PETRO SE ROOSAARTAPPELS


PETRO SE ROOSAARTAPPELS
Foto: Petro van Genderen
FOOD LOVERS RECIPES
Genoeg vir 12 rose so groot soos ‘n muffin pan.
45 ml botter
± 1 kg medium-groot aartappels
125 ml fyngerasperde parmesaankaas
seesoutvlokkies en swartpeper
250 ml room
‘n ruim knippie neutmuskaat

Voorverhit oond tot 180°C. Smeer holtes van muffinpan met botter.
Knip repe bakpapier en plaas twee oorkruis in elke holte. Dit gaan help om die gaar rosie uit te lig.
Was aartappels goed, maar dis nie nodig om hulle te skil nie.
Gebruik ‘n baie skerp mes of ‘n mandolien en sny in helfte van aartappel in baie dun skyfies, oor die breedte.
Sprinkel nou die gesnyde skyfies met sout, peper en neutmuskaat en sprinkel van die parmesaan kaas oor. Meng goed.
Rol die eerste skyfie aartappel in ‘n dun sigaartjie op – dit is die binnekant van die roos.
Pak nou blaartjies rondom tot jy ‘n mooi roosknopie in jou vingerpunte het.
Sit dit versigtig op die bakpapierkruis in die muffinpan.
Pak nou versigtig nog blaartjies rondom totdat die holte vol is en die blom volledig lyk.
Dit is belangrik om die aartappelblaartjies styf in te pak, anders gaan die blom nie sy vorm behou na dit gebak is nie.
Skep nou lepel vir lepel room bo-oor die rosies.
Laat genoeg tyd vir room om deur die lagies te syfer voor jy nog byvoeg.
Skep jy te veel, gaan dit oorkook, skep jy te min, gaan die aartappels droog bak.
Daar behoort plek vir twee eetlepels room per roos te wees
Bak vir 1 uur tot die aartappels sag en goudbruin bo is.
Indien jy na 45 min bang is dit bak te donker, bedek die pan vir die laaste 15 minute met foelie.
Laat effens afkoel en lig elke roos met behulp van bakpapier uit die holtes.