HEERLIKE KOFFIE-TYD ROOMKAASKOEK


HEERLIKE KOFFIE-TYD ROOMKAASKOEK
My kleindogter het hierdie heerlike “Coffee Cake” gister vir ons gemaak. Sy’s 11!
Bo-laag:
115 gram botter (koud – in klein blokkies gesny)
125 ml meel
125 ml bruin suiker
125 ml rof-gekapte neute (pekan)
Koek:
500 ml meel
10 ml bakpoeier
2.5 ml koeksoda
2.5 ml sout
125 gram botter (kamer temperatuur)
250 gram roomkaas (kamer temperatuur) (Philadelphia)
300 ml suiker
2 groot eiers
5 ml vanilla
125 ml melk
Metode:
Verhit die oond tot 180 grade. Smeer ‘n reghoekige koekpan (so 22 cm x 32 cm) met botter.
Vir die bolaag: Sny die botter, meel en bruin suiker saam tot krummelrig. Meng die neute by en sit eenkant.
Vir die koek: Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam.
Klits die botter en roomkaas saam. Voeg die suiker stadig by terwyl jy klits, totdat dit glad en romerig is. Voeg die eiers en vanilla by en klits tot gemeng.
Voeg die meel mengsel en die melk om die beurt by, en klits net totdat dit alles gemeng is.
Gooi die beslag in die koekpan.
Besprinkel nou met die gekrummelde bolaag. Stoot van die bolaag af in die beslag in, so 12 – 15 plekkies (gebruik sommer jou vinger).
Bak vir 35 – 40 minute (tot ‘n tandestokkie skoon uitkom).
Dis heerlik sommer so warm uit die oond uit. Wanneer die koek afgekoel het, kan jy kleef plastiek oor sit sodat hy nie uitdroog nie.
Dit vries ook baie lekker – sny enkel porsies, maak hulle in kleef plastiek toe en sit in ‘n Ziploc sakkie in die vrieskas.
Foto en resep geplaas deur Debbie Edwards