RANDREKKER IDEES

RANDREKKER IDEES
Rina Kleinhans:
Maak ‘n lekker groot pot “savoury” maalvleis, deel dit in drie, kerrie die een deel vir kerrie en rys, gebruik die ander in jaffels en dit wat oorbly maak lekker herderspastei, of so iets.
Vernon G Schoultz:
Ek werk op porsies, ons is 5 mense so ek koop wors en deel in 100 g stukke per persoon, maalvleis selfde, waneer ek burgers maak dan gebruik ek 350 g maalvleis, ek voeg of 1 koppie hawemout by of ek rol 3 snye brood in ‘n stywe bal en rasper dit by die maalvleismengsel. Voeg ‘n eier by en rasper ‘n ui in. Ek weeg die mengsel, jy kan tot 500 g se mengsel opmaak. Ek weeg dan 100 g patties af, as dit die week baie swaar is, maak ek 50 g patties en druk hulle net platter, die orige mengsel word gevries. Braai die patties en bedien met ‘n blik gebakte tamatiebone, ‘n blik tamatie- en uiesmoor en saam met rys eet.
Rina Kleinhans:
Pasta met tamatiesmoor is ook heerlik en heerlik Italiaans, ek sit nie eers vleis by nie en geniet dit regtig baie as jy net die sousie baie lekker maak.
Niekie Bushby:
Hoender is op dié stadium jou goedkoopste vleis. Probeer ook ander alternatiewe soos tamate gebaktebone, lensies, ens. om vleis te vervang. Souttert en slaai is vullend en nie duur nie. Kerriemaalvleis met gemengde groente in en rys jy kan die maalvleis rek met aartappelblokkies.
Reinett Mallinson:
Wat van mielies en bone of ‘n lekker pot sop. Jy hoef nie eers vleis in te sit nie. Die meeste slaghuise verkoop bene sonder vleis aan vir baie goedkoop. Dit gee lekker geur aan die sop.
Cornelia Marais Myburgh:
Ontbeende hoenderborsies saam met ‘n pak roerbraai groente, noedels en sous.
Marie Greeff:
Macaroni en kaas met tuna, met ‘n witsous en kaas.
Vernon G Schoultz:
Lensies maak ook lekker geregte. Kook 2 koppies lensies tot sag, braai 1 ui met groen soetrissie en tamatie. Voeg lensies en 1 blik vis by, bedien met gaar rys, is awesome en gesond. Die blokkies bergkaas maak die beste sous vir groente en selfs pasta met ‘n blik tuna by geroer. Smelt bietjie botter in ‘n kastrol, voeg halwe pak wit uiesoppoeier by of sampioen soppoeier en 125 ml melk en 375 ml water. Roer al die klonte uit en kook tot dit dikker word, voeg die bergkaas by en voeg die gekookte gemengde groente daarin. Ek maak dit met skywe aartappel in dan proe dit soos “potato bake”. Hoender breyani, maklik en goedkoop. 2 hoender dye gekook en ontbeen, 1 koppie gaar rys, 1 blik kerriegroente en 2 gerasperde uie. Braai die uie, voeg die hoender, rys en blik groente by, roer goed deur, verhit en voila, breyani ala armgat.
Annatjie Meiring:
Rysfrikadelle, die rys maak die maalvleis baie meer. Maak lekker tamatiesous en sit dan die frikadelle in die sous en kook gaar.
Christelle Grobler:
Maak macaroni en kaas met bully beef en gerasperde uie ipv maalvleis. Of meng 1 blikkie tuna met gaar rys, 4 eiers, ½ koppie mayonnaise en melk met gerasperde kaas (soortvan ‘n souttert) bak in in mikrogolf. Of meng een pakkie genipperde spek met groen soetrissie, uie en sampioene in ‘n witsous saam pasta. Jy kan selfs boerewors rek as jy dit skywe sny en saam met pasta, ‘n blikkie mielies en blik tamatie- en uiesmoor met titseltjie kaas oorgerasper.
Alet van Zyl:
Rek maalvleis met lensies… dis lekker! Ek maak baie vir ons worsbredie (soos ons dit maar noem)…Braai 1 ui liggies, 7 of 8 med aartappels, geskil en in blokkies gesny, sit bo-op die uie. Sny 1 kg boerewors in stukkies en sit bo-op die aartappels, voeg 500 g of 1 kg gemengde groente op die wors (van dié waar die wortels blokkies gesny is, Spar het ‘n so lekker no name brand wat heerlik sag kook en goedkoop is) Voeg 3 koppies water in die pot en kook tot die aartappels sag is. Meng 1 koppie water met ‘n pakkie bruin uiesoppoeier en 1 teelepel gemengde kruie (opsioneel). Voeg dit in die pot en kook deur. Bedien op rys. Dis heerlik! Die oorskiet is ook lekker op toebroodjies.
