SPEK, KAAS EN SPINASIE TERT / SKONS / BROODJIE

          
SPEK, KAAS EN SPINASIE TERT / SKONS / BROODJIE
Foto 2: Daleen Rademeyer
Resep en foto 1: Esme Slabbert
Al moet ek dit nou self sê, dit ruik heerlik noudat dit warm uit die oond gekom het. Net afkoel dan het ons aandete saam met met ‘n heerlike groenslaai.
2 koppies bruismeel
knippie sout
1 teelepel bakpoeier
1 teelepel mosterdpoeier
2 koppies sterk Cheddar kaas (of enige skerp gegeurde kaas van jou keuse)
2 koppies gekrummelde spek stukkies, gaargemaak
2 handevol rou spinasie, fyn gesnipper
8 – 9 spriet uie, fyn gesnipper
500 ml karringmelk
2 eiers

Meng meel, sout, bakpoeier, mosterdpoeier, kaas, spek, uie en spinasie in ‘n mengbak.
Klits die karringmelk en eiers apart en meng dit by die meelmengsel.
Giet die beslag in ‘n bak wat gespuit is met kleefwerende kossproei of iets soortgelyks.
Bak in ‘n voorverhitte oond teen 360ºF / 180ºC vir +- 40 minute of tot gaar en goudbruin, wanneer ‘n toetspen skoon uitkom is dit reg.
Nota:
Esme Slabs – Ek wil net byvoeg dat ons dit gisteraand ge-eet het met ‘n slaai en dit was heerlik. Iets om te onthou: Jy kan dit beslis ook in ‘n kolwyntjie-pannetjie maak en gebruik as ‘n skon of broodjie en jy kan ook enige iets soos vleis en geurmiddels byvoeg, wat jy het, want dit is baie veelsydig en sal werk met wat ook al jy beskikbaar het.
Ek het dit wat oor was in blokkies gesny en in “snack” pakkies gesit en gevries vir die komende week.
Dalene Rademeyer – Ek het die resep probeer en net ‘n ¼ koppie olie bygevoeg. Uiteindelik het ek ‘n resep wat proe soos die muffins wat jy in koffiewinkels kry. Bak die muffins vir +- 20 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.