IDEALMELK-KARRINGMELKBESKUIT

IDEALMELK-KARRINGMELKBESKUIT

2½ kg bruismeel (5 x 500 g-pakkies)
30 ml bakpoeier (6 teelepels)
5 ml sout (1 teelepels)
500 g botter OF Wooden Spoon-margerien (botter is geuriger)
2 x 500 ml boksies karringmelk
1 blik volroom Idealmelk
3 x 250 ml suiker (3 koppies)
2 eksta groot eiers

Voorverhit oond tot 180ºC of Gas op 4. Smeer 2 lang broodpanne van 37 x 15 cm.
Klits die karringmelk, Ideal melk, eiers en suiker saam. Hou eenkant.
Meng die droë bestanddele: die bruismeel, bakpoeier en sout in ‘n groot mengbak. Hou 125 ml meel eenkant. Vryf die botter in die res van die meelmengsel totdat dit soos fyn mieliemeel lyk.
Maak ‘n holte in die meelmengsel en voeg die vloeistofmengsel daarin. Meng deur met ‘n mes tot goed gemeng en knie liggies tot ‘n gladde en sagte nie-klewerige bol deeg wat van die kante van die mengbak loskom. Gebruik die 125 ml meel om die hande skoon te vryf en verder te knie.
Maak ‘n holte in die meelmengsel en voeg die vloeistofmengsel daarin. Meng deur met ‘n mes en knie liggies tot gemeng. Gebruik die 125 ml meel om die hande skoon te vryf en oor die deeg te strooi. Knie liggies verder tot deeg van die kante van die deegskottel loskom en ‘n gladde sagte deeg vorm.
Verdeel die deeg in twee soos vir twee brode en plaas in die gesmeerde panne. OF vorm bolletjies en plaas dit in twee broodpanne. Laat toe dat dit effe uitrys.

Bak vir 1¼ uur op die middelste oondrak. (Karringmelkbeskuit rys pragtig uit as ‘n klam vel bruin papier bo-oor die deeg in die pan geplaas word. Verwyder die papier as die beskuit die verlangde hoogte bereik het en bak soos gewoonweg tot gaar.) Laat afkoel tot koud voor uitdroog.
Vir uitdroog: Sny elke pan beskuit in 2 cm dik snye. Sny/verdeel elke sny dan weer in vier of vyf beskuitvingers – dis veel gouer en makliker.
OF breek elke individuele beskuitbolletjie in drie kleiner langwerpige stukke. Die korsies word met ‘n skerp mes gesny en dan verder oop gebreek-skeur. Moenie dit met ‘n mes sny om gouer klaar te kry nie, want die gaar deeg klei onder die mes en lyk dan baie onaantreklik. Pak dig teen mekaar op die oondrakke en droog op die boonste en middelste rak van die oond – so hoog as moontlik dat die onderste element dit nie skroei nie.
Droog uit in oond op 100ºC of vir Gas op 1 (karringmelkbeskuit is fyn en skroei maklik) vir 3 – 4 ure tot effe geel-strooikleurig om ‘n besondere amperse Marie-beskuitjie-smaak te verkry. Geniet dit!

NS Jy kan dit ook in 2 plat Panneman-beskuitpanne bak, die met die beskuitdrukker. My beskuit is nou in die oond. Bak 45 minute. Dit lewer dus 2 x 72 beskuite. (144).

Bron: Heleen van Niekerk McDonald
Foto: Petre Van Jaarsveld

Alberta van Wyk
Terwyl jy die nat mengsel in die menger laat klits vryf jy gou die sagte botter in. Mens vryf dit nie tot ewigheid nie. As jy klaar gevryf het, is nat mengsel reg om deur te werk. Dit vat my ongeveer ‘n halfuur van begin tot in die oond. Ek het die groter panne wat 50 stukkies beskuit per pan maak. So ek kry 100 stukkies beskuit uit. As dit klaar uitgedroog is is dit omtrent 3.5 kg beskuit!

Elsabie Templeton
Ek is baie beindruk met die smaak van die beskuit. Word baie gou sag wanneer dit in koffie gedoop word. Smaak laat my dink aan “baby fingers”. Ek was wel bekommerd oor die hoeveelheid meel vir die mengbak van die Kenwood en het toe besluit om vir die eerste probeerslag net ongeveer die helfte van die meel te gebruik (10 koppies) met die res van bestanddele soos per resep (bakpoeier net verminder) so ek het ‘n slap deeg gehad wat nie vir my probleem was. Ek gooi dit in elk geval net in groot plat oondpanne, maak gelyk en bak. Ek het vir die eerste keer die Cordon Bleu bottergegeurde margarien gebruik en baie beindruk met dit. Teen daai prys gaan ek dit meer gebruik in die toekoms. Ek het ook Amazi gekoop ipv karringmelk (baie goedkoper). Ek gaan weer hierdie week die resep bak maar met muesli en neute in. Baie dankie vir die resep Heleen. Ek kan dit beslis aanbeveel.