PETRE SE VARIASIE MUFFINS

petre se muffinstested

PETRE SE VARIASIE MUFFINS

Ek maak gewoonlik ‘n klomp muesli muffins wat ek wrap en dan vries. Wanneer ek onverwagste gaste kry of vinnig iets soets aanmekaar moet slaan, dan neem ek van die muffins, maak ‘n sjokolade brandewynsous of ‘n lemoensous, doop die muffins daarin en versier met roomkaas versiersel. Met die sjokolade brandewynsous proe dit net soos brandewyntertjies en met die lemoensous soos wortelkoek.

Muesli Muffins:
5 koppies meel
4 teelepels koeksoda
2 teelepels sout
4 eiers
1 liter karringmelk
½ pak Muesli (ek gebruik die een met die clusters in)
½ koppie kookolie
3 koppies suiker

Meng alles saam. Skep in muffinpannetjies en bak 15 tot 20 minute teen 160°C.
Maak 48 tot 50 muffins.

Sjokoladesous:
2 eetlepels botter
2 eetlepels kakao
melk of room
60 ml brandewyn
1 teelepel vanieljegeursel
1 opgehoopte teelepel vlapoeier
¼ koppie suiker
knippie sout

Smelt botter en roer kakao by soos vir ‘n witsous.
Meng die vlapoeier met melk en giet melk by die kakao mengsel.
Voeg sout en vla mengsel by.
Roer aanhoudend tot verdik, gooi nog melk by indien te dik.
Voeg die suiker by en kook tot gaar.
Gooi vanieljegeursel en 60 ml brandewyn by en roer goed.
Ek gooi maar melk by soos ek goeddink, dit is soos witsous maak, die stroop moet nie te dik wees nie, anders gaan dit nie behoorlik in die muffins intrek nie.

Lemoenstroop:
1 Liter lemoensap, vars of gebottel
11/2 koppies suiker
3 heel naeltjies
2 stukke kaneel

Kook tot dit ‘n dun stroop vorm. (kan ook ‘n bietjie brandewyn bygooi)

Foto en resep: Petré Van Jaarsveld