Sonja Young:
Jy kan ook ver kom met hoender, rek dit met groente of pasta.
Tina Botha:
Pasta is heerlik met gesnipperde spek, sampioene, tamatie, uie, viennas of maalvleis en groente en tamatie- en uiesmoor. Roerbraai rys met eier, gemengde groente en ‘n klein hoeveelheid hoender.
Janetta Reid:
Maalvleis in baie vorms is ‘n wenner, bv kerrie en rys. Ons maak soms pasta met net spek en sampioene. Pannekoek met ‘n vulsel.
Amanda Liebenberg:
Vetkoek en maalvleis, spaghetti bolognaise, macaroni en kaas, pannekoek (met of sonder vulsel)
Audrey Hudson:
Hoendermagies en hoenderlewertjies is baie goedkoop. Jy kan verskillente disse daarmee voorberei.
Susanna Kruger:
Ek vind dat maalvleis en hoender vir my baie opsies oopmaak en jy kom ver met dit en gaan so vir 2 dae op 1 ete wat jy “rek”.
Fransie Krige:
Ek kry soms goedkoop varksnitte, sny dit in stukkies en maak pasta of rys eenpotgereg of pap daarby. Ek rek dit met groente en kruie uit my tuin. Indien moontlik, begin ‘n tuin met die kinders dat hulle leer van verskillende groente en kruie, al is dit in potte of ou buitebande. Dit help vreeslik baie. Ek koop geen skoon maak middels saam met kruideniersware nie. Ek spaar en koop dan die 5 liter kanne skottelgoedseep en algemene skoonmaakmiddel om die hele huis skoon te maak. 2 kanne en ek kom maande uit, want mens verdun dit met water, dit spaar baie.
Rina Kleinhans:
Pasta en / of aartappels is baie vullend. Eintlik enige stysel en mens kan regtig kos baie rek daarmee. Maak net ‘n lekker groente vleissous daarby.
Hester von Bargen:
Wat van stampmielies en bone, gekook met lekker stukkies vleis
Frances Van Niekerk:
Macaroni and pilchards bake. Pork sausage stirfry.
Roelien Vogel:
Maak mieliepap en bedien met eier, maalvleis, hoenderstowe, lewer, hoendermagies of “bullybeef” met gebraaide uie en tamatie.
Joey Odendaal:
Blikkie tamatievis, pasta met witsous – kook pasta tot al dante, spoel af, vlok die vis, voeg gebraaide ui en groen soetrissie by. Maak ‘n witsous en voeg dit by die vismengsel, soveel soos verkeis. Bedien warm.
Hoenderbreyani – Kook hoenderborsies vir ‘n rukkie, voeg rys met ‘n breyanimengsel by en kook tot gaar. Kan lensies en / of ertjies byvoeg.
Alta Gunter Van Dyk:
Gevulde aartappels, tuna- of hoendergebak, herderspastei, bobotie, hoender met noodels.
Anchen Kobus:
Wanneer stowevleis op uitverkoping is kan jy lekker bredie maak, voeg daai eensame wortel (of enige groente) in die yskas ook by. Geniet dit saam met rys, pasta of fynaartappels. Die bietjie bredie wat oor is maak jy klein pasteitjies van en vries dit vir ‘n ander dag. Jy kan dieselfde doen met enige kerrie, hoender of maalvleis. Moet niks oorskiet weggooi nie, maak nog ‘n maaltyd daarvan. Jy kan baie met pasta doen. ‘n Blik tamaties en maalvleis of hoender met droë kruie en jy het ‘n lekker maaltyd. Jy kan ook groente byvoeg. Ek maak ‘hamburger pasta’ en dis heerlik en vullend. Braai maalvleis tot lekker bruin, amper “crispy”, voeg gerasperde murgpampoentjies by (optioneel, maar glo my jy proe dit nie). Voeg room by (ek vervang die room met hoenderaftreksel en melk) en bietjie gerasperde kaas. ‘n Goeie skeut tamatiesous, sout en peper na smaak en as jy het, Worcestersous. Meng die vleismengsel met gekookte pasta.
Riekie Combrink:
Koop hoenderborsies en ontbeen, met net 2 borsies opgesny kan jy ‘n hele pot kos maak. Meng byvoorbeeld met pasta. Vries die hoenderbene, wat baie min in borsies is en voeg dit by wanneer jy sop maak, vir smaak. Soja is ook ‘n goeie en gesonde plaasvervanger. Sterkte, ek weet dis moeilik om die rande te rek.
Retha Raath-Botha:
Russians of viennas in dun ringetjies gesny. Braai in olie met baie uie en growwe swartpeper. Kook blokkies aartappels en braai dit verder saam met die worsies en uie. Sprinkel bietjie gerasperde kaas oor en eet warm.
