ROMERIGE BOTTERSKORSIE LASAGNE


ROMERIGE BOTTERSKORSIE LASAGNE
Bestanddele:
Vir die vleismengsel:
500g maalvleis
1 fyngekapte ui
2 teelepels fyn knoffel
250g gekapte sampioene
1 blikkie gekapte tamaties
2 teelepels droë oreganum
2 teelepels cuminpoeier
sout en peper na smaak
Vir die botterskorsie sous:
2 klein botterskorsies in blokkies gesny en sag gekook
125ml room
125ml gladde maaskaas
2 eetlepels meel
1 eier
handvol gerasperde Cheddarkaas om bo-oor te strooi
Metode:
Braai die gekapte ui in bietjie botter of olie tot sag en voeg die knoffel by. Braai die knoffel vir ongeveer een minuut en voeg die vleis by. Braai die vleis saam met die uie tot goed bruin en voeg die blikkie gekapte tamaties en bietjie water by. Geur met sout en peper, cumin en oreganum en prut tot meeste van die vloeistof verdwyn het. Braai intussen die sampioene in bietjie olie tot net gaar en voeg dit aan die einde by die vleis. Meng goed deurmekaar.
Maak die botterskorsies fyn en roer die meel deeglik daardeur. Plaas op ‘n lae hitte en roer die maaskaas daardeur dat dit goed deurgemeng is. Voeg die room by en roer tot ‘n sagte romerige tekstuur. Haal van die hitte af en roer die ligte geklitste eier daarby.
Spuit ‘n oondbak met nie-klewende sprei en smeer ‘n dun lagie botterskorsie room op die bodem. Plaas ‘n laag lasagne velle bo-op dit en smeer ‘n laag botterskorsie bo-oor. Skep dan ‘n laag vleismengsel en herhaal met lasagne velle, botterskorsie en vleis. Herhaal tot al die bestanddele opgebruik is maar eindig met ‘n laag botterskorsie en sprinkel ‘n laag Cheddarkaas daaroor. Bak by 180ºC vir 30 minute.
NOTA: Ek het vars lasagne velle gebruik van hierdie resep
http://www.foodloversrecipes.com/2015/06/vars-lasagne-velle/
en dit het vir my vier lae gegee.
Bron en Foto: Adam Cloete.