik om die harsings in te kook.
Die Rumen of grootpens, komberspens, waslappens, vatdoekpens is die pens wat ons gaarmaak saam met die kop en pote. Hy verg baie aandag en uitvars.
Die Omasum of blaarpens, psalmpens, bybelpens, en boekpensie. Dit is boekvormig en die skaap se voedsel word tussen die blaaie gepers en lyk dan soos blare. Dit is baie tydsaam om tussen die blaaie skoon temaak en word gewoonlik weggegooi.
Die Abomasum of melkpens is baie slymerig en nie geskik vir menslike gebruik nie.
My metode of liewer prosedure;
Ek haal die afval die vorige dag uit die vrieskas sit dit in die yskas om 5 uur die volgende oggend ontdooi te wees, dan haal uit mekaar, was die pens onder lopende water en sit in `n groot bak soutwater.
doen dieselfde met die kop en pote in `n ander bak soutwater.
Laat week vir `n uur, spoel die pens goed af en sny in stukke van so 100mm. Die ruitjiespens met die harsings in se lyntjie word af gesny, die harsings in `n piering bewaar en die pensie saam met die ander pens in `n groot pot water gekook vir `n uur.
Intussen word die kop en pootjies bewerk, pote kleiner gekap en die kop verder geborsel met `n stywe borsel, ek sny ook die oë uit hul kaste en borsel agter in die oog kaste, druk dan die oë weer terug.
Teen dié tyd is dit so 9-10 uur en die pense afgewater.
Gooi die water af maak die pot skoon van die vetjies wat daarin sit, sit die kop, pote en pens in die pot en bedek met koue water
Voeg die volgende by:
2 eetlepels growwe sout
1 teelepel varsgemaalde swart peper
2 lourierblare
1 teelepel geskroeide en fyngemaakte koljander
4 kruinaeltjies
4 korrels wonderpeper
Bring tot kookpunt en prut vir 6 tot 8 ure.
As jy vanaand Vaalafval gaan eet dan is die pot nou omtrent reg behalwe vir die groente wat jou voorkeur is.
Sit dan by `n handvol klein aartappels, `n ui of twee as jy so voel selfs wortels en preie, maar ons hou die afval eenvoudig, gewoonlik net jong aartappels met `n paar vars tuin kruie.
Voor opskep word die ruitjies pens uit die pot gehaal en die harsings daarin toegebind dan teruggesit in die pot
Ek het grootgeword met kerrie afval en dis ook my vrou se gunsteling.
2 groot uie in skywe
2 eetlepels olie om uie in te braai
2 groot knoffelhuisies fyn gekap
1 eetlepel kerriepoeier
1 eetlepel borrie
1 eetlepel vinkelsaad
4 kardomomsade gekap en fyn sade uitgehaal
1 eetlepel fyn komyn
2 stukke pypkaneel
4 eetlepels tamatie pasta
2 eetlepels appelkooskonfyt
½ koppie asyn
Sap van ½ suurlemoen
Ek het `n kerrieblaar boom in my tuin so `n takkie met so 20 blaartjies kom by.
Proe maar gereeld aan die kos en pas aan met geurmiddels soos benodig
Per geleentheid sal ek 2 piesangs inkerf en miskien `n appel inrasper of selfs `n blikkie klapperroom bygooi
Na so 8-9 ure van stadig prut behoort die afval heerlik sag en lymerig wees, so liptaai moet hy wees
Afval hou nie van haas nie hy hou nie van `n drukpot nie hy wil stadig prut
Dis altyd `n goeie idee om speserye liggies te skroei voor dit fyngemaak en by die kos kom
Resep en foto: Hannes Smith
2de foto: Sult van nou die aand se oorskiet skaapafval