Nog ‘n opsie – Verwyder varkworsies se velletjie en sny in stukkies. Braai dit saam met uie en groen soetrissie en baie growwe swartpeper. Voeg 2 koppies rou rys by en braai vinnig vir een minuut. Voeg 2 gekapte ryp tamaties, 1 koppie of ½ bottel goedkoop witwyn (opsioneel), 1 liter hoenderaftreksel en sout na smaak by. Draai die plaat af en kook die gereg stadig tot die rys gaar is. Voeg nog bietjie hoenderaftreksel by soos nodig. Bedien warm.
Frikkie Jones:
Ek maak my eie hoenderaftreksel van geroosterde hoender, voeg fyn blokkies wortel, ui en sampioen wat gebraai is, ‘n ½ gepluisde gaar hoender en 1 pak pasta by die aftreksel. Kook tot die pasta gaar is en dit effens verdik. Ek weet nie wat om dit te noem nie, maar dis kragtig, geurig en spot goedkoop. Dis so tussen n sop en ‘n bredie, maar jy kan baie met dit kosgee.
Riette Perold:
Ek koop die groot blokke kaas wanneer dit bv 2 in 1 te koop is. Gebruik dit vir pasta, geroosterde kaasbroodjies en bo-op gebakte geregte. Kaasskons is altyd lekker. Lensiebobotie, gebraaide rys met uie, soetrissies, enige groente en bullybeef, hoender of stukkies kookvleis.
Antionette Steyn:
Spaghetti en maalvleis. Braai wors ‘n bietjie, sny in skywe en plaas terug in dieselfde pan. Voeg blokkies aartappels by verhit tot die aartappels gaar is. Maak ‘n sous van jou keuse en voeg dit by die wors en aartappels, bedien saam met pap. Melkkos is ook ‘n goeie opsie. Ek maak ook krummelpap en wanneer die pap amper gaar is, maak ek roereiers met bullybeef gemeng en bedien op die pap.
Muis Lee:
Hier is iets maklik en voer baie mense – Braai 1 ui in botter, voeg 1 lepel meel by en maak ‘n witsous met melk daarby. Voeg 1 blik fyngedrukte “bullybeef”, opgesnyde tamaties, tamatiesous, blatjang en soetrissiesous by na smaak. Kook die macaroni tot gaar en voeg bietjie speserye by. Meng die pasta met die bullybeef mengsel en whala! My konkoksie en my kinders vrek oor dit, wanneer ek gaan kuier, moet ek dit altyd maak.
Salma Louw:
Ek koop vark maalvleis en rek beesmaalvleis daarmee.
Cesra Nieman:
Goeie plan. Kan ook maalvleis met soya rek.
Ina Vrettas:
Maak ‘n pot pasta met maalvleis, dit kan 2 aande se maaltye wees. Groot bredies kan ook lekker werk vir 2 maaltye in die week, selfs melkkos ook.
Heidi Visser:
Jy kan dalk jou eie groentetuin begin, mens kan ver kom met dit as jy spinasie, beet, wortels, kool, ens. plant, net ‘n idee.
Frans van Rensburg:
My ma was ‘n foendie met pap en morogo. Sy kon morogo van selfs pampoen se blomme maak, of pampoenskille en dan natuurlik die regte een in die veld. Pap en eiers was ‘n aandete. Pap en tamaties was vingerlek lekker en ‘n ete opsigself. Ek het baie na skool pap en chips in die louoond gekry wat vir my wag.
Riette Perold:
Verdubbel maalvleis met soja en gerasper wortels. Indien tamaties duur is, gebruik die klein blikkies tamatiepasta om by te voeg. Heel hoenders is baie keer op uitverkoping. Kook ‘n paar heel hoenders tot gaar in ‘n pot en ontbeen. Kook rys in die hoenderwater tot gaar en meng dit met die hoender. Maak jaffels of pasteie van die hoender- en rysmengsel.
Ann Fouche:
Pap en eiers met ‘n heerlike sous. Hoenderlewertjies (kerrie) en spaghetti en verseker aartappels.
Babs van der Westhuizen:
Iets wat werklik goedkoop is, rasper 1 aartappel, 1 ui, 4 – 5 opgesnyde Viennas, 2 eiers, speserye en bietjie melk in ‘n mengbak en meng deur. Voeg 2 koppies bruismeel by en meng deur. Indien dit te styf is, voeg nog melk by. Bak lepelsvol in warm olie as vetkoekies. Jy kan ook oorskiet aartappelskyfies opkap en byvoeg by die beslag.
Louise Groenewald:
Leer om lekker Breyani te maak. Dis dood maklik en baie ekonomies.
