TRIPPEL SJOKOLADE MOZART-KOEK

Veralda se Mozartkoektested
TRIPPEL SJOKOLADE MOZART-KOEK
500 g donker sjokolade
300 g wit sjokolade
100 g ongesoute botter
500 ml room
5 groot eiers, geskei (ek is outyds en glo eiers moet kamertemperatuur wees)
400 g neute (ek het okkerneute en Brazil neute gebruik, as jy pekanneute het, is dit net so goed)
158 ml suiker (ek gebruik strooisuiker vir meringue, as jy nie het nie, blits gewone suiker in jou ‘blitser’ vir ‘n fyner tekstuur)
2 eetlepels likeur (natuurlik moet dit Eine Kleine Nachtmuzik wees, as jy nie hou van dronk koek nie, los dit)
Donker sjokoladeroom:
Smelt 250 g van die donker sjokolade met die botter in ‘n dubbelkoker, roer ‘n eetlepel likeur by.
Klits die eiergele en voeg dit by die sjokolade, versigtig dat dit nie klonte maak nie en as die sjokolade te warm is, gaan die mengsel skif. Volgens my is dit die moeilikste stap in die hele resep.
Verwyder van die hitte en bedek met kleefplastiek of waspapier en plaas dit in die yskas vir ten minste 3 ure.
Wit sjokoladeroom:
Smelt wit sjokolade en 250 ml room in ‘n dubbelkoker soos hierbo.
Verwyder van die hitte en bedek dit met kleefplastiek of waspapier en plaas in die yskas vir ten minste 3 ure.
Sjokolade ganache:
Smelt die oorblywende 250 g donker sjokolade en oorblywende 250 ml room en roer tot glad.
Roer ‘n eetlepel likeur by en bedek dit met kleefplastiek of waspapier en verkoel.
Meringue:
Voorvehit die oond tot 120ºC.
Trek 3 sirkels die grootte van ‘n standaard losboompan op bakpapier.
Kap die neute fyn in ‘n voedselverwerker, maar nie te fyn dat dit ‘n pasta vorm nie.
Klits die eierwitte styf in ‘n skoon droeë glasbak en voeg die suiker geleidelik by terwyl aanhoudend klits tot ‘n blink en gladde voorkoms. Vou die gekapte neute by.
Plaas die sirkels waspapier op ‘n bakplaat, skep die meringuemengsel op die sirkels, maak gelyk met die agterkant van ‘n lepel en bak die meringues vir 1 uur in die voorverhitte oond. Indien die oond nie groot genoeg is nie, bak die meringues in sarsies. Hou dop dat dit nie brand nie.
Laat die gebakte meringues heeltemal afkoel en verwyder dit van die bakpapier.
Stapel die lae meringue:
Die sjokolade en die merigues moet goed afgekoel wees.
Klits die donker- en witsjokoladeroom to lig en romerig, NB nie die ganache nie.
Plaas ‘n meringuesirkel onder op ‘n opdienbord. Smeer  donker sjokoladeroom op die merigue.
Plaas die volgende meringue sirkel versigtig op sjokoladeroom en smeer wit sjokoladeroom op die meringue.
Plaas die laaste meringue sirkel op die sjokoladeroom en smeer versigtig die ganache bo-oor die koek en langs die kante. Verkoel die koek vir ‘n verdere 3 – 4 ure.
Nota- Die resep staan bekend as “Triple chocolate Mozart cake” en ek het dit Saterdagmiddag en aand gemaak sodat dit ordentlik kon “set”. Aan die einde van die resep, sal ek my wenke gee, maar as jy so luukse koek aanpak, maak seker dat die eters dit gaan waardeer, die bestanddele is duur. Ek het Lindt gebruik, praat nou van luuks, maar die wit was Milky Bar, Lindt was uit voorraad. Maar weereens, omdat ek geweet het my teikenmark gaan dit waardeer en dit was ‘n verjaardag geskenk. Moenie jou geld en tyd mors op die ‘Spar koekbrigade’ nie, en kinders gaan hulle neuse optrek, bak eerder vir hulle ‘n sponskoek met outydse versiersuiker.