Annelize Jorge:
Herderspastei kan ook vullend wees: Ek meng maalvleis met gekookte lensies en gevriesde gemengde groente by om dit te rek. Voeg tamatietiesous, blatjang, Worcestersous en bietjie souspoeier by vir geur.
Plaas kapokaartappels of fyngedrukte patats bo-op vir die bolaag. Bedien met roosterbrood (ek vat sommer ‘n knoffelhuisie en vryf dit oor die brood vir ‘n goedkoop knoffelbroodjie!) en slaai of groente.
Ek maak ook gereeld burritos:
Kook ‘n klompie rys (koue oorskietrys is ook reg). Soteer maalvleis en ui tot bruin. Voeg enige kruie en speserye by na keuse (knoffel, komyn, rissie, paprika ens). Voeg ‘n blikkie gebakte tamatieboontjies by.
Indien ek gaste kry en die resep moet rek, voeg ek gevriesde mielies en fyn aartappels by.
Skep die bonemaalvleis in ‘n sagte tortilla met ‘n skep rys. Rol op en rooster in ‘n warm pan. Strooi kaas bo-op en bedien met suurroom of avocado indien moontlik. Ek bedien dit met koolslaai (fyngesnyde kool, gerasperde wortel, klein stukkie ui en natuurlike jogurt ipv mayonnaise).
Sussie Nelie Delport:
Saggekookte blokkies aartappels, voeg stukkies wors by en kook tot amper gaar. Voeg gebakte tamatieboontjies en bietjie kerriepoeier by. Geniet saam met pap of rys, heerlik.
Liza Visser:
Maak groot potte bredies met lensies, samp, bone en sop. 2 stukkies “chuck” is genoeg vir baie sop of bredie. Koue vleise is duur p/kg en nie aldag gesond vir almal nie.
Ek hou vleislose Maandae. Maak kerrie kekerertjiesbredies met ‘n bietjie suurroom – jy kan met bietjie melk en asyn jou eie suurroom maak – laat dit oornag staan.
Bak self brode met papmeel, dis gesonder as koekmeel.
Jy kan selfs papballetjies maak, speserye of geurmiddels byvoeg en diepbraai vir ietsie anders.
Kyk na diepgebraaide mac- en kaasballetjies, baie ekonomies en lekker met ‘n slaai of selfs groente.
Pasta – koop penne of skulpies, kook vooraf en sny al wat ‘n slaaiding is, tot appel en 2 viennas, in vir ‘n hengse gesonde slaai.
Jy kan jou eie mayo maak met eier en olie, kyk op die FLR blog vir resepte. Meng mayo met kerriepoeier en heuning / stroop/ suiker en meng dit in ‘n pastaslaai.
Vir aartappels wat bietjie anders is, kook kwarte of wiggies in water met ‘n bietjie kerrie, borrie en asyn voor jy dit in die oond bak met groot stukke ander groentes (wortel, murgpampoentjies, uieringe ens.) met ‘n bietjie olie en speserye, meditereense speserye en roosmaryn maak dat kos baie luuks proe.
Plant kruie of groentes en tamaties, bone en kool in die tuin in dien moontlik.
Alet van Schalkwyk:
Roerbraai enige oorskiet vleis wat jy beskikbaar het (wors, hoender, maalvleis) saam met ‘n ui, soetrissie, wortel, kool, sampioene, vars pynappel of enige iets wat in die yskas is. Sit voor saam met gaar rys.
Vir iets anders, laat elkeen sy eie kos braai in ‘n pan oor die kole of skottelbraai. Dit het my al menig maal gered wanneer ek met min vleis, klomp mense moet kosgee.
Heidi Rose:
Ek koop gaar rotisserie hoenders. So 3 op n slag, dan ontbeen ek dit en sny meeste van dit op in klein stukkies, verdeel in porsies in zip lock sakkies en vrieskas toe met dit. Al die bene gooi ek in n pot met water en allerhande kruie en groente en laat dit baie stadig kook, vir so 4 ure, dit maak fantastiese lekker aftreksel. Dit trek al die goeie nutriente en smaak uit die bene. Ek vries die aftreksel in yshouertjies. Keer die blokies uit wanneer gevries en vries die los blokkies in ‘n zip lock sak. Gebruik dit vorentoe as die basis vir heerlike souse bv pastasouse. Moet niks weggooi nie, selfs hoenderbene kan weer bewerk word. Die gaar gevriesde hoenderporsies gebruik ek vir vele geregte wanneer benodig. Hoender is baie gesonder as rooi vleis.
Charmain Rabie:
Maak 8 x 200 g porsies
1 x 500 g pakkie maalvleis
¼ pak sampioene
1 ui
1 blik tamatie en basil
3 koppies pasta
1 pak Royco bolognaise “dry mix”
Foto: Charmain Rabie