Wenke wat vir my werk:
Vir die sjokoladeroom en ganache -ek maak die botter of room in die mikrogolf warm tot net onder kookpunt en roer dan die sjokolade blokkies by en hou aan roer totdat dit gesmelt is. Vir hoeveelhede groter as 250 g sjokolade, werk dit nie so goed nie, want die room of botter koel te gou af, dan sit ek dit vinnig op ‘n potjie kokende water. Ek is te bang om dit in die mikrogolf te plaas, want die sjokolade kan baie maklik ‘seize’ en teen die prys van Lindt vat ek nie daai kans nie
Ek het wel die eier in die donker sjokoladeroom gebruik, maar as ek dit weer maak, sal ek eerder nog room koop en dit op dieselfde manier as die wit sjokoladeroom maak en die eiergele vir iets soos crème patisserie of crème bruleé gebruik, defnitief minder moeite.
As jy die sjokoladeroom en ganachebedek met kleefplastiek of waspapier, plaas die plastiek /papier styf teenaan die mengsel om te verhoed dat dit ‘n velletjie vorm wat klonte maak as jy dit klits.
Moenie die neute te fyn of te lank kap nie, dit gaan te veel olie vrystel en ‘n pasta word. Die neute en meringue is wat tekstuur aan die koek gee.
Ek het nie ‘n ronde koek gemaak nie, die koek is baie ryk en as jy die wiggies klein probeer sny, raak die koek regtig morsig. Instede het ek ‘n langwerpige koek gemaak wat in ‘broodsnytjies’ gesny kan word.
Gebruik ‘n broodpannetjie om die meringue vorms af te trek, daar was genoeg meringue en sjokolade room vir 4 klein koekies ook.
Voer die broodpannetjie uit met kleefplastiek, laat dit oor die kante hang en sit die koek daarin aanmekaar tot voor die ganache-stap.
Vou die kleefplastiek toe en verkoel oornag, dit is natuurlik ook ideaal as die koek moet ‘reis’, dan sit jy die ganache by die finale bestemming oor en alles is nog heel en in een stuk.
Moenie in die versoeking kom om die meringue op waspapier te bak nie, meringue is wispelturig en sit soms vas sonder rede. Maak seker jy het bakpapier in die huis, dit maak jou lewe baie makliker.
Vir die ganache het ek 100 g van die donker sjokolade met ‘n plak lemoensjokolade vervang. Die lemoen balanseer die oordadige rykheid.
Bo-op het ek dun repies versuikerde lemoenskil gesit, eintlik het ek van daai lemoenmarmelade rolletjies in wielietjies gesny, die bitter van die skil en die stropie bring alles bymekaar.
As ek die koek weer maak, sal ek eerder my meringue met 8 eiergele maak en ook so 100 g neute byvoeg. Dan sal ek 5 meringue lagies maak en die sjokolade dunner smeer. Dit sal die koek ook meer elegant en indrukwekkend laat lyk as jy dit sny. Ek dink nie meer sjokolade is nodig nie, die lae was nogal dik.
Moenie in die versoeking val om die skyfies te dik te sny nie, dit is baie ryk en mens kan nie ophou eet nie.
Indien jy die gaste regtig wil beïndruk, kan jy individuele koekies maak in klein vormpies, daai blikkies waarin mens tamatiepasta koop sal perfek werk, maar hou dop wanneer jy die meringue sirkeltjies bak, dat dit nie brand nie en maak hulle effens kleiner sodat hulle mooi in die blikkies pas. Tunablikkies gaan heeltemal te groot wees.
Vir die klein koekies sal dit nie saakmaak as die meringue in die middel breek nie, maar die boonste en onderste lagies moet heel bly, anders gaan dit nie netjies lyk op ‘n bordjie nie en gaan die meringue soos ‘n sleggepleisterde huis lyk (myne het in elkgeval so gelyk).
Resep getoets: Veralda Schmidt